Man wat motor met voete bestuur gevonnis

Skermskoot uit die video.

ʼn Man wat sowat ʼn jaar gelede opslae op sosiale media gemaak het toe hy sy luukse motor met sy voete bestuur het, is skuldig bevind en gevonnis.

Ikhalar Ul Haq (39), ʼn Pakistanse burger wat in Suid-Afrika woon, het in die Cullinan-landdroshof verskyn op aanklag van roekelose en nalatige bestuur.

Simon Zwane, woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), sê Haq is skuldig bevind en met R8 000 beboet of tronkstraf van agt maande opgelê. Sy bestuurslisensie is ook vir ses maande opgeskort.

Beeldmateriaal van Haq is destyds wyd op sosiale media versprei en wys hoe hy sy rooi Range Rover met sy voete te bestuur terwyl sy lyf by die venster uithang.

ʼn Besorgde motoris wat op die R573, oftewel Molotoweg, tussen Pretoria en Marble Hall in Limpopo gery het, het die voorval op sy selfoon vasgevang.

In die video kan gesien word hoe die motor van links na regs swaai en byna voor aankomende verkeer inry voordat Haq weer in sy motor klim en soos normaal aanhou ry.

“Dit was duidelik dat sy optrede roekeloos was en dat hy die lewe van motoriste in gevaar gestel het,” sê Zwane. Hy het bygevoeg dat roekelose optrede soos dié die hoofoorsaak is van noodlottige ongelukke.

Kort nadat die video die lig gesien het, het die RTMC, wat teen “alle vorme van gewetenlose gedrag op die paaie” optree, ʼn ondersoek van stapel gestuur en daarin geslaag om die motoris by sy onderneming op Marble Hall op te spoor.

Hy is ʼn week later in hegtenis geneem en na Kameeldrift-polisiestasie geneem waar hy amptelik aangekla is.

Die beskuldigde se verhoor is vertraag deur die dood van sy ma wat hom genoop het om na Pakistan te reis vir die begrafnis. Hy is egter eindelik gestraf vir sy optrede.

“Diegene wat by sulke optrede betrokke raak moet tot verantwoording geroep word sodat hulle die gevolge van hul wangedrag dra.”

Die RTMC het ʼn beroep op vakansiegangers gedoen om dié feestyd enige roekelose of nalatige bestuur by 083 293 7989 of [email protected] aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Prikkie ·

Ek het ‘n beter idee as R8k wat vir hom heel moontlik kleingeld is – deporteer hom.

Hennie ·

Die straf is nie swaar genoeg nie. Stuur hom terug Pakistan toe.

Frank John ·

Laat my terug dink as jong kind nog in laerskool toe ‘n vamilie lid van my op after sitplek gesit en bestuur het met toue aan die stuurwiel en baksteen op versneller.

Tante Toekie ·

Ek het Samil20 so bestuur met plaas patrollies, natuurlik met die dak af ;-)

Strandloper ·

N Buffel was die maklikste…mis daai dae…soveel makers het die duurste prys betaal verniet…

Danie ·

Ek wonder net hoekom en wie wou hy beindruk.?Daar is nie medisyne vir stupid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.