Mbombela-narkotiseur vermoor: ‘Hy was ons anker’

(Foto: Verskaf)

“Nicholas was die ongelooflikste mens wat ek geken het… om lewens te red, ook dié van diere, was sy eerste prioriteit. Hy het die wêreld ʼn beter plek met sy mooi hart gemaak, hy sou alles doen vir sy werk, en as hy nie gewerk het nie, het hy saam met my tyd spandeer… wat moet ek nou doen?”

Margaret Vorster, ma van die 39-jarige narkotiseur wie se vasgebinde liggaam verlede Donderdagoggend naby die Green Valley-veiligheidslandgoed in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga gevind is, sê haar lewe sal nooit weer dieselfde wees ná haar jongste seun so wreed en sonder rede uit haar lewe geruk is nie.

“Niks maak sin nie. Niks sal ooit weer sin maak sonder hom nie. Ek het nie woorde nie, hy was ons anker…”

Maroela Media het vroeër berig Nicholas se Land Rover Discovery is verlede Donderdagoggend naby die Elawini-brug gekry. Dié brug is naby die Green Valley-veiligheidslandgoed waar sy liggaam later ontdek is.

Omdat Nicholas se voertuig naby die brug gestaan het, is die hulp van ʼn duikspan tesame met die polisie se soek-en-reddingseenheid, die honde-eenheid en ander private veiligheidsmaatskappye ingeroep om na hom te soek. Dit het egter gou duidelik geword hy is nie in die omgewing nie.

Leidrade is opgevolg en daar is bevind dat Nicholas ʼn woonstel in die Green Valley-kompleks besoek het. Sy hande en voete was vasgebind; dit is egter nog nie duidelik hoe hy vermoor is nie.

“Een ding wat ek wel kan sê, een ding wat my troos, is dat my seun sy lewe voluit geleef het. Hy was al telkemale oorsee en hy het uiters goed in sy werk presteer.”

(Foto: Verskaf)

Sy vertel dat Nicholas ʼn kranige sportman was en gereeld honderde kilometers op sy bergfiets afgelê het.

“Hy was ook mal daaroor om frisbee te speel en het gereeld die Ultimate Frisbee Mbombela-span se kleredrag en toernooie geborg.”

(Foto: Verskaf)

Vorster vertel dat Nicholas gereeld diepseeduik-avonture aangepak het en perd gery het wanneer tyd dit sou toelaat.

(Foto: Verskaf)

“Maar sy werk was sy lewe. Hy het vandat hy baie klein was, geweet dat hy eendag ʼn dokter gaan wees.”

Nicholas het sy hoërskoolloopbaan aan die York High School in George voltooi, waarna hy medies aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein studeer het.

“Hy het daarna sy Zuma-jare suksesvol voltooi, waarna hy terug is Bloemfontein toe om as narkotiseur te spesialiseer. Hy het daarna vir ʼn ruk as narkotiseur by die Rob Ferreira-hospitaal gewerk voordat hy in 2019 by die Mediclinic in Nelspruit aangesluit het.”

Nicholas was enkellopend en het gereeld vir sy ma gesê dat sy nooit moet verwag dat hy gaan trou nie omdat sy werk hom te besig hou.

“Hy was absoluut briljant en sy hart was op die regte plek. Jy moet die huldeblyke sien wat deurkom, dit is absoluut bewonderend. Hy het soveel mense – van reg oor die wêreld – se lewens aangeraak.”

Nicholas het gereeld mediese konferensies in ander lande bygewoon en is al telkemale as ʼn spreker genooi om ʼn klas aan te bied, en hy het dit só geniet, vertel sy ma.

“Hy is ook genooi om by die Suid-Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs (SASA) aan te sluit.”

Vorster vertel dat werk altyd eerste gekom het vir Nicholas, en al was hy van diens af, sou hy op enige gegewe tyd hospitaal toe jaag as hulle hom sou benodig.

“Hy het al ʼn hele paar diere se lewens ook gered. Daar is ʼn renoster-rehabilitasiesentrum buite Mbombela waarby hy baie betrokke was.

(Foto: Verskaf)

“In my oë was hy sowaar die wonderlikste mens wat nóg bestaan het. Hy sou uit sy pad gaan om ander te help en te ondersteun.

“ʼn Dokter – een wat in ʼn stadium saam met Nicholas gewerk het – het my gisteraand gebel om my te vertel dat hy nooit ʼn dokter sou gewees het as dit nie vir Nicholas was nie. Hy was altyd daar vir mense as hulle hulp of advies nodig gehad het. Hy het so baie vriende gehad en hy het hulle baie bederf. Hy het regtig so baie vir die mense in sy lewe gedoen…”

Vorster sê Nicholas het altyd die mooi in alles raakgesien, maar vertel ook dat hy nie nonsens gevat het nie en op die man af was.

“Maar hy was die liefdevolste siel…” sê sy emosioneel.

(Foto: Verskaf)

“En sy liefde vir my… dit is iets waarsonder ek nie kan voortgaan nie.

“Sy kollegas het my vertel hoe gereeld hy oor my gepraat het en hoe lief hy my gehad het. Ons het mekaar gereeld gesien, hy was baie besig met werk, dus sou daar soms ʼn paar dae wees wat ons mekaar nie gesien het nie, maar as hy af gehad het, sou hy by my huis opdaag en my iewers heen vat om die dag saam met my te geniet.”

Nicholas en sy ma, Margaret (Foto: Verskaf)

Vorster sê sy en haar man, Jacob, het ongeveer ʼn jaar en ʼn half gelede Mbombela toe verhuis om nader aan Nicholas te wees.

“En nou, nou is hy net weg.”

Volgens Nicholas se familie is die polisie steeds besig met ʼn lykskouing en moet ʼn vierde verdagte nog in hegtenis geneem word.

“My man het gesê hy sal die hofverrigtinge bywoon, en daar is baie mense wat namens ons familie die verrigtinge gaan bywoon, maar ek wil nie daar wees nie… ek wil nie in my seun se moordenaars se gesigte vaskyk nie, my hart sal dit nie hou nie…”

Nicholas word ook deur sy pa, Malcolm, en twee broers, Llewellyn en Graeme, oorleef.

ʼn Roudiens vir Nicholas sal komende Vrydag vanuit die Church Unlimited in Mbombela gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Althes ·

Ek het nie woorde nie. Dis om van woedend te raak dat onskuldige, hardwerkende mense wie net ñ normale lewe wil lei vermoor word. My innige simpatie.

Papsak ·

Wel ek hoop sy moordenaars word vinnig vas getrek en dit vat nie weer maande doen vinnig werk hiermee soos die Groblersdal se geval en mog hulle op vrot in die tronk wat die jong man so lelik dood gemaak het sterkte aan sy ma en familie en vriende ons wird nie meer n lewe gegun nie nie deur hulle nie

Yolandie ·

Dat ‘n lewe met soveel potensiaal so vroeg geeidig het, en so wreed ook. Mamma my hart gaan uit na jou toe. Mag jou seun in vrede rus……en mag die moordenaars gevang en die straf kry wat hulle toekom.

Leona ·

Innige simpatie aan Dr se ouers en almal betrokke in sy lewe. RIV Dr Procter

Catherina ·

I’ve had it with this absolute CRUELTY in this country. My condolences to family and all who cared for him

Niklaas ·

Dit moet nou seker nie gevra word nie , maar wat het hy daar gesoek ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.