Metro’s wil steun op Eskom-krag beëindig

Kaapstad-raadslid Beverley van Reenen, Michael Sun en Geordin Hill-Lewis (Foto: Stad Kaapstad)

Beamptes van Kaapstad se munisipaliteit en hul kollegas van Johannesburg het Dinsdag vergader oor planne hoe metro-munisipaliteite hul steun op Eskom-kragopwekking so vinnig as moontlik tot ʼn einde kan bring.

Die groep het vergader terwyl die uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, aangekondig het dat fase 6-beurtkrag vanaf Dinsdag landswyd toegepas sal word.

ʼn Afvaardiging van die Johannesburg-stadsraad, Michael Sun (burgemeesterskomiteelid oor omgewingsake en infrastruktuurdienste), Tshifularo Mashava (waarnemende uitvoerende hoof van City Power), Meyrick Ramatlo (direkteur van energie by City Power) en ander beamptes het Dinsdag die Steenbras-hidroskema besoek.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, sê dié kragstasie sal ten volle operasioneel wees sodra beurtkrag hoër as fase 4 aangekondig word. “Dit beteken dat inwoners in Kaapstad waar moontlik verligting van tot en met twee fases beurtkrag gebied sal word.”

Stad Kaapstad het tot dusver die kapasiteit van Steenbras gespaar deur nie die afgelope paar dae enige verligting aan inwoners te bied nie. “Dit is weens die behoefte om dringend Steenbras teen volle kapasiteit te kan gebruik om infrastruktuur te beskerm.”

Eskom het slegs een keer tevore, in Desember 2019, fase 6-beurtkrag aangekondig. Dié fase behels kragonderbrekings van tot vier ure vir ʼn totaal van 10 ure per dag.

“Ons ervaring tydens die vorige keer toe fase 6-beurtkrag ingestel is, is dat noodsaaklike infrastruktuur, van elektrisiteitsbates tot water- en sanitasie-aanlegte en kommunikasietorings onder groot druk geplaas word deur sulke lang kragonderbrekings,” sê Hill-Lewis.

Fase 8-beurtkrag is nou ook ʼn moontlikheid en dit sal ʼn ernstige bedreiging inhou vir substasies, stroomonderbrekers, afvalwaterbehandelingsaanlegte, waterpompe, selfoontorings en ander infrastruktuur. “Hierdie lang kragonderbrekings sal ook die risiko verhoog vir diefstal en vandalisme van koperkabels en ander bates.”

Hill-Lewis sê die spanne van Kaapstad en Johannesburg stem saam dat metro’s geen ander keuse het nie as om dringend steun op Eskom-kragopwekking te beëindig en maatreëls in te stel wat aanvraag kan verminder. Die twee metro’s sal op mekaar se navorsing en kennis steun.

“As hoër fases beurtkrag voortduur, kom die bedreiging aan noodsaaklike infrastruktuur en die lyding wat sal volg weens ekonomiese resessie, neer op ʼn noodtoestand soortgelyk aan Kaapstad se 2017/18-droogte en die Covid-19-pandemie. Ons sal regskenners nader om te bepaal of dit behoorlik is dat Kaapstad gedwing word om te voldoen aan al die veeleisende vereistes van aanskaffingsprosesse wat deur nasionale wetgewing bepaal word tydens dié noodomstandighede.”

Hill-Lewis sê Kaapstad sal alles in sy vermoë doen om die sosio-ekonomiese ramp van Eskom se ineenstorting te takel en binne ʼn dekade algehele energiesekuriteit in Kaapstad te behaal.

Maroela Media het vroeër berig die burgerregteorganisasie AfriForum het Dinsdag sy regspan opdrag gegee om ’n dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof in te dien ten einde wetstoepassers te dwing om op te tree teen stakende werknemers van Eskom.

Nie-stakende werknemers spook tans om die ligte aan te hou terwyl hulle glo deur hul stakende kollegas gedreig en geïntimideer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nie Verbaas ·

Net een vraag. Hoekom is die vakbond se leiers en stakende werkers nie aangekla vir sabotasie van infrastrktuur nie? Want nee, ANC sal dan mos stemme verloor. Patetiese Ramaphosa en Cele. Die party kan mos nie skade ly nie. Die ekonomie kan eerder val.

annie ·

Gelukkig vir SA dat daar altyd uitlanders is wat die krisisse kan beredder… en groot geld maak. So word ons eie ondernemings armer. Te lekker. Maar die ANC weier om anders te dink. So sal dit ook in die landbou gaan. Gelukkig dat daar dan oorgenoeg tyd sal wees vir plaaslike menseregtenaars om plakkate te verf en te betoog vir meer geld. Onthou rus voor en ná optogte vra nogal van jou geestelike gesondheid.

Wondermaarnet ·

So sou Swartland Munisipaliteit al meer as ‘n jaar terug van die grid afgegaan het en daar was nog GEEN vordering nie. Wat laat die mense dink Stad Kaapstad gaan iets vermag?

Kokerboom ·

Dis nogal ironies. Lees mens van positiewe aksies om lewensgehalte van inwoners in metros te verbeter kom Kaapstad se naam ALTYD eerste op. Hopelik nou ook Johannesburg.
Nooit hoor jy van Prtetoria,Durban, Bloemfontein, Kimberley, Port Elizabeth( ek kan nie gekaapte naam skryf) en andere! Stuur dit nie ‘n boodskap??

Andre ·

Ek hoop hulle kan dit maak. Ander dorpe kan nie eers water uit die rivier pomp en dit sonder probleme in die dorp kry nie.

Andries ·

Hoekom laat hulle nie die huishoudings met sonstelsels toe om die grid te voer met oortollige krag nie. Installeer die ou meters wat kan terugdraai? Ons woon in JHB en die digitale meters laat ons nie toe om terug te voer nie. Selfs in die winter gaan daar baie krag verlore.

piet ·

Nie ‘n slegte idee nie. Hulle kan die sonpanele verniet opsit en dan moet die eienaar ‘n sekere terugvoer doen aan die grid sonder vergoeding. Die probleem is die panele is vrek duur.

Papsak ·

Hulle sien hoe neil die ANC regering hulle maar waaragtig stem hulle net weer en weer vir hulle stem die gemors uit en sal beter gaan met almal

krodedil ·

Eskom lewer krag aan munisipaliteite teen 93c per kWH. De Ruyter het gereeld die munisipaliteite aangespreek dat hulle kraggebruikers uitbuit met baie hoe krag tarriewe.

My siening ·

In die land sien Cyrel en kie die toekoms soos n slak op pad van Jhb na Kaapstad. Hierdie is seker die leierlooste land in die wereld! Kriminele is baas en goeie burgers daar om hul gatsakke vol te hou. NVG,POLISIE WEERMAG IS USELESS!!

Jack ·

Sabotasie is n aanvaarbare aktiwiteit as dit deur die regte groepering gepleeg word. Die lamsakkige anc mag stemme behou vir nou maar wanneer die maag leeg is sal hy stemme verloor. Hy verloor reeds miljarde aan oorsese beleggings hieroor. Die lening deur die wereldbank sal nie langer as n paar dae hou nie.

Owlie ·

Duidelik wil die stakende workers asook hul vakbonde nie werk nie so doen n onmiddelike ontslag en vervang hulle met die wat wil werk en wat nie deel -is van die vakbonde nie.
Dink net as dokters en onderwysers en petrol stasie eienaars en bank bestuurders begin staak gaan hulle beslis hul werke verloor so hoekom is diegene wat aan vakbonde hoort witbroodtjies?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.