Maties-ondersoek: Rektor ‘van enige blaam onthef’

Prof. Wim de Villiers. Foto: US

Die ondersoek na prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), het hom van enige blaam onthef.

Daar is beweer dat De Villiers op ʼn onvanpaste wyse probeer het om vir regter Edwin Cameron van die Konstitusionele Hof te oortuig om die universiteit se nuwe kanselier te word terwyl Cameron die hofsaak teen die US se taalbeleid om Afrikaans prakties af te skaf, aangehoor het.

ʼn Klag is in dié verband ontvang waarna die uitvoerende komitee van die universiteitsraad ʼn resolusie aanvaar het om ʼn onafhanklike ondersoek te gelas.

Die universiteit het regter Burton Fourie aangestel om die ondersoek te hanteer. Regter Fourie se verslag oor die ondersoek is Maandag by die laaste raadsvergadering van die jaar ter tafel gelê.

Regter Fourie het bevind dat “daar geen bewyse was ter ondersteuning van ’n bevinding dat die optrede van die rektor rakende die nominasie van oudregter Cameron vir die amp van kanselier van die Universiteit Stellenbosch ’n ernstige oortreding van die reg, of ernstige wangedrag uitgemaak het nie”.

Hy skryf in die verslag: “Dit is my siening dat die [bogenoemde] feite en omstandighede, en veral die optrede van die rektor, holisties beskou, nie aanleiding gee tot ’n redelike besorgdheid oor vooroordeel aan die kant van regter Cameron weens beïnvloeding deur prof. De Villiers nie. Die bewyse toon hoogstens dat die rektor, soos hy verplig was om te doen, gehelp het – en selfs die leiding geneem het – om geskikte kandidate vir die nominasie van ’n nuwe kanselier te identifiseer.

Regter Edwin Cameron is as die nuwe kanselier van die Universiteit Stellenbosch aangewys. (Foto: US)

“Regter Cameron, aan die ander kant, het homself eers vir nominasie beskikbaar gestel nadat toestemming van adv. Heunis namens Gelyke Kanse ontvang is. ’n Oorsig van bewyse as ’n geheel dui, myns insiens, nie op onbehoorlike gedrag deur enige een van die twee rakende die nominasie van regter Cameron nie. Dit dui ook nie daarop dat hulle in enige stadium op enige manier opgetree het wat redelikerwys beskou kon word dat regter Cameron partydig in die Gelyke Kanse-gedingvoering was nie.”

Ná deeglike oorweging van die verslag het die raad besluit dat geen verdere stappe gedoen sal word nie en dat die raad die saak hiermee as afgehandel beskou.

De Villiers het in reaksie op die verslag benadruk dat hy nie met die regsproses ingemeng het nie. “Ek is tevrede dat ek in absolute goeie trou opgetree het, en dat die verkiesingsproses korrek verloop het. Dit is nou deur die ondersoek bevestig.

“Al waaroor ek spyt is, is dat daadwerklike pogings om my en die universiteit verdag te maak, ook aanvalle op oudregter Cameron, die ander regters en die prosesse van die Konstitusionele Hof ontketen het. Nie ek of enigiemand anders het enige geheime of onderduimse bedoelings gehad toe ons oudregter Cameron probeer oortuig het om homself as kanselierskandidaat beskikbaar te stel nie. Daar was geen poging tot geheimhouding nie.

“Dit was algemene kennis dat ’n aantal vooraanstaande US-alumni, insluitende lede van die US se rektoraat, oudregter Cameron as ’n uitstekende kandidaat vir die verkiesing van ’n nuwe kanselier beskou het. Dit is ook heeltemal onrealisties om aan te voer dat een mens soveel invloed kon uitoefen om ’n hele regbank van tien vooraanstaande regters van die Konstitusionele Hof daarvan te oortuig om ten gunste van die Universiteit Stellenbosch te beslis, en alle lede van dié kieskollege – buiten twee – om vir regter Cameron te stem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Steffan ·

Ek ruik n rot nog steeds.
Darem vreeslik toevallig die dameloop van ondersoek en hoe Wim en Cameron voorgehou word, terwyl ons almal van beter weet.

Ja swaer ·

Kom nou regter Fourie. Jou afleidings en gevolgtrekkings is gebrekkig en onlogies. Die feit is dat De Villiers ‘n wortel voor Cameron se neus gehou het terwyl laasgenoemde voortsittende beampte was in ‘n saak wat De Villiers direk raak. Indien Gelyke Kanse se regsverteenwoordiger aangedui het dis in orde, maak dit geen verskil aan die onreëlmatige manier waarop De Villiers te werk gegaan het nie. Hulle toestemming verander niks aan die feite vd saak nie. Jou verslag is niks anders as ‘n smoke screen en toesmeerdery van wat De Villiers gedoen het nie.

