Mimi Coertse vier haar 90ste verjaarsdag

Mimi Coertse saam met haar seun Werner, skoondogter Joline en kleinseun Werner (Foto verskaf deur die FAK)

“Mimi Coertse het my geleer hoe mooi Afrikaans kan wees.” So het Coenie de Villiers, bekende Afrikaanse musikant vertel, toe hy tydens die 90ste verjaarsdagvieringe van dié opera-diva ’n musiek-keurspel gesing het ter ere aan Coertse en haar nalatenskap.

Die FAK het Sondag saam met die room van die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf by die Voortrekkermonument bymekaar gekom om die lewe van Mimi Coertse, een van die wêreld se mees gerespekteerde operasangeresse, te vier.

Soos Coenie het talle Suid-Afrikaners geleer dat Afrikaans nie net ’n kombuistaal is nie, maar ’n taal waarin mens kan, lag, sing, droom en, in die geval van Onse Mimi, soos Coertse oor die jare bekend geword het, ’n taal waarmee jy die hele wêreld kan bekoor.

Reynard Slabbert van Bravo voer ’n onderhoud met Jana Cilliers (Foto verskaf deur die FAK)

Jana Cilliers, bekroonde aktrise en jarelange vriendin van Coertse, het tydens die geleentheid vertel dat dit moeilik is om die omvangrykheid van Coertse se talent en die impak wat sy op die kunste gehad het te beskryf, maar tog is sy dit eens met almal wat dié glansryke geleentheid bygewoon het: “Mens kan amper nie dié gevierde sangeres beskryf sonder om te liries te raak nie.”

“So geleentheid het baie keer meer waarde vir mense soos ek en jy wat dit net bywoon, want dit gee ons die geleentheid om terug te kyk en te onthou wat ons gevorm het, en veral met mense soos Mimi, die impak wat hulle op ons lewens gehad het,” het sy vertel.

“Ons verwys baie na haar as ‘Onse Mimi’, maar mens wil amper sê dat nie eens dié familiêre, liefdevolle verwysing werklik beskryf hoe groot haar nalatenskap is nie. Sy is waarlik volksbesit en een van ons grootste ikone.”

In 1996 het die FAK besef ’n ikoon soos Mimi Coertse kry doodeenvoudig nie genoeg erkenning nie en haar bekroon met ’n FAK Prestige-toekenning. Sedertdien het dié organisasie op verskeie geleenthede Coertse se lewe gevier.

Ziegfried van Huyssteen, finansiële bestuurder van die FAK, het tydens die geleentheid vertel dat die FAK jare reeds dit reggekry het om ’n Volksangbundel uit te reik, om note en woorde op papier te sit, maar Mimi Coertse en dié wat haar opgevolg het, het die bladsye lewe gegee en daarom vier die FAK vanjaar weer dié merkwaardige vrou se lewe, loopbaan en nalatenskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.