Masels: Geen rede vir pandemiepaniek nie

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Die meer as 400 gevalle van masels wat sedert Oktober verlede jaar in vyf Suid-Afrikaanse provinsies aangemeld is, het dié hoogs aansteeklike siekte opnuut in die kollig geplaas.

“Die koronaviruspandemie is nog vars in die geheue én hernieude berigte van nuwe variante en Covid-gevalle, asook internasionale reisbeperkings vir mense uit lande soos China, plaas talle onmiddellik op die verdedigingsvoet. ’n Mens is geneig om dadelik die ergste te vrees: Lê inperkings opnuut en loer? Is maskers dra en afstand hou binnekort weer ons voorland?” sê dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park.

“Dit is daarom te verstane dat onlangse uitbrekings soos aappokke en masels mense bekommerd laat,” sê Lombard. Meer as 85 000 bevestigde gevalle van aappokke (ook bekend as mpox) en 86 sterftes hieraan is luidens die jongste verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in 110 lande aangemeld. Hiervan is slegs ’n handjievol gevalle en geen sterftes in Suid-Afrika aangemeld nie.

Masels maak amok

Die jongste plaaslike uitbreking van masels het in Oktober 2022 in Limpopo begin en daarna na die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga versprei. Veral kinders tussen vyf en nege jaar oud het positief vir die maselsvirus getoets, terwyl dit ook by babas en volwassenes bespeur is, aldus die Nasionale Instituut vir Oordragbare Siektes.

Volgens Lombard moet ’n mens in gedagte hou dat die wiele van (normale) inentingsprogramme vir bykans twee jaar tot stilstand geknars het. Luidens ’n verklaring deur die WGO en die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer en -voorkoming het 40 miljoen kinders wêreldwyd die maselsentstofdosis in 2021 gemis. Hiervan het ’n geraamde 25 miljoen kinders hul eerste inenting gemis en 14,7 miljoen hul tweede inenting. Nagenoeg 9 miljoen maselsgevalle is wêreldwyd in 2021 aangeteken en 128 000 mense is hieraan dood. Grootskaalse maselsuitbrekings is in 22 lande aangemeld.

Spuit nooit te laat nie

Masels is ’n hoogs aansteeklike virusinfeksie wat veral kinders raak en deur inenting voorkom kan word. Met slegs 81% van kinders wêreldwyd wat hul eerste inenting ontvang, en slegs 71% wat die tweede entstof ontvang, gaan dit egter nog ’n geruime tyd duur om die teiken van 95% – om kudde-immuniteit te bewerkstellig – te bereik. Daarom sterf tot soveel soos 200 000 kinders jaarliks nog aan dié siekte.

“Terwyl entstowwe teen Covid-19 in ’n rekordtyd ontwikkel is en in die grootste inentingsveldtog in die geskiedenis uitgerol is, is roetine-immuniseringsprogramme erg ontwrig. Dit het veroorsaak dat miljoene kinders lewensreddende inentings teen dodelike siektes soos masels misgeloop het,” sê dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO.

Lombard stem saam en moedig ouers aan om hul kinders te laat inent. “Dit is nooit te laat om jou kind te laat inent nie. Kinders ouer as ses maande kan die entstof gratis by die plaaslike kliniek ontvang en die Departement van Gesondheid en provinsiale gesondheidsowerhede beplan voorts om verskerpte inentingsveldtogte uit te rol,” sê hy.

Tekens en simptome

Volgens Lombard verskyn simptome ongeveer 10 tot 14 dae ná blootstelling aan die virus. Tekens en simptome sluit in koors, droë hoes, loopneus, seer keel en ontsteekte oë (konjunktivitis). Daarby ook klein wit kolletjies met blouerige, wit middelpunte teen ’n rooi agtergrond binne-in die mond, op die binnekant van die wang (ook genoem Koplik se kolle) en ’n veluitslag wat bestaan uit groot, plat vlekke wat dikwels inmekaarvloei.

“Masels begin tipies met ’n ligte tot matige koors, dikwels met ’n aanhoudende hoes, loopneus, ontsteekte oë (konjunktivitis) en ’n seer keel. Dit kan twee tot drie dae duur. Die uitslag bestaan uit klein rooi kolletjies, waarvan sommige effens opgehewe is. Kolletjies en knoppies gee die vel ’n vlekkerige rooi voorkoms en kom gewoonlik eerste op die gesig voor.

“Oor die volgende paar dae versprei die uitslag na die arms, bors en rug, dan oor die dye, onderbene en voete. Terselfdertyd styg die kind se koors skerp, dikwels so hoog soos 41 oC. Die uitslag kan ongeveer sewe dae duur, waarna dit eers geleidelik van die gesig en laastens van die dye en voete af verdwyn. Soos die ander simptome van die siekte verminder, kan die hoes en verdonkering of afskilfering van die vel waar die uitslag was, vir ongeveer tien dae voortduur,” sê Lombard.

’n Persoon met masels kan die virus vir ongeveer agt dae na ander versprei – vanaf vier dae voor die uitslag verskyn tot wanneer die uitslag reeds vir vier dae teenwoordig is. “Raadpleeg jou dokter as jy vermoed dat jou kind aan masels blootgestel was of ’n uitslag of simptome het wat jou onraad laat vermoed. Die belangrikste en beste verweer is om te verseker dat jou kind se immuniserings op datum is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.