Malema se tyd is verstreke; MRK moet nou hof toe

Julius Malema in die Wes-Kaap. (Foto: EFF/Twitter)

Nadat AfriForum en duisende van sy lede klagtes by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) ingedien het, gaan dié burgerregteorganisasie die saak fyn dophou om seker te maak dat die EFF-leier Julius Malema deur die MRK voor die gelykheidshof gesleep word oor uitlatings wat die MRK as haatspraak en aanhitsing tot geweld verklaar het.

Die MRK het op 8 November geskrewe kennis aan Malema gegee om binne tien dae die uitlatings terug te trek en daarvoor om verskoning te vra. Indien Malema dit nie sou doen nie, het die MRK verklaar om Malema gelykheidshof toe te neem om ’n tussentydse interdik te bekom. Malema en die EFF het egter intussen in ’n mediaverklaring die MRK aangeval en gesê hulle weier om die opmerkings wat die MRK as haatspraak bestempel het, terug te trek.

AfriForum het in Oktober 2022 klagtes by die MRK ingedien na aanleiding van Malema se uitlatings by die EFF se provinsiale vergadering in die Wes-Kaap. Malema het onder meer by die geleentheid gesê: “Julle moet nooit bang wees om dood te maak nie, ’n rewolusie vereis dat daar op een of ander punt doodgemaak moet word, want doodmaak is deel van die rewolusionêre daad.”

In samehang met die klagtes, het AfriForum sy meer as 310 000 lede gevra om ook klagtes via die organisasie se webwerf aan die MRK te stuur.

“Malema en die EFF glo duidelik dat hulle verhewe bo die wet is,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. “Dit is ongelukkig grootliks die gevolg van Malema en die EFF wat al vir jare wegkom met eskalerende vlakke van haatspraak en aanhitsing tot geweld.”

Van Zyl sê die MRK het hul woord gegee dat hulle Malema gelykheidshof toe sal neem indien hy nie binne tien dae op hul eise reageer nie. “Malema en die EFF het dit duidelik gemaak dat hulle nie hulself aan die MRK se eise steur nie, dus het die MRK nou ’n plig om hul belofte na te kom. AfriForum gaan hierdie saak fyn dophou.”

Steun AfriForum in sy stryd teen haatspraak by https://afriforum.co.za/stopmalema/#tab-strongaanhitsingtotgeweldstrong

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietertjie ·

Good luck! Die MRK het alreeds sy voetslepery gewys in hierdie saak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.