Metanol in taverne-slagoffers se bloed gevind

Leë kiste is by van die slagoffers se gedenkdiens uitgelê. (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Die 21 tieners wat verlede maand in die Enyobeni-taverne in die Oos-Kaap omgekom het, het klaarblyklik metanol in hul bloedstroom gehad ten tyde van hul dood. Daar is egter in dié stadium nog nie afdoende bewyse oor die presiese oorsaak van die tieners se dood nie.

Die polisie en die plaaslike regering het Dinsdag verslag gedoen oor hoe die ondersoek na die dood van die jong mense verloop, en het ook die resultate van die voorlopige toksikologie-verslag bekend gemaak.

Dr. Litha Matiwane, adjunk-direkteur-generaal van die Oos-Kaapse departement van gesondheid se kliniese dienste, het tydens ʼn mediakonferensie gesê dat voorlopige resultate van die toksikologie-laboratorium in Kaapstad ontvang is.

“Ons het die voorlopige resultate van die bloedtoetse, wat drie kategorieë getoets het, ontvang. Dit sluit in die slagoffers se bloedalkoholvlakke, koolstofmonoksiedvlakke en metanolvlakke,” het hy gesê.

“Daar is bevind dat die slagoffers se bloedalkoholvlakke wissel van 0,05 g tot 0,26 g per 100 ml wat op sigself nie ʼn afdoende dodelike hoeveelheid is nie. Op hierdie tydstip kan ons sê dat hierdie vlakke dalk nie die finale oorsaak van dood is nie.”

Die slagoffers se koolstofmonoksiedvlakke het almal gewissel tussen 3,3% en 21%. Hierdie vlakke moet meer as 50% wees voordat dit beskou kan word as ʼn dodelike hoeveelheid.

“Weer eens kan die aanname gemaak word dat dit ook nie die oorsaak van dood is nie,” sê hy.

Metanol is by al 21 slagoffers opgemerk, maar ʼn progressiewe ontleding word nog gedoen om die presiese vlakke van metanol in die tieners se bloed te bepaal.

“Ons wag nog op die resultate wat sal aandui of ʼn dodelike hoeveelheid metanol in hul stelsels teenwoordig was of nie.”

Metanol is ʼn toksiese chemiese vloeistof. Sekere soorte verf en vernis bevat metanol, asook tuisgemaakte gedistilleerde spiritus, wat nie behoorlik vervaardig is nie.

Volgens Matiwane is dit nog nie duidelik of die slagoffers metanol mondeliks ingeneem het en of dit ʼn byproduk is van ander chemikalieë waarmee hulle in kontak was nie.

“Sodra ons die vlakke van metanol in hul stelsels kan vasstel, kan dit vir ons ʼn aanduiding gee of dit ingeneem of op ʼn ander manier opgeneem is,” sê hy.

“In hierdie stadium is daar nie afdoende resultate wat uitstippel wat die dodelike konkoksie is waarmee ons te doen het nie.”

Die betrokke laboratorium is nog besig om allerlei maag- en ingewande toetse te doen wat ʼn moontlik aanduiding kan gee of die oorledenes iets dodelike ingeneem het.

Hoewel daar nog talle vrae is omtrent die oorsaak van die tieners se dood, kon Matiwane wel bevestig dat hulle nie weens ʼn stormloop dood is soos wat talle mense bespiegel het nie.

Nog mense dalk betrokke

(Foto: AFP)

Volgens die polisie handel sy ondersoek na die voorval om die geregtelike doodsondersoek van die oorledenes. Hy staan ook die Oos-Kaapse drankraad by in sy ondersoek na die beweerde oortreding van die Drankwet.

Die eienaar van die Enyobeni-taverne en twee van sy werknemers is verlede week in hegtenis geneem omdat hulle glo drank aan kinders jonger as 18 jaar voorsien en verkoop het.

