Malema se regsopsies finaal uitgeput

Julius Malema. (Foto: EFF/Twitter)

Julius Malema se herhaalde pogings om teen ʼn interdik te appelleer wat in 2017 deur AfriForum bekom is, het nou finaal misluk.

Dit beteken dat die interdik wat Malema en die EFF verbied om mense aan te hits om private eiendom te betree en onwettig te beset, staande en afdwingbaar is. Hy kan dus nie langer agter hangende appèlle skuil om dié interdik teen hom te ignoreer nie. Hy moet nou ook uitvoering gee aan verskeie kostebevele wat intussen teen hom gemaak is en die balju kan dalk weer binnekort aan sy deur klop.

In die jongste uitspraak dui die Konstitusionele Hof aan dat Malema se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys is, en dat die aansoek geen vooruitsigte op sukses het nie.

Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, het die uitspraak as ʼn “lekker wen” beskryf en sê dat dit ʼn einde aan die jare lange regstryd bring.

“Ons [AfriForum] het in 2017 ’n interdik teen hom [Malema] gekry vir aanhitsing om grondbesettings te pleeg. Hy het wakker geskrik toe die balju by hom opdaag om ’n kostebevel te laat uitvoer. Nou het sy appèlle finaal in die hek geduik. Die balju gaan binnekort weer vir hom kuier,” het Spies gesê.

Malema het hom vroeër tot die hooggeregshof in Pretoria gewend waar dié hof in Januarie vanjaar sy aansoek om verlof tot appèl teen die interdik van die hand gewys het. Die hof het ook gelas dat Malema AfriForum se regskoste betaal. Malema het hom toe tot die Konstitusionele Hof gewend om teen hierdie uitsprake te appelleer, waar hy nou ʼn finale bloedneus gekry het.

Die interdik ter sprake is in Maart 2017 aan AfriForum toegestaan nadat die EFF gedreig het om grond landwyd te beset.

Malema en sy party het oor die jare verskeie kere in die hof misluk en moes in November 2018 en Januarie 2019 twee betalings van onderskeidelik R126 703,59 en R108 960,79 aan AfriForum maak vir regskoste wat AfriForum aangegaan het om die saak in die hof aan te voer. AfriForum het die vyf kostebevele in vyf verskillende hofverskynings sedert Maart 2017 in die Noord-Gautengse hooggeregshof teen Malema en die EFF bekom. Na raming beloop die gesamentlike verskuldigde bedrag vir die vyf kostebevele sowat R550 000.

Spies het Woensdag aan Maroela Media gesê dat Malema hom destyds eerste tot die Konstitusionele Hof gewend het. Hy het gepoog om die hele wet op betreding ongrondwetlik te laat verklaar en probeer om die Konstitusionele Hof sover te kry om te bevind dat betreding uit die apartheidsjare dateer en dat die wet nie uitgevoer kan word nie.

“Die Konstitusionele Hof het toe reeds ʼn goeie uitspraak gelewer,” het Spies gesê.

“Die hof het gesê aanhitsing om ʼn ernstige misdaad te pleeg is ook ʼn misdaad. Betreding is geklassifiseer as ʼn ernstige misdaad omdat dit in die bylae tot die strafproseswet as ʼn ernstige misdaad beskryf word.”

Met dít in gedagte het AfriForum toe voortgegaan met die uitvoering van die interdik.

“Daar was ʼn kostebevel en ons het die balju gestuur. Uiteraard wil hy [Malema] nie die kostebevel wat ons destyds verkry het, eerbiedig nie.

“Dis die einde van die pad in hierdie saak. Die Konstitusionele Hof het daai boek nou toegemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.