Mashatile ‘onkundig’ oor grondkwessie  

Adj.pres. Paul Mashatile (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Indien adj.pres. Paul Mashatile werklik in die bespoediging van grondhervorming belanggestel het, sou hy lankal meer gedoen het om onder meer die betrokke departement te konfronteer oor sy versuim om ʼn lys van grondeise ingevolge ʼn hofbevel openbaar te maak.

Só het Saai Maandag in reaksie op Mashatile se jongste uitlatings oor grondhervorming in Suid-Afrika gesê, wat volgens dié organisasie ʼn duidelike aanduiding van Mashatile se “onkunde” is.

Mashatile het Donderdag tydens ʼn sessie in die Nasionale Raad van Provinsies oor hoe beplanning en samewerking tussen die drie regeringsfere verbeter kan word, gesê dat “die uitwis van onbillike en ongelyke patrone van grondeienaarskap in die land bespoedig moet word”.

Volgens Mashatile is grondeienaarskap van kernbelang vir die verwesenliking van die doelwitte van ekonomiese insluiting, voedselsekerheid, maatskaplike samehorigheid, inklusiewe stadsbeplanningspatrone en landelike ontwikkeling.

“Dit is ’n kwessie van maatskaplike geregtigheid en die oplossing daarvan sal ons ook help om ander probleme soos onwettige grondbesettings te takel,” het Mashatile gesê.

Hy meen die regering en aangrensende grondeienaars word finansieel en polities die hardste deur grondbesetting getref, en sê Suid-Afrika sal ʼn balans moet vind tussen die “wetlike verpligtinge met betrekking tot respek vir eiendom” en die “noodsaaklikheid van maatskaplike geregtigheid”.

“Mashatile hamer op ‘maatskaplike geregtigheid’, maar swyg oor die gebrek aan geregtigheid in strafsake en siviele sake waarby ANC-hooggeplaastes betrokke is en wat al meer as ʼn dekade in ons howe sloer,” het dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, gesê.

“As Mashatile hoegenaamd in die bespoediging van grondhervorming belanggestel het, sou hy die betrokke departement gekonfronteer het oor sy versuim om aan ʼn hofbevel oor die openbaarmaking van ʼn lys van grondeise te voldoen. Hy sou Saai se aandrang op deursigtigheid van huurarbeidereise ondersteun en aangedring het op ʼn verduideliking van waarom begunstigdes van die herverdelingsprogram toenemend van huurgrond afgeskop word om plek te maak vir kaders met goeie bande.”

De Jager sê Saai se gereelde terugvoer aan ambassades oor die stand van grondhervorming bewys onomwonde dat grondhervorming nie vertraag word deur die beginsel van “ʼn vrywillige verkoper” nie, maar eerder deur ʼn “hopeloos onbekwame en korrupte koper”.

“Staatsondernemings, openbare gesondheid en soveel ander staatsfunksies het nie vanweë oorgeërfde of eksterne faktore ineengestort nie, maar weens kaderontplooiing en gepaardgaande korrupsie en onvermoë.

“Net so is die mislukking van grondhervorming die gevolg van ondoeltreffende praktyke in die betrokke departement. As die adjunkpresident grondhervorming wil regruk, sal dit hom goed baat om in die departement te begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kokerboom ·

Weerspieeling van ANC se totale gebrek aan insig en begrip en lewer nuttelose politieke gewildheidskommentare!

Eugene ·

Ramp-phosa sal sorg dat Sy chommies se korrupte sake toegesmeer word. Gelukkig weet ons van beter.

Koos 100 ·

Saai. Die ANC het net twee snare op hul kitaar, grond en apartheid. Laasgenoemde is bietjie uitgerek, nou kan hulle net op een snaar speel. Hou in gedagte dat 2024 ‘n verkiesingsjaar is en vir die afgelope 30 jaar kon die ANC niks aan hul kiesers bied nie. Net die kaders se sakke het gegroei.

Vettiemaragartos ·

By die vorige prokureursfirma waar ek gewerk het was ons op die Departement van Landbou se paneel en het baie oordragte gedoen waar die staat plaasgrond aangekoop het en direk oorgedra het na voorheen benadeelde persone . Die plase is binne ‘n kwessie van ‘n jaar in die grond in bestuur en het die Departement toe die besluit geneem om die grond op hul eie naam te registreer en dan voorheen benadeelde persone daar te laat boer en as hul nie presteer het nie, is ‘n eiendom aan die volgende lotte oorhandig. Selfs die plan het nie gewerk nie want na ‘n jaar was dit ‘n bestaansboerdery.
Baie van die eiendomme is nou weer aan kommerseële verkoop en floreer die boererye weer nadat dit weer van die grond af opgebou moes word.

WILLEM ·

Ontplooing van onbevoegde kaders. Hoe moet mens dit aanvaar??

Chris ·

Is dit maar al waaroor hy onkundig is? Die regime krap waar dit nie jeuk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.