Meer bewusmaking nodig oor ‘geestesgesondheidsepidemie’

Foto ter illustrasie: Nik Shuliahin/Unsplash

Kenners meen dat indien geestesgesondheidsprobleme nie daadwerklik aandag kry nie, dit die samelewing nog jare lank sal teister.

Megan Hosking, klinikus by Netcare Akeso-geestesgesondheidsfasiliteite, sê die agteruitgang van geestesgesondheid is sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie aan ʼn “parallele epidemie” gelykgestel.

“Covid-19 het verskeie geestesgesondheidsuitdagings onder mense wêreldwyd blootgelê. Indien dit nie op ʼn individuele vlak hanteer word nie, gaan ons met ʼn samelewing sit wat ʼn nalatenskap van geestesgesondheidsprobleme die toekoms indra.”

Volgens Hosking is baie mense geneig om net aan geestesgesondheid te dink in terme van probleme wat opgelos moet word, en nie as ʼn integrale deel van ʼn proaktiewe, daaglikse gesondheidsregime nie.

ʼn Studie deur South African Stress and Health (SASH) het bevind dat tot een derde van Suid-Afrikaners deur die loop van hul lewe ʼn geestesgesondheidsprobleem ervaar, maar dat minder as 25% van mense eindelik professionele hulp inwin.

Volgens Hosking is dit een van die min nasionale studies oor algemene geestesgesondheidskwessies, wat ʼn aanduiding is dat die land moontlik deur ’n geestesgesondheidskrisis in die gesig gestaar word.

“Een manier om dié krisis te help takel, is om konsekwent bewusmaking te kweek – wat deur kundiges voorgestaan word as ʼn eenvoudige en praktiese manier om die bestaande toestand te verander.”

Praktiese stappe

Hosking sê dit is belangrik om deurlopend op jou geestesgesondheid te fokus en dit deel van ʼn gereelde gesondheidsroetine – soortgelyk aan fisieke oefening en gesonde leefstylgewoontes – te maak.

Volgens Hosking het dit nie ten doel om geestesgesondheid te oorvereenvoudig nie, maar om aandag te vestig op dit wat proaktief gedoen kan word om ʼn persoon se “geestegesondheidstenk vol te hou”.

Sy sê daar is verskeie eenvoudige, dog doeltreffende, stappe wat ʼn mens elke dag kan doen om geestesgesondheid te bevorder en sodoende moontlik ook toekomstige probleme kan voorkom.

“Dit sluit gewoontes in soos diep asemhaling, beweging van jou liggaam, om bedag te wees op hoe jy op die wêreld om jou reageer, dade van selfversorging soos om ’n joernaal by te hou of tyd vir jou eie behoeftes opsy te sit.

“Uiteraard sal nie alle welstandspraktyke vir almal werk nie, en daarom is dit belangrik om een, of verkieslik verskeie, praktyke te vind wat jy geniet en voordeel uit kan trek.

“Dis egter belangrik dat jy jou daartoe verbind om dit elke dag vir minstens 21 dae te doen. Luidens navorsing neem dit ʼn minimum van 21 dae om ’n nuwe gewoonte aan te leer, waarna dit tweede natuur behoort te word.

Die langtermynvoordeel van konsekwentheid sal ook tot beter streshantering, ’n positiewer uitkyk op die lewe en groter algehele geestesgesondheid lei.”

Hou by jou plan

Wanneer gesondheidsprobleme wel opduik, sê Hosking, is konsekwente gedrag die kern van die deurlopende bestuur van sodanige toestande – hetsy dit met behulp van terapie, medikasie of albei behandel word.

“Dit kan beteken dat jy jou medikasie moet neem soos deur jou dokter voorgeskryf, of jou gereelde terapiesessies bywoon.

“Sommige studies het bevind dat tot 60% van pasiënte met depressie, skisofrenie of bipolêreversteurings voorgeskrewe medikasie binne drie maande staak.

Dit kan die risiko vir ʼn terugslag of nog ʼn geestesgesondheidepisode verhoog.” Hosking sê voorts dat dit ʼn baie negatiewe impak op jou eie welstand sowel as dié van die mense om jou kan hê.

Praat daaroor 

Volgens Hosking is dit ook uiters belangrik om oor geestesgesondheidstoestande en -probleme te praat. Die probleem is egter dat baie mense skaam of bang is om oor hul geestesgesondheidsuitdagings te praat.

“Ongelukkig kleef ​​stigmas aan geestesgesondheidskwessies, wat baie mense ontmoedig om hulp te soek. As elkeen van ons egter deurlopend by geestesgesondheidsorgpraktyke betrokke is – of dit nou in die vorm van voorkoming, behandeling of bestuur is – kan ons ook help om hierdie stigma te verminder.

“Hoe meer ons oor geestelike welstand praat, hoe meer sal ons sien dat dit ’n prioriteit in ons werkplekke, gemeenskappe en eie lewens word.

Geestesgesondheidskwessies diskrimineer nie en enigiemand – ongeag hul omstandighede – kan op ’n stadium vind dat die lewe sy tol op hul geestelike welstand geëis het.”

As deel van geestesgesondheidsbewusmakingsmaand, wat in Oktober plaasgevind het, het Netcare Akeso ook ʼn stel kaarte ontwerp met 21 praktiese wenke om selfsorg en geestesgesondheid te bevorder.

*Enigiemand wat uitdagings met hul geestesgesondheid ervaar of hulp nodig het, kan ’n e-pos aan [email protected] stuur of Netcare Akeso se webblad besoek. Indien dit ’n noodgeval is, kan 0861 435 787 geskakel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nico

Stop die lockdown, stop die oordrewe magsbeheptheid met die jab sodat almal kan teruggaan na normaliteit.

Pieter9

Die oomblik wanneer ons ‘n iets’ n naam gee bv gebrek aan innerlike vrede is agv Covid, of een of ander geestes-toestand, het ons ‘n rede om dit die skuld te gee. Dan is ons slagoffer wat Dr’ s, Aptekers en sielkundiges aan die lewe hou. Steek vir ‘n slag jou arm uit na die Bybel wat onoopgemaak in die boekrak is en kry jou Antwoord. Die Woord is die antwoord vir elke probleem wat jy in hierdie lewe mee te doen kan kry. Vir die wat ten gronde gaan maak dit nie sin nie, vir die wat GLO is… Lees meer »

Papsak

Ek stem saam stop die jab stop die pandemie en laat ons normaal aan gaan met ons lewens