Andre ·

@ Ja swaer: baie goeie kommentaar waarin jy die spyker op die kop slaan. Die hele spul insluitend Fourie is kop in een mus.

Cherokee ·

Wat Gelyke Kanse aanbetref, De Villiers en Malema het gelyke kanse om as die onpopulêrste in die land beskou te word.

Johann M van Heerden ·

Wat verstaan die mense nie? Al was die ‘bedoeling’ nie om in te meng nie, is dit na my mening regstegnies totaal verkeerd. As Prof De Villiers nie bedoel het, moes hy dit geweet het en ook die regter. Beide is dus onbevoeg. Dit wys vir ook hoe verdag ons huidige regspleging is. Dit maak my baie bekommerd.

Boerseun ·

Kom ons sien wat n onafhanklike ondersoek se bevinding gaan bewees.

Johan Pretorius ·

De Villiers sal onthou word vir die feit dat hy Afrikaans op US vernietig het. Nie iets om op trots te wees nie, maar uiters skandalig.

Essie ·

Die hele bohaai oor die taal kwessie by Universiteite is absurd. Die argument vir moedertaal onderrig het meriete op skool vlak. Op Universiteits vlak is daar geen argument vir moedertaal onderrig nie?

As ‘n kind Graad 12 verlaat, behoort hulle vlot Engelse te kan verstaan, lees en skryf. Daar is dus geen rede hoekom enige afrikaans sprekende persoon nie gemaklik in engels kan studeer nie.

Ek het 2000 – 2003 aan Stellenbosch studeer. (B.Sc Wiskunde). Al die handboeke en studie materiaal was in elkgeval in engels. Die Afrikaanse klasse was vir my meer verwarrend omdat jy in elkgeval die afrikaanse terme moet vertaal om die engelse handboeke te volg. Van my 2de jaar af het ek al my klasse in engels geloop en eksamens in engels geskryf. As ons wil he dat ons kwalifikasies op internasionale vlak herken word en moet kompeteer is dit elkgeval beter om dit in engels te doen.

Indien mense ‘n afrikaanse universiteit soek, volg dan die akademia model en skep ‘n privaat universiteit.

Groete!

Frans C ·

Dit gaan mos nie net oor die rektor se optrede nie, maar wel of die regter Cameron eties opgetree het en homself moes ontrek het aan die uitspraak oor ‘n taal kwessie aan ‘n universiteit wat hom ‘n ‘betrekking’ aangebied het.

Nettie ·

@Essie – ek dink jy het reg. Al is jou matriek-Engels hoe krom, skreef of swak – as jy die dag matriek geskryf het en universiteitstoelating gekry het, behoort jy dit te kan “maak” om in Engels te swot. As ek maar dink hoe swak mý Engels was, toe ek skool verlaat het, want dit was destyds nie by ons ingedril dat die besigheidswêreld in Engels doen, dink en werk nie. En vandag praat ek Engels so goed soos ek Afrikaans praat – soms, as ek Engels praat, dink mense ek is Engelssprekend-gebore.

Afrikaans gaan NIE tot niet gaan net omdat dit nie meer onderrigtaal is op skole of universiteite nie; dit sal tot niet gaan as ons dit nie meer praat en ordentlik reg lees en skryf nie.

Adam ·

Ek vind die storie uiters interressant. Cameron moet ‘n wondermens wees indien hy in staat is om hom totaal af te sluit van die US aanbod terwyl hy deel was van die beregting van die saak. Wat my verder verstom is dat daar slegs na die juridiese aspekte gekyk word en dat die kwessie van etiek nie onder die loep kom nie. Sou dit gebeur, sal beide Cameron en De Villiers nie die toets slaag nie.

Waarheid ·

Sorry wim jy en jou meelopers gaan nog tot n val kom….
Dis oppad.
Julle gaan n negatiewe nalatenskap he en sal so onthou word….
Uitverkopers soos de klerk wat vandag n man is wat soos die plaag geignoreer word.

Ernst Marais ·

Ek is maar sinies oor sulke ondersoeke.

Die bevindings kan in groot mate voorspel word deur die keuse van wie op die ondersoek sal dien
Dink maar aan die Erasmus, Mostert, Serete en Goldstone komissies.

Domvraag ·

Regter Fourie ek vind dit vreemd dat die rektor op sy eie mense nader of nomineer. Is dit nie die funksie van die UK of kommissie nie? Die feit dat Cameron die posisie aanvaar het na die hofsaak, is irrelevant. Hy was voor die hofsaak gebader of hoe???

Arrie ·

As dinge totaal platval dan is lakeie, soos De VIlliers, gewoonlik op die eerste boot oorsee.

Jack Klok ·

Is regter Burton Fourie nie ook verbonde aan die US nie? Hoe onpartydig/onbevooroordeel was die ondersoek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.