Mark Pilgrim oorlede

Mark Pilgrim. (Foto: Instagram)

Die bekende radiopersoonlikheid Mark Pilgrim is Sondagoggend omstreeks 10:45 oorlede.

Lloyd Madurai, besturende direkteur van HOT 102.7FM, die stasie waar Mark gewerk het, het die nuus Sondag op Facebook bevestig en hom as “ʼn held en broer en geliefde radiopersoonlikheid” beskryf.

“Hy het moedig tot die einde sy stryd teen kanker gevoer.”

Mark is vreedsaam by sy huis oorlede met sy verloofde Adrienne Watkins aan sy sy.

“Die familie sê vir almal dankie dat hulle deel was van hierdie reis. Dat julle vir hom lief was en hom gevier het en hom altyd ondersteun het. Mark sal gemis word,” voeg Madurai by.

Pilgrim het behandeling vir fase 4-longkanker ondergaan wat in Februarie verlede jaar by hom gediagnoseer is. Hy het vroeg in Februarie op Facebook geskryf dat hy die afgelope ruk baie slaap aangesien sy lyf uitgeput is ná chemobehandeling en immunoterapie.

Hy het einde Januarie ook ʼn foto van homself gedeel wat wys hoe maer hy geword het.

Mark Pilgrim en Adrienne (Foto: Mark Pilgrim/Facebook)

Die bekende radioman is einde verlede jaar ná 64 dae in die hospitaal ontslaan. Fase 3-testikulêre kanker is 33 jaar gelede by Pilgrim gediagnoseer, maar hy was ten volle in remissie.

Pilgrim is in 2021 platgetrek deur Covid-19, en het sy knaende hoes aan dié virus of ʼn keelinfeksie toegeskryf.

ʼn Pulmonoloog het hom eindelik verwys, waarna skanderings onthul het dat hy longkanker het. Die kanker het ook reeds na sy limfnodes en bekkenbeen versprei.

Pilgrim en sy lewensmaat, Adrienne, het op Oujaarsaand verloof geraak nadat hy haar die jawoord gevra het. Hy het gereeld foto’s op sosiale media van Watkins en sy dogters, Tayla-Jean (12) en Alyssa (9) gedeel, en vertel hoe hulle hom in dié tyd ondersteun het.

Vroeg in Februarie het gerugte op sosiale media versprei dat Pilgrim oorlede is, maar Madurai het in daardie stadium bevestig dat daar geen waarheid in die gerugte steek nie. Die verwarring was glo die gevolg van ʼn Pilgrim-familie van die VSA wat op sosiale media ʼn inskrywing gemaak het oor die dood van hul geliefde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lillian ·

Jyt die stryd moedig gestry en die wedloop voleindig. Rus in Vrede, Mark.

Sonblom ·

Jy was positief tot jou stryd geëindig het. Rus nou in vrede Mark. Innige simpatie aan jou familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.