Man in hof ná argument by kuierplek

Wayne van Zyl (Foto: Family Protection Association SA, Facebook)

’n 33-jarige man het Donderdag in die landdroshof in Klerksdorp, Noordwes, verskyn in verband met die moord op Wayne van Zyl (23), wat Sondag buite ʼn plaaslike kuierplek dood is.

Frikkie Jansen van Rensburg is op borgtog van R3 000 vrygelaat en die saak is tot 10 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.

Van Zyl is na bewering Sondag vroegoggend buite die Tipsy Cow-kuierplek in Klerksdorp aangerand en is op die toneel dood verklaar.

Die nadoodse ondersoek het aan die lig gebring dat ʼn aar in Van Zyl se nek beskadig is en dat hy gevolglik bloeding op die brein opgedoen het.

ʼn Betroubare bron het aan Maroela Media gesê Van Zyl, sy broer, Michael, en sy meisie, Shanice van Loggerenberg, het die aand by dié kuierplek gekuier.

“Die broers was glo buite die kuierplek in ʼn onderonsie met ander mense, onder wie Jansen van Rensburg, betrokke,” vertel die bron.

Van Zyl se dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Van Zyl het in 2018 aan Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp gematrikuleer.

ʼn Personeellid van die skool het aan Maroela Media gesê Van Zyl was ʼn besige leerder wat baie netjies, beleefd en ordentlik was.

“Hy het baie vriende gehad en was alom geliefd. Hy het kinders se harte aangeraak,” sê die personeellid.

ʼn Gedenkdiens vir Van Zyl word Vrydag om 10:00 in die Nuwe Lewe-kerk in Ametisstraat in Klerksdorp gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Koen ·

Dis mos hoekom party mense by die soort plek uithang. Vir ‘n lekker “onderonsie”. En hoe meer die dop hoe lekkerder die onderonsies. Word sommer gou ‘n “onderalmal”.

Hannelie ·

Miskien moet die man wat hom doodgeslaan het, sy diens more bywoon. Dat hy kan sien wat sy optrede doen….hoe ‘n familie rou oor ‘n geliefde en dit oor ‘n onnodige bakleiery

Di ·

Moord val deesdae seker onder dieselfde kategorie as diefstal as mens kyk na die borg wat toegestaan word. Die land se howe is in hulle glorie in

piet ·

Sover ek weet, moet ‘n formele borgaansoek gedoen word vir baie ernstige misdade, dis ‘n formele aansoek wat dan eers later aangehoor word (dis nie sommer vir net voorkom die eerste keer en op borg vrygelaat word nie). Lyk nie of dit hier gebeur het nie.

Danie ·

Jy slasn n man dood en kon voorsien het wat die gevolge kon wees.Ek stem nie met borg van 3000 saam nie. Hy moes maar ook vir 7 dae en langer gesit het soos al die ander.Ek hoop hy kry n goeie straf dat dit hopelik n voorbeeld vir ander kan wees met los vuiste en geen brein.

Windhond ·

Ek voel jou pyn, maar borg is nie n straf vir n beskuldigde nie, – die risiko van vlug is n groot faktor en ook as die persoon nie n vaste blyplek en werkplek het nie

VaalDonkie ·

Hy is nog nie skuldig bevind nie en is seker nie ‘n vlug-risiko nie. Sal maar moet sien wat kom van hierdie saak.

Herpiet ·

Wys asb die verdagte se gesig?
Hy het mos nou in die hof verskyn!

Oujongvrou ·

Hierdie man het nie beplan om iemand dood te slaan nie. So dis nie moord nie maar mansslag. En duidelik se hulle dat daar n bakleiery was met ANDER mense. So hoe is daar nou net 1 skuldige. Asb mense hou op regter speel en kyk liewer wat kom nog uit. E n waarsku ander om matigheid voor oe te hou. Drank is nie om meer te speel nie.

Harley Davidson ·

Hierdie man het nie die reg om iemand aan te rand nie punt.Hy het ‘n krimineel geword toe hy ‘n kriminele daad uitgevoer het.

VaalDonkie ·

Niemand sal kan oordeel totdat al die feite nie op die tafel is nie. Twee dronk afrikaners buite ‘n kuierplek is soos “when an unstoppable force meets and immovable object”.

piet ·

Daar’s verskillende vorme van opset en “beplanning” is nie nodig nie. So, sonder om verder tegnies hieroor te raak, hy kan skuldig bevind word aan moord. Kom ons veronderstel die slagoffer was nie gedood nie, dan sou die aanklagte eerder aanranding of poging tot moord wees in welke gevalle opset een van die elemente is (soos by moord).

Melli ·

Dis een van ons kinders se geliefde maat wat vandag gegroet word RIV Wayne en mag geregtigheid seëvier, sterkte aan sy ouers en naasbestaandes

Tredoux ·

Dit is wat gaan gebeur. Trane-dal en geweën. Jammer sê aan die familie met die Bybel gereed. n Pastoor gaan hom oor die vent ontferm en die vent gaan opnuut bekeer en sy lewe omdraai. En die ander outjie bly dood en sy familie bly stukkend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.