Meer bekend oor moord op jong onderwyseres

Khumontle Mokgosi (Foto: Twitter)

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn jong onderwyseres van Noordwes nie.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het Woensdag in ʼn verklaring gesê Khumontle Mokgosi (25) het die huis in die Magong-nedersetting naby Mogwase gehuur waar haar liggaam Maandag aangetref is.

Volgens Mokgwabone het die bure en lede van die beheerliggaam van die skool waar sy gewerk het, op haar liggaam afgekom nadat sy nie die oggend vir werk opgedaag het nie.

Mokgosi se hande en voete was vasgebind. Sy is vermoedelik verwurg.

Maroela Media het vroeër berig Mokgosi is oorspronklik van die Makgobistad-nedersetting naby Mahikeng waar sy haar onderwysgraad by die Noordwes-Universiteit se Mahikeng-kampus in 2018 verwerf het. Sy het van 2019 klas in lewensoriëntering by die Makoba Secondary School gegee.

Die moord op Mokgosi word wyd veroordeel.

“Ons veroordeel ten sterkste hierdie afskuwelike en onheilspellende daad wat daarop dui dat ubuntu en die [morele waardes] van ons samelewing uitgewis is en die algehele veiligheid van ons vroue en meisies selfs in die veilige hawe van hul huise in gedrang bring,” het Paul Sebegoe, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) in Noordwes, gesê.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiehoof, het sy skok oor die moord uitgespreek. Kwena het die publiek daarvan verseker dat die polisie alles in sy vermoë sal doen om die skuldige aan die pen te laat ry.

Inligting omtrent die moord kan by die ondersoekbeampte, sers. Justice Ramosoeu, by 083 616 0995 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Juffrou ·

Maar afskuwelike en onheilspellende plaasmoorde word nie wyd veroordeel nie?
Inteendeel, dit kry GEEN mediadekking!
DIS onheilspellend!

Eish ·

Dit is hartseer en skokkend as enige iemand se lewe geneem word. All Lives Matter.

Manda ·

Weereens – ons het nie soseer ‘n Black Lives Matter issue nie, eerder ‘n No Lives Matter probleem – plaasmoorde, kinders, vroue, oumense, inteendeel, die regering wat alles net ten sterkste veroordeel en skok en afgryse uitgespreek se verdere stilswye bevestig dit maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.