Meer as R3 miljoen ingesamel vir noodfonds

Meer as R2 miljoen is reeds vir die Noodfonds ingesamel.

Skenkings aan die Solidariteit Beweging se noodfonds, wat gestig is om onder meer kinders en bejaardes met noodvoeding te help, beloop tans al meer as R3 miljoen. Skenkings vir dié fonds het sedert Dinsdag in die bestek van ʼn bietjie meer as ʼn dag van R2 miljoen tot R3,1 miljoen geklim.

“Ons sien die wonderlike harte van mense en beleef die krag van helpmekaar,” het Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

Hermann sê behalwe vir die derduisende rande wat groter maatskappye geborg het, het honderde klein bydraes van gewone mense ingestroom. Virseker se bydrae van R1 miljoen was tot dusver die grootste enkele skenking.

Behalwe vir die noodvoeding, gaan die fonds ook Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) bystaan om te sorg dat leerders op Wolkskool, die SOS se e-leerstelsel, voortgesette onderrig tydens die Covid-19-krisis kan kry.

“Duisende mense in nood en kinders in onderwysnood gaan nou gehelp kan word met dié bydraes,” het Hermann gesê.

Maroela Media het vroeër berig oor Solidariteit se Helpmekaar-dag Dinsdag ten bate van dié noodfonds. Die doel van die dag was om ’n reuse-helpmekaarpoging van stapel te stuur deur die krag van die gemeenskap in te span om mense in maatskaplike nood te help, om sakeondernemings te ondersteun en om kinders te help sodat hulle steeds kan skoolgaan in hierdie onsekere tye.

Teen Dinsdagmiddag, ná die afloop van dié dag, het die fonds op R 2 035 600 gestaan.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het vroeër gesê die organisasie is baie bekommerd oor die maatskaplike krisis wat weens die Covid-19-pandemie ontstaan het. Hy meen dat veral ouer mense en kinders die swaarste getref word, terwyl talle mense se inkomste boonop oornag verminder het.

“Daar is genade in die krisis. Dankbaarheid te midde van onsekerheid. Dankie aan almal se bydraes. Die nood bly steeds groot,” het Hermann gesê.

Die platform waar mense skenkings kan maak, bly onbepaald oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.