Man gestraf wat worshonde vir dood in motor agterlaat

Die honde was vir dae lank in die motor vasgekeer. (Foto: DBV Bloemfontein/Facebook)

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel.

Die man wat verantwoordelik is vir die dood van twee worshonde nadat hy hulle dae lank in ʼn warm motor gelos het, is twee jaar ná die gruvoorval skuldig bevind en gevonnis.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein sê Marco Terblanche het onlangs in die hof verskyn waar hy skuldig bevind is aan vyf aanklagte van dieremishandeling. Hy is ook ongeskik verklaar “om enige dier vir die res van sy natuurlike lewe te besit of in beheer van te wees”.

Hy sal vir die volgende 36 maande onder korrektiewe toesig wees, en meer as 300 uur lank gemeenskapsdiens by die DBV in Bloemfontein moet doen.

Die hof het ook Terblanche ʼn ses maande lange opgeskorte vonnis opgelê op voorwaarde dat hy aan alle aspekte wat verband hou met korrektiewe toesig gehoor gee.

“Die DBV in Bloemfontein is verheug dat geregtigheid vir hierdie gemartelde worshonde geskied het,” sê Werner Botha, ʼn inspekteur verbonde aan die DBV in Bloemfontein.

Botha is op 15 Oktober 2021 na die Bloemfonteinse openbare biblioteek ontbied ná gerugte dat honde in ʼn motor daar naby vasgekeer is.

Die venster van die motor is met Botha se aankoms gebreek, maar die twee worshonde was reeds dood. ʼn Nadoodse ondersoek op die honde het bevind dat albei aan “erge dehidrasie en sonsteek” dood is.

Met verloop van die ondersoek het dit aan die lig gekom dat die honde vir vyf dae in die motor vasgekeer was voordat hulle gevind is. Die temperature het gewissel tussen 30 °C en 35 °C in die tyd wat die honde vasgekeer was.

“Die eienaar, Marco Terblanche, het die honde op ʼn Sondag in sy motor gelos nadat hy baie drank ingeneem en dronk geraak het. In sy dronkenskap het hy vergeet waar hy sy motor parkeer het en die honde is dae later dood in die motor gevind,” sê Botha.

Botha het destyds die saak teen Terblanche aanhangig gemaak.

“Ek onthou nog duidelik die krapmerke teen die vensters van hoe die worshondjies probeer ontsnap het,” sê hy.

“Die honde het ook probeer om van die hitte en sonlig te ontsnap deur agter ʼn televisiestel en ʼn portret wat in die motor was te skuil.

“Ek kan nie aan ʼn wreder manier dink om dood te gaan as om in ʼn warm motor sonder kos en water vasgekeer te wees met geen manier om te ontsnap nie.”

Vonnis ʼn ‘oorwinning’

Botha sê hy is dankbaar vir die streng vonnis in verband met Terblanche se bevoegdheid om in die toekoms enige soort dier te besit.

“Hierdie vonnis is ʼn groot oorwinning vir dierewelsynswetgewing in Suid-Afrika,” sê hy.

“Dit word dikwels nie in dieremishandelingsake toegestaan ​​nie, maar dit stel nou ʼn presedent wat die regsbank in die toekoms sal lei om oortreders te vonnis,” sê hy.

Botha hoop dat die gemeenskapsdiens, wat by die DBV in Bloemfontein gedoen moet word, ook Terblanche sal wys hoe daar na diere omgesien moet word.

“Ek hoop dat sy werk met die diere vir Terblanche sal aantoon wat die gevolge van sy dade is en dat sy karakter deur die harde werk verbeter sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Zara ·

Ek het nie woorde nie, hoe aaklig en wreed is dit nie! Ek hoop jy besef wat jy aangevang het in jou dronkenskap!

Karoo ·

Baie baie dankie aan almal wat so hard aan hierdie saak gewerk het. Die hartseer dood van die 2 honde en die fonis van die man sal toekomstige saake versterk. Rus in vrede liewe hondtjies, julle lot was nie tervegeefs nie.

Delia ·

Baie dankie vir jou deursettingsvermoë totdat die man gevonnis is. Laat hy asb 300 uur werk en nie rondsit nie.

Euodia ·

Behoort hom te skaam. Hoe .moes daai kar nie gestink het nie. Hulle moes hom vir vyf dae in die kar toegemaak het sonder kos en water.

Nadine ·

Die straf wat die man gekry het is gans en al onvanpas. Hy moes ook toegesluit geword het sonder om die son gou weer te sien. As ‘n diere liefhebber dink ek sulke gevalle moet daar ‘n strenger vonnis gegee word. Hoe onmenslik kan mens wees. Die hondjies was afhanklik van jou gewees en wat doen jy gaan suip so dat jy nie eens kon onthou waar jy jou kar gelos het nie. Dit is sad baie sad waardeur daardie hondjies gegaan het tot die dag wat hulle nie meer kon nie. Nee man …..

Toffie ·

Daar is nie genoeg woorde om my woede oor die stuk uitvaagsel te verwoord nie. Sy gesig moet eintlik vertoon word.
Wat my verder ontstel is hoekom niemand nie al vroeër onraad vermoed het en die SAPD of DBV ontbied het nie.
Die arme arme honde

Jakes ·

Die straf is gewis totaal onvoldoende. Direkte tronkstraf sou n beter opsie gewees het

Rosie ·

Dit verbaas my dat niemand die honde gesien het en by die 2de dag die kar se ruit gebreek het of dit aangemeld het by die polisie nie. Was dit in n verlate straat waar niemand ooit kom nie?

Leona ·

Wil hulle asb ons n guns doen en n draai in Klawer Weskus kom maak. Hier is meer as 300 honde met brandsiek en erger en die eienaars trek net hulie skouers op.

OU SAAR ·

Hopeloos te lig gestraf.
Hy kan dankie sê ek is nie ń regter nie en dat ek nie sy fonnis toegestaan het nie. Hy sou nie so lig daarvan afgekom het nie.
Ons het 1 worshondjie, 1 minpin en 2 katte. Hulle is ons alles. Kan my nie die lewe indink sonder my 4 voetige babas nie. Wat nog te sê om hulle so wreed te moet verloor…
Dankie DBV.
As ek nie so emosioneel geraak het oor mishandelde diere nie, het ek by julle aangesluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.