Michael kritiek dog stabiel ná ongeluk wat ouboet eis

Michael (links) en Nicky (regs) Pretorius. (Foto: Verskaf)

Dit gaan onder omstandighede beter met Michael Pretorius (21) ná die motorongeluk op die R57 wat hy verlede week oorleef het, maar wat die lewe van sy broer Nicky (22) geëis het.

“Michael se toestand is kritiek dog stabiel,” het die jong mans se pa, ook Nicky, Vrydagmiddag aan Maroela Media gesê.

“Hulle het die verdowing stelselmatig begin lig. Ek kon vir hom sê: ‘Haai pappa se kind. Pappa is hier by jou’. Toe begin hy huil. Die trane het uit albei oë geloop. Hy kan alles hoor wat ons vir hom sê.”

Dit gaan ook wonderbaarlik beter met die herstel van Michael se linkervoet. Die moontlikheid het vroeër vandeesweek nog bestaan dat dié voet geamputeer sou moes word.

Die bloedtoevoer na die voet het intussen herstel en dit wil voorkom of slegs die punt van ’n toon moontlik geamputeer sal moet word. Die gesin skryf dié wonderbaarlike herstel aan gebed toe.

Michael het albei bene tydens die ongeluk gebreek en sal oor twee weke ’n operasie daarvoor moet ondergaan.

“Ek gaan volgende Vrydag huis toe want my ander kind se begrafnis is volgende Saterdag. Ek sal dan weer die middag daar in die pad val sodat ek hier kan wees vir besoektyd.

“Aan die een kant is ek baie gelukkig oor Michael se vordering, maar dan dink ek weer aan Nicky … ”

Hy raak dan emosioneel.

“Dis ’n helse rollercoaster. Sy ma verjaar vandag. Dis maar moeilik. Sy sê vanoggend sy mis sy ou verjaarsdagboodskappie. Dis baie erg. Jy wil nie weet nie.”

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig die 22-jarige Nicky is verlede Donderdag in ʼn hospitaal op Sasolburg in die Vrystaat dood nadat hy en Michael die vorige aand in ʼn ongeluk op die R57 betrokke was.

Die broers was die betrokke aand van ʼn restaurant in Sasolburg na hul huis in Vaalpark onderweg toe hulle net voor 22:00 teen ʼn boom langs die R57 gebots het. Michael was agter die stuur. Die presiese besonderhede van die ongeluk is egter nog onduidelik.

Nicky jr. het onder meer ernstige kopbeserings opgedoen en is op die ongelukstoneel reeds op lewensondersteunende masjiene geplaas. Hy is die volgende oggend in die Metsimaholo-distrikshospitaal op Sasolburg breindood verklaar.

Michael moes uit die wrak bevry word en is intussen aan lewensondersteunende masjiene in die waakeenheid van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gekoppel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marcello ·

Ek is bly hy vorder so goed, want ‘n mens hoor “Horror” stories oor staatshospitale , en hulle is maar geneig om die oplossing vir ‘n probleem amputasie aantebeveel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.