Marno se pad vorentoe nog onseker

Helga Muller by haar seuntjie, Marno. (Foto: Facebook / Helga Muller)

Marno Muller se geliefdes weet nog nie wat die pad vorentoe vir dié klein seuntjie sal inhou nie. Hulle is egter verheug en verlig dat hy ná drie weke onder verdowing eindelik wakker is.

Marno (5), wat einde verlede maand op ʼn glyplank by sy kleuterskool aan die toutjies van sy baadjie gewurg het, het Sondag nog erge onttrekkingsimptome gekry weens die medikasie waarmee hy die afgelope ruk in die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg behandel is.

Nadia Minnie, Marno se tannie, het Maandag aan Maroela Media gesê onttrekkingsimptome in dié omstandighede is normaal en te verwagte “omdat die medikasie nou uitwerk”.

Indien Marno wel enige breinskade opgedoen het, sal die omvang daarvan eers later bepaal kan word.

“Hy is in dié stadium maar soos ʼn pap babatjie. Hy kan nie sluk, self eet of praat nie.

“Die volgende stap is om hom vir ʼn MRI-skandering te stuur, maar ons weet nog nie wanneer dit sal wees nie. Die dokters wag ook vir die onttrekkingsimptome om te bedaar, dan sal hulle sy reaksies kan toets.”

Klein Marno Muller voor die ongeluk by sy kleuterskool in Brakpan. (Foto: Verskaf)

Minnie sê haar suster, Helga Muller, is tans baie emosioneel, maar verskriklik bly dat haar seuntjie wakker geword het.

“Ons weet nie wat om te verwag en wat die skade aan sy brein gaan wees nie. Ons hoop en bid vir die beste.

“Ons hoop is dat Marno ʼn normale seuntjie sal wees – weer die ou Marno.”

Minnie sê hulle is nie seker hoe lank Marno nog in die intensiewesorgeenheid sal wees nie. Haar suster sien vandag [Maandag] die dokter en dan sal sy meer inligting hê.

“Ons weet daar lê nog ʼn baie lang pad vir hom voor. Die dokters praat van arbeidsterapie, fisioterapie en spraakterapie. Wanneer dít sal begin en hoe lank hy nog in die intensiewesorgeenheid sal wees, weet ons nie.

“Die grootste stap is om nou te bepaal of hy reageer.”

Marno se geliefdes probeer intussen steeds geld vir sy behandeling insamel.

Volgens Minnie het hulle al twee hospitaalrekeninge van meer as R350 000 elk ontvang. Hulle wag nou op die derde een.

“Ons het nog nie eers genoeg geld om die eerste rekening te betaal nie.”

Enigeen wat tot Marno se mediese onkoste wil bydra, kan Minnie by 078 249 1971 kontak.

Muller het vroeër aangedui dat daar drie bankrekeninge is waarin bydraes vir Marno inbetaal kan word, naamlik die liefdadigheidsorganisasie Hemelse Pêrels NOC, Angels who Care NPC (wat deur Minnie bedryf word) en die hospitaal se rekening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swerwer ·

Sterkte, jul bly in ons gebede. Moet net nooit moed verloor nie, by ons Hemelse Vader is alles moontlik.

Christelle ·

Ons bly bid en vra vir God om in te gryp met Marno se hele bestaan. Baie sterkte aan sy ouers en familie.

Miena ·

so wonder ek nou net… waar is al ons SA Afrikaanse sangers en sangeresse? kan hulle nie maar n konsert hou t.b.v. befondsing vir die kindjie nie en die fondse vir die Hosp aangee dan? Wat van hou dit naby die Hosp ook sommer in Brakpan- daar in n veld. Dalk kan hy nog as hy hard probeer nog saamluister na die gesingery vir hom…

Hercules ·

may the healing hand of Jesus rest upon Marno, may Your life-giving powers flow into every cell of Marno’s body and into the depths of his soul and spirit, cleansing, purifying, restoring him to wholeness and strength for service in the Kingdom of Abba Father, Amen!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.