Die eienaar sal na verwagting op 19 Augustus in die Oos-Londense landdroshof verskyn, terwyl die werknemers die opsie gegun is om boetes van R2 000 elk te betaal. Indien hulle versuim om dit te betaal, sal hulle ook op 19 Augustus in dieselfde hof moet verskyn.

Bheki Cele, minister van polisie, sê ʼn spesiale ondersoekspan is saamgestel om die saak in samewerking met ander belanghebbendes te ondersoek.

“Ons sal uitvind wat op daardie dag gebeur het en of iemand die wet oortree het. In hierdie stadium sluit ons nie die moontlikheid uit dat daar nog mense hierby betrokke is wat kan antwoord op wat gebeur het nie,” het hy gesê.

“Ons sal saam met die families en die gemeenskap werk om ʼn herhaling van hierdie tragedie te vermy.”

Cele het bygevoeg dat hierdie tragedie geheel en al nie verband hou met ander gevalle waarin mense in tavernes vermoor is nie.

ʼn Aantal verdagtes is al in verband met die aanvalle vasgetrek. Hul motiewe wissel van wraakmoorde tot algemene rooftogte wat skeefgeloop het.

“Daar is geen bewyse dat daardie moorde met hierdie voorval verbind kan word nie. Die voorvalle verskil hemelsbreed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

AmY ·

Ek het van die begin af vermoed hulle drankies was gedokter gewees.
Vraag was net; wat was in die drankies gegooi?

Onnie ·

Skokkend! 21 kinders se lewens geneem. Metanol is ‘n chemiese suiwer alkohol wat industrieël gebruik word en glad nie veilig is vir menslike gebruik nie – selfs net ‘n skeut (25ml) kan fataal wees. Uiters oningeligte mense wat metanol met gewone drank meng – of dalk net gierig.

Wielspore ·

Beste antwoord en dit is wat vermoedelik gebeur het. Die eienaar van die drinkplek wou seker die drankies se alkohol verhoog en het methanol wat goedkoop is by ‘n Apteek gaan koop en met die drank gemeng. Gevolg deur ‘n dodelike konkoksie.

Robert ·

Methanol word nie as suiwer produk by apteke verkoop nie, daar is bymiddels in wat dit kleur en ‘n sterk reuk gee. “Rubbing alchohol”

Anel ·

Wie sê dis nie van die kinders self nie? Probeer grootmens speel of is uit gedaag. Enigiets is moontlik met kinders. Om die skuld op die eienaar alleen te plaas is ook nie reg nie. Wat van die ouers? Waar was hulle toesig? Wonder ook maar net.

Oros Soros ·

Die blou duiwel, brand spiritus Bedenklike praktyke wat na bewering met die pers mengsel gepleeg word, onder anders om glase, ysemmers ens daarmee te was en wind droog te maak. Sodra gevul met gewone drank, gee dit blykbaar ‘n skop wat die drinker meer laat drink ook. Onwettige en nagemaakte drank bevat ook hoë konsentrasie methanol.

Madeleine ·

21 mense dood agv geldgierigheid!
Ek Het methanol Vermoed…
EK hoop geregtigheid geskied!!

Jacques ·

Maak volkome sin. Ek’s nie ‘n kenner, my vermoede; daar is brandspiritus by hul drank gegooi (hoë metanol inhoud en uiters toksies). Die koolstofmonoksied kon afkomstig wees van ‘n vuur (vir hitte), binne of direk buite die taverne, en geen ventilering.

AJ ·

In beskaafde lande, bv Texas in die VSA, is die wettige ouderdom beperking vir alkohol gebruik 21 jaar.

Hiér is 13 jariges dood weens (metiel) alkohol misbruik!

Sien jy die verskil?

Hier in SA word immorele leiers verkies deur immorele volwassenes wat groot gemaak is deur immorele ouers binne ‘n subkultuur van immoralteit wat gestig en instand gehou word deur die ANC regime.

VROT TOT OP DIE BEEN!

