Matrieks verskil oor Rek-vraestel

(Foto: Maroela Media)

Matriekleerders het uiteenlopende menings oor die tyd wat toegeken is om Donderdag se rekeningkundevraestel te voltooi.

Die eerste rekeningkundevraestel het uit 150 punte bestaan en leerders is twee uur gegee om dit af te handel.

ʼn Matriekleerder van Hoërskool Vredendal meen daar was gans te min tyd en dat hy “rêrig tyd nodig gehad het om oor ʼn paar vrae te dink”.

Volgens LP Engelbrecht het hy nie genoeg tyd gehad om die vraestel te beantwoord soos hy sou wou nie.

“Ek het nie die vraestel voltooi nie – en nie omdat dit onmoontlik was om te doen nie,” sê hy.

“Ek dink ʼn ekstra halfuur sou die vraestel veel lekkerder gemaak het omdat dit jou meer kans sou gee om oor ʼn probleem te dink.”

Karlize Bacher van Hoërskool Pietersburg sê sy het net-net klaargekry.

“Ek het sewe minute voordat die tyd verstryk het, klaar geskryf.”

Dit terwyl Anné Steenkamp, ʼn matriekleerder aan Hoërskool Garsfontein, sê dat die samestelling van die vraestel “dit moontlik gemaak het om betyds klaar te maak”.

“Dit het vir my gevoel asof daar genoeg tyd was om bietjie te sit en dink oor hoe om die berekeninge aan te pak.”

Volgens Anné was hierdie vraestel makliker as die een wat tydens die rekordeksamen aan matriekleerders voorgelê is.

“Daar was niks in die vraestel wat ek nie verwag het nie en daar was nie baie ingewikkelde berekeninge by die inkomste- en balansstaat nie,” sê sy.

Bacher sê sy het effe by vraag een vasgehaak, wat ʼn paar uitdagende aansuiwerings bevat het, maar haar agtergrondkennis oor die konsep het haar “gered”.

“Gelukkig het my onderwyser verseker dat ons heeltemal voorbereid was.”

Vraag twee het weer vir LP effe gepootjie. “Dit het gehandel oor ʼn kontantvloeistaat, en ek moes ver gedink het om van die regte bedrae uit te werk.”

Die leerders is dit wel eens dat geen deel van die vraestel hulle onkant gevang het nie, en dat dit na verwagtinge opgestel is.

Engelsvraestel ‘alom maklik’

Die matrieks het Woensdag die tweede vraestel in Engels huistaal, Engels eerste addisionele taal en Engels tweede addisionele taal afgelê.

Die matriekleerders wat die vraestel in Engels huistaal geskryf het, is dit eens dat dit ʼn “maklike” en “lekker” vraestel was om te skryf.

Joy Johnson van Hoërskool Montana in die Wes-Kaap sê die ongesiene gedig het vir haar ʼn paar uitdagings gebied, maar verder het sy die drama-afdeling geniet, hoewel dit ʼn tydjie gevat het om te voltooi.

Emma Meyer, ʼn matriekleerder van Hoërskool Vredendal, sê met die Engels eerste addisionele taal het sy en haar klasmaats nie rêrig gesukkel met die drama-afdeling nie.

“Ek en my klasmaats was ook tevrede met hoe die gedigte gevra is, en niks het my werklik onkant gevang nie,” sê sy.

“Dit was eintlik redelik maklik gewees.”

Die matrieks gaan môre (Vrydag) voort met hul Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen wanneer hulle die lewensoriëntering-eksamen aflê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anel ·

Nou wonder ek net hoe sukkel die engelse kinders of is die eksam vir hulle baie maklik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.