Meer as 95% van plaasaanvalle, -moorde onopgelos

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Uit die 1 402 plaasaanvalle en -moorde wat die polisie die afgelope vier jaar aangeteken het, is slegs 66 skuldigbevindings gedoen, het AfriForum in ʼn verslag oor dié aanvalle bekend gemaak.

Dit beteken dat meer as 95% van hierdie voorvalle steeds onopgelos is.

AfriForum het Dinsdag die verslag bekendgestel met statistieke rakende die inhegtenisnemings en vervolgings van verdagtes wat by plaasaanvalle en -moorde tussen 2019 en 2022 betrokke was.

Aanvalle

Altesame 1 249 plaasaanvalle is oor die afgelope vier jaar aangeteken. Daar is slegs in 269 gevalle inhegtenisnemings gedoen, wat in 42 sake op skuldbevindings uitgeloop het. Geen skuldbevindings is in die oorsigtydperk in Mpumalanga of die Noord-Kaap gedoen nie.

Dán word plaasaanvallers eers gevonnis.

Moorde

Luidens AfriForum se eie databasis van plaasaanvalle was daar altesame 182 plaasaanvalle waartydens minstens een slagoffer vermoor is. Altesame 217 mense is in hierdie voorvalle vermoor.

Die polisie het egter net 153 plaasmoordgevalle aangeteken.

Dié verskille word toegeskryf aan die moontlikheid dat nie alle plaasaanvalle en -moorde korrek aangeteken word wanneer dit aangemeld word nie.

Desnieteenstaande is die polisie se syfers gebruik om na die getal inhegtenisnemings en skuldbevindings van plaasmoordenaars te kyk.

In 75 van die voorvalle is inhegtenisnemings landwyd gedoen, maar verdagtes is slegs in 24 van die sake skuldig bevind.

Die verslag wys onder meer daarop dat geen plaasmoord in Gauteng, Mpumalanga, Noordwes of die Noord-Kaap in hierdie tyd tot ʼn suksesvolle vervolging gelei het nie.

“Dit ten spyte van die feit dat die polisie se nasionale strategie vir landelike veiligheid in 2019 uitdruklik uiteengesit het dat dit misdaadondersoeke wou verbeter en meer vervolgings wou instel van alle soorte misdade wat in landelike gebiede gepleeg word,” sê Johan Nortjé, navorser en samesteller van die verslag.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, sê swak ondersoekwerk, ondoeltreffende vervolgings en ʼn duidelike onbereidwilligheid van die regering om landelike veiligheid en plaasaanvalle te takel, is waarskynlik die rede vir die skokbevindings.

“Die syfers spreek ʼn bittere waarheid, naamlik dat plaasaanvallers nie net glo dat hulle kan wegkom met hul onverskoonbare misdade nie – hulle wéét dit,” sê hy.

“Daarom is dit nou meer belangrik as ooit vir boeregemeenskappe om hulself te organiseer, opgelei te word en robuuste veiligheidsnetwerke op die been te bring.”

Meeste verdagtes SA’ners

Volgens AfriForum bied die verslag ook vir die eerste keer ʼn blik op die nasionaliteit van vermeende plaasaanvallers en -moordenaars wat in hegtenis geneem is. Dit skets egter nie die volle prentjie nie, aangesien aanvallers se nasionaliteit eers opgeteken word nadat hulle vasgetrek word.

Die navorsing dui daarop dat die oorgrote meerderheid van aanvallers wat in hegtenis geneem word vir plaasaanvalle en -moorde Suid-Afrikaners is.

Altesame 144 Suid-Afrikaners is in hegtenis geneem en gevonnis vir plaasmoorde, gevolg deur 14 Lesotho-burgers en sewe Zimbabwiërs.

Altesame 467 Suid-Afrikaners is vir betrokkenheid by plaasaanvalgevalle in hegtenis geneem en gevonnis, gevolg deur Zimbabwiërs (77) en Mosambiekers (27). Nege van die aanvallers se nasionaliteite is onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Wie gaan die moorde oplos ,Suid Afrika het nie meer regte polisie nie en die privaat speurders is te min so voorkom dat jy ‘n slagoffer word en verdedig jouself.

Dirk ·

Wanneer sal dit genoeg wees. Ek voel nie meer welkom in my geboorteland nie. Dit voel so onregverdig, maar dit is die realiteit.

piet ·

Net minder as ‘n kwart van die aanvallers is buitelanders. Dis eintlik baie hoog gemeet aan die persentasie van die bevolking van Suid-Afrikaners en bevolking van buitelanders in die land. Daar is beslis meer as 4 -keer meer SA gebore burgers in die land as buitelands-gebore burgers (of so dink ek, wie weet met die grense wat op ‘n stadium basies oopgestel was). So in effek is dit die buitelanders wat persentasiegewys (as ‘n groep) verantwoordelik is vir die meeste plaasaanvalle. Kortom gestel – buitelanders is meer geneig om plaasaanvalle te loods as SA burgers. Natuurlik kan hier sindikate betrokke wees en die buitelanders kan “goedkoper arbeid” wees om die vuilwerk te doen (ook moeiliker om vas te trek as die persoon onwettig in die land is sonder dokumente, vaste adres, ens.).

Carl ·

Hoekom sal die kriminele ophou? 95% sukseskoers! Dis mos ‘n wenresep vir enige besigheid. Pateties! Cyril en Bheki gee mos nie om nie. Dis nie hulle kiesers wat doodgemaak word nie. Julius glimlag breed
:(

Sue ·

“Vergeld hulle ooreenkomstig hulle dade, hulle bose optrede; vergeld hulle vir hulle handewerk, gee hulle hulle verdiende loon.”
‭‭Psalms‬ ‭28‬:‭4‬ ‭AFR20‬‬

Johan ·

…………maar nog steeds neem ons hierdie buitelanders in diens!!!

Amelia ·

En die wat wel gevang word kry borg op arool of kom vroeer uit nee wat saps lyk my stel nie belang om sake op te los nie maar laat dit nou een van hulle is dan lees jy vir maande daarvan

Linda ·

So waar, hulle wag om te kyk of hulle data stelsel iemand per ongeluk identifiseer en dan sit hulle, in kantore en wag vir die labratorium uitslae wat jare agter is en teen dan het hulle alweer n paar mense vermoor.

Karina ·

Ons Boere is ons lewensaar. As ons nie kos van hulle kry nie, gaan daar nie kos wees nie. Maar o nee, “no problem, ons gaan koop net by die winkel” Dit was jare terug op TV uitgesaai. Maar as ‘n polisieman gedood word, groot bohaai en Cele is daar!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.