Meer reën vir dié provinsies voorspel

Vloede in Mbombela in Mpumalanga (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Nog meer reën word vir die oostelike dele van Limpopo en Mpumalanga voorspel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Saterdag in ʼn verklaring gewaarsku dit sal na verwagting vanaf Maandagaand tot Dinsdagoggend hier reën. Volgens vooruitskattings kan dit in dié tyd meer as 50 mm reën.

“Dit kan vloede veroorsaak aangesien die grond reeds versadig is weens swaar reën wat deur die sikloon Eloise veroorsaak is,” het weervoorspellers verbonde aan die SANW gesê.

Vloede in Mbombela in Mpumalanga (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Dié provinsies het reeds die afgelope week vloede beleef, juis weens die gure weer wat deur die sikloon veroorsaak is. Limpopo se LUR vir maatskaplike werk het Saterdag gesê haar departement werk saam met beamptes van rampbestuur om inwoners van die Danstaat-plaasgemeenskap naby Musina by te staan. Dié gemeenskap is sonder kos gelaat toe die enigste brug na Musina tydens ʼn vloed deur die rivier meegesleur is.

“Mopani en die Vhembe-distrikte word die ergste geraak deur vloede wat deur die tropiese storm Eloise veroorsaak is,” het die LUR gesê. Lede van die weermag kon die gemeenskap met ʼn helikopter bereik.

In die lig hiervan het die Weerdiens ʼn oranje kategorie-waarskuwing vir dié gebied uitgereik. “Die weerdiens verwag dat vloede in laagliggende gebiede sal voorkom en dat paaie en nedersettings kan oorstroom. Dit kan die verkeer en basiese dienste ontwrig en onveilige toestande op paaie skep aangesien aanhoudende reën ʼn toename in sinkgate kan veroorsaak,” het die Weerdiens gesê.

Die Weerdiens het lede van die publiek gevra om voortdurend op die uitkyk vir waarskuwings op die Weerdiens se Facebookblad en Twitter te wees. “Die land het die afgelope week aansienlik baie reën gekry en omdat die grond so nat is, sal dit nou net ʼn klein bietjie reën verg vir vloede om voor te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ian ·

Dankie dat iemand vir ‘n verandering die woord ‘gure’ korrek gebruik het….

Veens ·

Ek vertrou die weervoorspellers is eerder vebonde aan die SAWD as SA Nasionale Weermag.

4ntj13 ·

“Weervoorspellers verbonde aan die SANW”? Is die SAWD al só sleg dat die SANW hul eie weervoorspellers het? Of is dit die gevolg van die geheimhouding-kultuur wat deesdae heers in ons staatsdiens wetenskaplike departemente?
Ek is dankbaar Eloise het verlede week al verdwyn. Waar is die jare wat ons verskeie siklone per maand in die Mosambiekkanaal gekry het? Almal praat van risiko’s vir kitsvloede vir mense wat onder die 99-jaar waterlyn bou, maar niemend vertel ons wat gebeur langs die groot riviere waar die verbouing van kos dalk probleme ondervind, nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.