Man vasgetrek ná Kameeldrift-aanval

Wayne Farrell word gesoek vir moord en poging tot moord (Foto: Mike Bolhuis)

Die man wat glo saam met ’n vrou ʼn 47-jarige inwoner van Kameeldrift-Wes in Pretoria op sy kleinhoewe aangerand het, is vasgetrek. Die man word sedert Februarie gesoek.

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat Wayne Farrell Woensdag in Garsfontein, Pretoria, vir moord in hegtenis geneem is.

Bianca Burger, die skakelbeampte van die Groenlig-gemeenskapsprojek in Kameeldrift-Wes, sê dié suksesvolle inhegtenisneming is deur die ondersoekbeampte, kapt. Martin Smit van die Hercules-speurtak, gelei.

Sy vertel kapt. Smit het ook daarin geslaag om die gesteelde voertuig en televisie wat gebuit is, terug te vind en daarop beslag te lê.

Die vrou is verlede maand al in hegtenis geneem en haar borgtogaansoek is twee weke gelede van die hand gewys. Sy bly tans in aanhouding en haar naam is nog nie aan die media bekend nie.

Maroela Media het vroeër berig die inwoner het die paartjie en hul hond op 11 Februarie uit die “goedheid van sy hart” by hom ingeneem.

Hulle het hom glo die volgende Donderdag (17 Februarie) erg aangerand, vasgebind en vir die dood agtergelaat. Hulle het daarna met verskeie gesteelde items gevlug.

ʼn Familielid het eers twee dae later op hom afgekom. Hy was toe reeds erg gedehidreer.

Die inwoner se een werker is ook na bewering vermoor.

Farrell sal na verwagting Donderdag in die landdroshof in Pretoria op aanklag van moord verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

domheks ·

Kan nie glo dat hulle iemand wil vermoor wat net goed was vir hulle nie! Skuim van die aarde.

Clifford ·

Hulle is ‘n skande vir ons volk, hoop hulle kry lewenslange tronk straf.

RB ·

Ek wonder dikwels oor die boosheid van mense. Hoe intens boos moet jy wees om iemand wat vir jou goed is, sulke leed aan te doen?

In hierdie land het ons, veral vroeër jare, grootliks in ‘n ‘christelike skoolimgewing’ groot geword. Almal was nou nie ‘mense van die kerk’ nie, maar op skool is jy ook die waarheid geleer soos: doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê.

Hierdie paartjie se ouderdomme vertel my hulle was ook daardie tyd nog in die skool. Hul ouers verseker. Was daar dan ‘n gat in hul opvoeding of het hulle bloot alle redelike menslikheid en goedhartigheid oorboord gegooi in ruil vir boosheid?

Ongeag wat hier met hulle gebeur, daar wag ‘n plek waar die waarheid ontbloot sal word en hulle die gepaste gevolg sàl dra.

ES ·

Ek dink hulle het hom met ‘n slap riem gevang. Hulle motief was nie om by hom te bly nie maar om hom te roof en te vermoor. Waarskynlik dwelmverslaafdes…

Casper ·

As ek reg verstaan is dit twee moorde.Watter omstandighede regverdig borg.Die twee het die moorde met voorbedagte radeuitgevoer en moet nie borg toegestaan word nie.

Alma ·

Die vrou is borg geweier, hy sal ook tien teen een borg geweier word, aangesien hulle nie een n vaste adres het nie.

Janine ·

Ek moes nou eers van Google gebruik maak om te verstaan. :)

Mellivora ·

Casper, die man het dit gelukkig oorleef, dit is net sy werker wat vermoor is.
Of dit nou een of twee moorde is hulle behoort nie borgtog te kry nie want dit lyk nie asof daar enige twyfel is dat hulle die skuldiges is.

Johanna ·

Kan mens nog enige iemand vertrou? Dit is waarom mense nie meer hulle huise se deure vir ander wil oopmaak nie. Jy kan ook nir meer mense wat langs die pad staan oplaai of stop en help nie.

Swerwer ·

Geen genade, as mens tot op daardie vlak daal moet jy beslis nie in die sawelewing
wees nie.

Jan ·

Ongelukkig word mense se goedhartigheid nie meer deur die samelewing waardeer nie. Inteendeel, dit word gesien as “slapgatheid” en uitgebuit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.