Masels-uitbreking in Wes-Kaap bevestig

Die departement van gesondheid het vroeër ‘n groot veldtog van stapel gestuur om kinders teen masels te laat inent. (Foto: Maroela Media)

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het die nasionale departement van gesondheid en die Wes-Kaapse provinsiale owerheid in kennis gestel oor ʼn toename in laboratorium-bevestigde gevalle van masels.

Vier gevalle is tussen 24 Januarie en 17 Februarie in Kaapstad aangemeld. Alhoewel die gevalle almal ondersoek is, kon geen epidemiologiese verbinding bevestig word nie.

Volgens WGO-Afro word ʼn masels-uitbreking bevestig met drie of meer gevalle van masels (waarvan minstens twee in ʼn laboratorium bevestig moet word) in ʼn gesondheidsdistrik bevolking ongeveer 100 000) in ʼn maand se tyd.

Masels se simptome sluit in koors, ongesteldheid, hoes, bindvliesontsteking en ʼn loopneus. ʼn Makulopapulêre uitslag, wat nie jeuk nie, verskyn ook op die gesig, nek, lyf, arms en bene – gewoonlik op die vierde dag van die siekte. Ander komplikasies sluit in longontsteking, skade aan die kornea en in seldsame gevalle harsingontsteking.

Masels is hoogs aansteeklik en versprei vinnig van persoon tot persoon. Persone van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie, kan masels kry. Masel-entstof word gewoonlik op ses en 12 maande toegedien, maar dit is nooit te laat om teen masels ingeënt te word nie.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het intussen gesê opnames is reg oor die provinsie verskerp en gesondheidswerkers staan gereed om entstof toe te dien. Kinders se Road-to-health-boekies word ook nagegaan om seker te maak dat masels-inentings toegedien is.

Daar is tans in alle distrikte in die provinsie ʼn inentingsveldtog om die verspreiding van masels te beheer – ʼn siekte wat maklik voorkom kan word.

Sedert 6 Februarie is 168 056 masels-inentings reg oor die provinsie toegedien. Kinders jonger as 15 word gemaan om ingeënt te word. Geen kind in ʼn skool of ʼn kleuterskool sal egter ingeënt word tensy die ouer of voog skriftelike toestemming verskaf het nie, sê Sonia Botha, koördineerder van die uitgebreide program oor immunisasie (EPI) in die Wes-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lydia ·

4 Gevalle, en dit is nuus. Begin die Media nou al weer met ‘n volgende Covid geval om mense op hol te jaag.

Anna84 ·

Lydia, dis slegs in die Wes Kaap, daar is reeds in ander dele van die land heelwat gevalle aangemeld. Ek verstaan net nie hoekom die media nie daaroor moet berig nie??? Môre kry jy of een van jou familielede dit en dan is jy weer kwaad omdat niemand niks daaroor gesê het nie. Masels is baie gevaarlik vir veral swanger vroue, so ek dink dit is belangrik dat daaroor berig word.

Jaco ·

Nogal in die Wes-Kaap, daar waar “die rassaiese DA” in beheer is. Môre oormôre word die hele Wes-Kaap weer onder kwarantyn geplaas en strande gesluit, met “ons beveg net masels” as verskoning. Eintlik maar net om die DA en wit mense en wit besighede in die Wes-Kaap seer te maak. Daars mos nou al genoeg geoefen vir dit tydens die Covid-19 pandemie.

Jaco ·

Nogal in die Wes-Kaap, daar waar “die rassistiese DA” in beheer is. Môre oormôre word die hele Wes-Kaap weer onder kwarantyn geplaas en strande gesluit, met “ons beveg net masels” as verskoning. Eintlik maar net om die DA en wit mense en wit besighede in die Wes-Kaap seer te maak. Daars mos nou al genoeg geoefen vir dit tydens die Covid-19 pandemie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.