Anna84 ·

Ek dink egter, in ‘n wettelose land soos SA, gaan dit nie eers help om die ouderdom van drankgebruik te verander na 21 nie, want dit word in elkgeval nie eers toegepas op 18 nie.

Anonymouse ·

As jy dink alle kinders in Texas wag tot 21 om te drink, dan is jy baie naief. Ook in Texas is jou kanse om in ‘n klaskamer afgemaai te word heelwat groter as hier.

SjN ·

Hul gooi enige iets wat kon skop by, soos tabakprodukte en ook battery suur .

AJ ·

Wettelose, immorele mense, is onstuitbaar op ‘n pad van selfvernietiging!

Is dit deel van die GROOT PLAN?

Johan ·

In “Forgotten Soldier” skryf hy van Die Rooi Weermag wat so omgekap het van die metanol wat hul uit onkunde uit die skole se LABs gedrink het met die WW2 inval in Duitsland. MeOH is goed giftig, maar glo minder as jy dit saam Ethanol drink..maak nie sin nie, sal moet uitvind.

duiweboer ·

Die Methanol kom voor in self gemaakte drank wat teen n Baie goedkoop prys verkoop word. Dit is dieselfde as om brandstof te drink

Papsak ·

Wat soek kinders van 13 jaar in Taverns hulle hoort nie daar nie daarom gebeur sulke dinge geen simpatie sorrie

KhoiKhoi ·

Tragies.
Die ouers moet vervolg word.
Waar was hulle toe kinderz middernagtlike ure nog opstraat was?

VaalDonkie ·

Metanol is daai witterige alkohol wat eerste by die stook ketel uitkom as jy witblits of mampoer stook.

Swerwer ·

Metanol ook bekend as metielalkohol (of vroër as “houtgees”), is ‘n chemiese verbinding met die chemiese formule CH3OH. Dit is die eenvoudigste alkohol en is ‘n ligte, vlugtige, vlambare en giftige vloeistof met ‘n kenmerkende reuk wat minder skerp en soeter is as dié van etanol. By kamertemperatuur is dit ‘n polêre vloeistof wat gebruik kan word as, oplosmiddel, Kan dit wees dat hierdie kinders dit nie voor die tyd gebruik het om “High” te wees soos hul dit noem. As jy deur die strate ry en sien hoeveel kinders in bondeltjies sit of staan en dan ‘n bottel of pyp tussen mekaar rond stuur. Enige iets is moontlik. Bly ‘n hartseer verhaal.

Di ·

Ongelukkig word baie tieners so deur die ouers opgevoed- Gehoorsame ouers. GEEN betrokkenheid by die kinders en hulle maak nes hulle wil. DIS die rede dat dinge ook so hand uitruk in die skole!. DISSIPLINE bestaan geensins in baie huishoudings.

Mariana ·

Dit was massamoord op kinders, niks anders nie. Die mens bly maar sy eie grootste vyand. Ouers moet beter toesig oor hul kinders hou en kyk wat hulle doen en waar hulle heengaan. Daai taverne eienaar en werkers moet veranrwoording doen vir wat daar gebeur het.

007 ·

As kinders ordentlik opgevoed word sal hulle weet wat reg of verkeerd is. Jammer maar ek het min simpatie met die ouers. Hulle is net so skuldig soos die taverne eienaar en sy werkers. Wonder wat sê daai Maasdorp mannetjie nou?

Groen-oog ·

Die Regering leer dan nou die kinders in Laerskool van die hele A B C van intimiteit met die DAAD op VIDEO so die kinders leer mooi van los die PLASTIEK POPPE en maak jou eie LEWENDIGE POP.
EN DIE SKOOL STUUR N OMSENDBRIEF WAT JOU MOOI INLIG DIE –LES— IS VERPLIGTEND EN JY AS OUER MOET TEKEN.
Dis die SKOOL en HOOF CLOWN wat die gemors wet maak se skuld dat snotneusies babas het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.