Matie glo op kampus verkrag

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

ʼn Student aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn klag van verkragting by die polisie aanhangig gemaak nadat sy glo op die universiteit se kampus seksueel aangerand is. Die daad is na bewering deur ʼn medestudent gepleeg.

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, sê die slagoffer het Woensdag ʼn saak teen die beweerde oortreder gemaak en die polisie het die verdagte kort daarna in hegtenis geneem.

Die slagoffer is by die Stellenbosch- provinsiale hospitaal ondersoek waar sy ook van die nodige medikasie, sorg en primêre berading voorsien is.

“Daar is hoegenaamd geen plek in ons samelewing of op ons kampusse vir enige dade van geweld nie,” sê Viljoen.

“Ons harte gaan uit na die slagoffer van die beweerde verkragting.”

Dit is nog nie duidelik wat die omstandighede rondom die verkragting was nie.

Benewens die feit dat die verdagte reeds in hegtenis geneem is, beplan die US ook self om stappe teen die student te doen.

“In ooreenstemming met die US se gevestigde prosedures en protokolle sal die universiteit die beweerde oortreder uit sy koshuis skors, hangende verdere interne en kriminele ondersoeke deur wetstoepassingsowerhede,” sê Viljoen.

“Hierdie aangeleentheid is nou ʼn kriminele saak en die wet moet sy loop neem.”

Prof. Hester Klopper, viserektor: strategie, globale en korporatiewe sake, het die jongste voorval ten sterkste veroordeel en meen dat die US nie geslagsgebaseerde geweld in enige vorm duld nie.

“Net soos my kollegas in die rektoraat is ek persoonlik ten diepste verbind tot hierdie saak,” sê sy.

“In pas met ons beleid vir onbillike diskriminasie en teistering sal ons steeds harder werk om ʼn omgewing te skep wat vry is van geslagsgebaseerde geweld en om gelyke regte vir almal te bevorder.

“Menswaardigheid moet en sal altyd ononderhandelbaar wees by die Universiteit Stellenbosch. Menswaardigheid moet gerespekteer en bevestig word, maar ook herstel word wanneer daarop inbreuk gemaak is, ongeag die oortreding en sonder enige vrees vir of beskerming van die beweerde oortreder.”

Die US het die afgelope week opslae gemaak nadat ʼn student oor die naweek op ʼn ander student se besittings in een van die universiteit se manskoshuise geürineer het.

Die beweerde urineerder is reeds voorlopig geskors en uit Huis Marais geskop. Die student wie se besittings beskadig is, het ook ʼn strafsaak teen die betrokke student gemaak. Die Menseregtekommissie (MRK) het ook intussen bevestig dat hy klagtes rakende die voorval ontvang het en nou die saak ondersoek.

Sedert hierdie voorval aan die lig gekom het, wat deur talle as rasgedrewe bestempel is, het ander studente aan die universiteit ook na vore gekom met beweerde rassistiese voorvalle.

Volgens berigte is ʼn Indiese student glo rassistiese aanmerkings toegesnou en beledig tydens ʼn dans wat Donderdag plaasgevind het. Die US se regsfakulteit ondersoek nou hierdie voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Pietertjie ·

US is lankal nie meer die instelling van geletterdheid waarop ons trots kan wees nie. Soos die res van die land verrot dit van binne. Ek is skaam dat my naam op die alumni lys verskyn.

Danny ·

Gelukkig vir plekke soos Sol-Tech en Akademie waar ons mense veilig is en kan opbou!

PieterJ ·

Ek het hulleal geblok vandat hulle ook inentings verpligtend gemaak het.

Marius ·

Sodra daar besopenheid en studente, wat bekend is om erg droogmaak as pret te sien, betrokke is dan betwyfel ek dat dit ras gedrewe is. Die wat rassisme skree moet ondersoek word en daar sal heel waarskynlik gevind word dat hulself rassiste is. Rassisme het ‘n politieke speelveld geword.

Staal ·

Stem saam. Wonder of hul weer deur die strate gaan hardloop en die Madiba ” shuffle” doen.

JohanR ·

Ek sal as ek 18 was en klaar matriek geskryf het by Elsenberg gaan studeer. As jy daar klaar is kan jy enige plek in die wereld to reis en in landbou werk. In other words you have a TRADE. Dink hoe lekker op ‘n wyn plaas in Frankryk, Italia of Kalofornia? Stellenbosch universiteit is besig om te verrot!

Andrew ·

Daar is dit nou, die verval begin soos n klein sneeubal. Teen die tyd dat dit onderkom is dit so gtoot dat dit in skukke spat as dit die rots daaronder tref. Dink die bal is verby die punt van sy spoed breek.

Witbaard ·

Die messe is nou in vir die US. Hulle word nou erg dopgehou

Misky ·

Sjoe, US is deesdae baie in die nuus en vir al die verkeerde redes. En dit het alles by die beskerming en behoud van ons taal begin.

Hennie Biebouw ·

“Benewens die feit dat die verdagte reeds in hegtenis geneem is, beplan die US ook self om stappe teen die student te doen.” ? Voor of na die uitkoms van die hofsaak bekend is?

Bestaan “onskuldig tot skuldig bewys” nie meer in akademia se woke samelewing nie?
Verkragting en verkragters hoor nie ‘n ‘n beskaafde samelewing nie, maar vader weet, in ‘n beskaafde samelewing het almal die reg tot ‘n regverdige verhoor.

‘n Media boendoe-hof skep beslis nie ‘n klimaat vir ‘n regverdige verhoor nie.

Harley Davidson ·

Solank daar net nie op iemand se tafel gepie is nie.

Althes ·

Waarom is daar nie ñ massa histerie oor die verkragter nie? Is hy ook wit?

Rina ·

Hoekom word die oortreder se naam nie ook uit volle bors uitbasein nie soos met die ander saak nie of word die arme bloeitjie se eer beskerm sodat hy sonder onderbreking verder kan gaan studeer

nellaj413 ·

Dit blyk die skade en rasisme insident kry meer aandag as doe verkragting wat in my opinie baie erger is, ten minste is hy nie fisiek skade aangedoen nie. Waar gaan die samelewing heen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.