Mbalula sê Kaapse spoordiensbesluit slegs syne

Metrorail in die Wes-Kaap. (Foto: Metrorail W/Cape/Twitter)

Fikile Mbalula, minister van vervoer, sê die besluit of die Kaapstad-metro wel sy spoorpassasiersdiens by die nasionale regering gaan oorneem, slegs by hom berus en dat enige verwysings na die teendeel, onakkuraat is.

Mbalula het uitgevaar oor ʼn stelling wat die Stad Kaapstad gemaak het oor die moontlike goedkeuring van hierdie plan.

In die metro se aankondiging vandeesweek voer hy aan dat die voorneme om die stad se spoordiens van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) se hande af te vat, deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, gesteun word.

Volgens Mbalula is dit egter “onakkuraat” om te suggereer dat Godongwana reeds die metro die groenlig gegee het om die plan uit te voer.

“Slegs die minister van vervoer kan ʼn openbare vervoerfunksie aan ʼn ander regeringsfeer toewys,” het hy gesê.

Die Stad Kaapstad het reeds ʼn lewensvatbaarheidstudie van stapel gestuur om te bepaal of sy planne inderdaad uitvoerbaar is.

Fikile Mbalula, minister van vervoer (Foto: Twitter / @MbalulaFikile)

Afgesien van Mbalula se ongelukkigheid, deel hy Godongwana se sentiment dat die Stad Kaapstad met die studie moet voortgaan. Dié studie sal bepaal of die metro die vermoë het om die spoordiens te bedryf en te bestuur sonder om sy eie verantwoordelikhede te verwaarloos.

Mbalula het Donderdag onderneem om die witskrif oor die nasionale spoorbeleid in die komende week uit te reik, waarna hy dan ook aandag aan hierdie kwessie sal skenk.

Die kabinet het onlangs die witskrif goedgekeur waarin erkenning gegee word vir die belang daarvan om funksies van openbare vervoer na die laagste regeringsvlak af te wentel. Die beleid vereis egter dat ʼn strategie vir die afwenteling van die spoordiens ontwikkel en goedgekeur moet word.

Ten spyte van Mbalula se reaksie op die aangeleentheid, is Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, steeds geesdriftig oor die voortgestelde plan.

Volgens Hill-Lewis het Mbalula se reaksie hom net nog meer opgewonde maak vir die vooruitsig dat die metro die gebied se spoordiens gaan bestuur.

“Sowat 90% [van die verklaring] is presies wat ek vandag aangekondig het, [maar] geskryf op so ʼn manier dat dit voorkom dat dit nie so is nie,” het hy gesê.

“Kom ons laat die treine werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Kom ons laat die treine werk. Watter treine ? Wie gaan hulle laat werk ? Ons ? Ons is te lui…

007 ·

Ja Fakile dit kan nie slegter gaan as wat dit tans gaan nie. Gee dit vir Kaapstad, dan sal dit dalk net werk.

Jr ·

Laurel se maaitjie Hardie wil nou belangrik voel. Dit is nou hoe lank in Hardies se hande ( 28 yrs) en JY het niks reg gekry?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.