Meer werkgeleenthede geskep – StatsSA

Selfs meer mense was teen die einde van verlede jaar werkloos. (Argieffoto: Wikus de Wet/AFP)

Werkloosheid in Suid-Afrika het in die tweede kwartaal vanjaar afgeneem en meer werkgeleenthede is in hierdie tyd geskep. Ten spyte van dié feit is daar meer werklose mense wat aktief na werk soek as in die vorige kwartaal.

Luidens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se jongste syfers het die werkloosheidsyfer met 0,6 persentasiepunte afgeneem. Werkloosheid was in die tweede kwartaal 33,9% teenoor die eerste kwartaal se 34,5%.

Die kwartaallikse arbeidsmagopname (QLFS) vir die tweede kwartaal wys dat altesaam 648 000 nuwe werkgeleenthede in die tweede kwartaal geskep is.

Die meeste groei is in die sektor vir gemeenskap- en maatskaplike dienste (276 000) aangemeld, gevolg deur handel (169 000), finansies (128 000) en konstruksie (104 000).

Die vervaardiging- en vervoerbedryf het egter werkverliese van onderskeidelik 73 000 poste en 54 000 poste ervaar.

Ten spyte van ʼn daling in die werkloosheidskoers het die getal werklose persone wat aktief na werk soek met 132 000 toegeneem, tot agt miljoen. Daar was egter ’n afname van 183 000 (4,9%) in die mense wat moed opgegee en ophou werk soek het, asook ’n afname van 452 000 (3,3%) in die mense wat nie ekonomies aktief was nie.

Dus het die netto getal werkloses met 635 000 mense afgeneem.

Volgens StatsSA was daar teen die tweede kwartaal altesaam 15,6 miljoen mense in Suid-Afrika wat amptelik werk het.

Die DA verwelkom die feit dat die amptelike werkloosheidskoers gedaal het, maar meen die omvang van die werkkrisis in die land bly enorm.

“Dit hou die enkele grootste bedreiging vir vrede en stabiliteit in Suid-Afrika in,” sê dr. Michael Cardo, die DA se woordvoerder oor arbeid en indiensneming.

“Die jongste QLFS onderstreep die behoefte vir Suid-Afrika om werkskepping sy grootste prioriteit te maak sodat ons meer mense in die ekonomie kan intrek.

Cardo sê die regering behoort te fokus op ʼn uitgebreide program van arbeidsmarkhervorming. “Dit is om die private sektor te bevry om hoofsaaklik werkers met geen of min kwalifikasies op skaal in diens te neem.”

Hy meen vakbonde stel ook meer daarin belang om die eng belange van hul eie lede te beskerm as om te veg vir werkloses om die arbeidsmark te betree.

Die landswye stakings wat die vakbond Cosatu vir Woensdag beplan, hou onder meer met sosio-ekonomiese kwessies, soos werkloosheid, verband.

Die vakbond beoog om ’n memorandum aan pres. Cyril Ramaphosa te oorhandig om aandag aan hierdie kwessies te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PieterJ ·

‘n Povere 0.6%, dis maklik om te bereik deur net die berekening bietjie “aan te pas”. Niemand raak opgewonde oor so verskil nie.

Pietertjie ·

Dis net statistici wat die goeie nuus te vertel het dat daar duisende nuwe werksgeleenthede geskep is. O ja, die werkloosheidsyfer het toegeneem ook. Het die bevolking ontplof, of word werksverliese ( wat baie meer is as die sg. nuwe geleenthede) toegesmeer?

Nie Verbaas ·

Hierdie syfers is totaal snert. Daar is baie meer mense wat werkloos is.

Schalk ·

Die syfers gaan weer styg na die optogte vandag, Glo my meeste werkgewers is relatief vol van die ewige eise en dan die staat se manier om toe te stem tot eise van unies. Dan word dit net weer op die werkgewer afgedwing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.