Mark Pilgrim het ‘ongelooflike impak’ gehad

Mark Pilgrim

Die enigste troos rakende Mark Pilgrim se dood is dat hy ʼn ongelooflike impak op Suid-Afrikaanse radio én onder die breër gemeenskap gehad het.

“Hy het dapper en in die openbare oog teen hierdie aaklige siekte geveg, asook inspirasie en hoop aan mense in ʼn soortgelyke posisie gegee,” het Lloyd Madurai, besturende direkteur van HOT 102.7FM, die radiostasie waar Pilgrim gewerk het, gesê.

Die bekende en geliefde radiopersoonlikheid is Sondag omstreeks 10:45 oorlede ná sy stryd teen kanker. Pilgrim het behandeling vir fase 4-longkanker ondergaan wat in Februarie verlede jaar by hom gediagnoseer is. Hy het moedig bly veg en duisende met sy positiewe ingesteldheid geïnspireer.

Pilgrim (53) is vreedsaam by sy huis oorlede met sy verloofde, Adrienne Watkins, aan sy sy.

“Ons is verpletter deur Mark se dood en hy laat ʼn enorme gaping in die HOT-familie, asook die breër radiobedryf.”

Nadat hy in die laat 1980’s sy voete op kampusradio gevind het, het Pilgrim sy professionele radioloopbaan in die 1990’s by 5FM begin. Hy was vir 10 jaar by die stasie voordat hy die volgende dekade gelyktydig op 94.5 KFM in die Kaap en 94.7 Highveld Stereo in Gauteng uitgesaai het.

Pilgrim het in 2014 by die gemeenskapstasie HOT 91.9FM aangesluit en twee SA Radio-toekennings gewen in sy tyd by die stasie. Toe ʼn nuwe kommersiële stasie in Julie 2021 in Johannesburg bekend gestel is, in die vorm van HOT 102.7FM, het Pilgrim by ʼn oggendprogram daar ingeskakel.

Mark Pilgrim en Adrienne (Foto: Mark Pilgrim/Facebook)

“Mark se wrang sin vir humor, gemaklike geaardheid en liefde vir alles wat ‘ou skool’ was, het naatloos met die musiek gemeng, en daar was ʼn oorspronklikheid aan die inhoud en aanbieding. Dit was net ʼn gehalteradioprogram met die perfekte toon vir daardie tyd van die dag.”

Pilgrim is in 2021 in die SA Radio-toekennings se heldesaal opgeneem. Hy het ook sy stempel in televisie afgedruk as aanbieder van talle spitstydprogramme. Hy was die eerste aanbieder van Suid-Afrika se weergawe van die “Big Brother”-televisiereeks.

Pilgrim was ook ʼn gesogte stemkunstenaar, gepubliseerde skrywer, seremoniemeester, korporatiewe DJ en motiveringspreker. Hy het ʼn BCom-graad in bedryfsielkunde en ʼn MBA van Edinburgh Business School gehad.

“Mark het soveel bereik en hy was net die volmaakte professionele persoon, wat ons bevoorreg was om dagin en daguit te sien,” sê Madurai. “Hy was werklik ʼn voorbeeld van hoe om ʼn gehalteradioprogram voor te berei en te lewer, deur slim deurdagte inhoud te balanseer met die musiek én ʼn sygladde aflewering.”

HOT 102.7FM het sy medelye met Pilgrim se familie en vriende betuig, en spesifiek met sy verloofde, Adrienne, en sy twee dogters, Tayla-Jean en Alyssa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Althes ·

My innige simpatie aan sy geliefdes in hierdie moeilike tyd

Katinka ·

53 Jaar is so jonk nog, ek haal my hoed af vir sy verloofde dat sy deur so ‘n moelike tyd saam met hom gestaan het. Jy moet hare op jou tande hê, dis ‘n stryd en geveg vir jou en jou familie tot die bitter einde, jy hou nie op veg en hoop nie, hoop om gesond te word. Sterkte aan almal, mag die Here julle troos deur die moelike tyd!

Mariana ·

Geen pyn, geen lyding meer. RIV Mark. Simpatie aan al sy geliefdes. Sterkte

Mellissa ·

Dit is ongelooflik hartseer……ek kan dit nogsteeds nie glo nie…

Janice ·

Wat ‘n hartseer dag vir SA. Innige simpatie met sy familie.

Wit Leeu ·

Innige simpatie aan die familie ! Hy was ‘n groot insperasie vir almal.

Skappie ·

Jammer om te hoor van Mark. Sterkte aan sy gesin en almal wat hom geken het, in hierdie moeilike tyd wat nog voorle. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.