Medelye ná leierboer Vito Rugani sterf

Hy is Maandag aan natuurlike oorsake dood.

Vito Rugani, legendariese wortelboer, is Maandag aan natuurlike oorsake dood.

Rugani, stigter en mede-eienaar van Green Way Farms en Rugani Farms, en sy vennoot, Vincent Sequeira, se uitvoerboerdery het alles van wortels tot die welbekende Rugani-wortelsap geproduseer. Hulle was 32 jaar lank vennote.

Die familie sê in ʼn verklaring Rugani was vir baie mense wêreldwyd ʼn mentor. Sy dood is ʼn groot verlies vir die familie, die onderneming en die boerderybedryf.

Thinus van Zijl, uitvoerende hoof van Agri Gauteng, sê Rugani het van die grootste baanbrekerswerk gedoen in die verbouing van groente en wortels. Hy het Rugani bestempel as ʼn man met uitsonderlike integriteit en vernuftige sakebestuur, asook as ʼn mense-mens wat vir ander omgegee het.

Die familie sê te midde van hul hartseer vind hulle vertroosting in die geloof dat hy ewige vrede in die teenwoordigheid van God gevind het.

“Hy laat ʼn nalatenskap wat ons lewe vir altyd sal beïnvloed,” lui die verklaring.

Rugani se invloed op die Suid-Afrikaanse landbousektor het beginsels en praktyke vir boere daargestel wat voedselvoorsiening en volhoubaarheid in die land versterk het, lui die verklaring.

In ʼn toespraak by Landbouweekblad se African Farming-imbizo in Februarie, het Rugani gepraat oor sy aangrypende landboureis wat in ʼn bakkie (met ʼn hond genaamd Cheeky) in Hillbrow begin het. Die einde van dié reis was as een van Suid-Afrika se leierboere.

Hy het vertel hoekom vennootskappe so ʼn groot waarde tot die onderneming kon toevoeg en hoe hulle herhaaldelik uit die moeilikheid gekom het.

“Die swaarste les,” het hy vertel, “was om te erken jy het iets gedoen wat verkeerd is, en dan te verander.

“Dit gaan nie oor jou omstandighede nie, maar jou houding wat jou terughou. Die wortels van bitterheid, onvergewensgesindheid, swakheid en ʼn ingesteldheid van afhanklikheid, ʼn kultuur dat jy glo jy kan aanspraak maak op iets en dat jy ʼn slagoffer is.”

Rugani het vertel hy het dekades gelede ʼn stuk grond in Hillside by Tarlton vir R200 000 gekoop. Die geld hiervoor het hy by ʼn vriend geleen sodat hy kon begin boer. Kort daarna is water op die grond gevind en is dit vir R1,5 miljoen gewaardeer.

“Ek hoop nie almal van julle het sulke geluk nodig om te begin boer nie. Die les wat ek [daaruit] geleer het, is dat ons omring is deur mense wat bereid is om ons te help met hul beroepsvaardighede en oorvloed, maar jy moet dit slim en oordeelkundig gebruik. Mense kan jou help, maar kan nooit jou droom om te boer van jou skouers afhaal nie,” het hy gesê.

Hy en sy vennoot het destyds gaan kers opsteek by boere in Australië, waar hulle geleer het om aan te hou soek na antwoorde. “Ons het boerderytegnieke in Australië geleer en het besef dié wat ons gebruik het, was 100 jaar oud.

“Selfs al is jy ingelig, moet jy steeds ʼn geloofsprong gee,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Indrukwekkende boer, indrukwekkende boerdery! Dankie vir u bydrae tot SA Landbou
R.I.V.

M ·

Het die oorledene nie persoonlik geken nie …. maar om vrede te gaan na jou Skepper toe…. hemelse gedagte. Vrede aan sy naastes wat hom lief het.

Toergids ·

Mnr Vito Rugani het vir ons gewys hoe dinge gedoen moet word, SA kort meer mense soos hy

Cassie Carstens ·

Stem saam met Toergids. Hulle het puik produkte gelewer. Innige meegveoel aan die nagelate familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.