Minder poste in landbou is ‘kommerwekkend’

Argieffoto (Foto: Du Preez de Villiers/Maroela Media)

Agri SA is besorg oor die afname in indiensneming in die landboubedryf, soos aangekondig deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) se kwartaallikse syfers vir die vierde kwartaal van 2022. Die verslag toon ʼn afname van 12 000 poste in die landboubedryf.

“Alhoewel die werksverliese tans marginaal is, wys dit op die toenemende uitdagings vir boere,” sê Johan Wege, voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid oor arbeid. “Die bedryf het merkwaardig weerstandig gebly en was onder die bes presterende bedrywe tydens die Covid-19-pandemie. Die gety draai egter vir een van die land se mees arbeidsintensiewe sektore – stygende insetkoste, endemiese beurtkrag en infrastruktuur wat ineenstort, plaas groot druk op die landboubedryf.”

Wege sê die ondernemings wat die president in sy jongste staatsrede gemaak het, moet onmiddellik ʼn prioriteit wees om te help om poste te red en die land se voedselsekerheid te waarborg.

“Duidelikheid is ook nodig oor die regulasies wat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) aangekondig het om die voortslepende kragkrisis binne die ramptoestand te pak. Alhoewel voedselvervaardiging en -berging as noodsaaklike infrastruktuur ingesluit is, is besonderhede nodig oor wat dit behels en watter verligting dit vir boere sal bring.”

Die verlenging van die dieselheffingskorting moet ook vergesel word deur die vinnige prosessering van eise en ʼn vermindering in die veeleisende burokratiese rompslomp wat die stelsel lamlê, voeg Wege by. “Dit is die enigste manier hoe die voortgesette las van beurtkrag op boere verlig kan word en noodsaaklike landbouposte beskerm kan word.”

Hy sê dringende stappe is nodig om dié bedryf te beskerm.

“Agri SA bly verbind daartoe om seker te maak die bedryf word ondersteun sodat ons voedselsekerheid kan bly verskaf en die lewens van Suid-Afrikaners in ʼn baie moeilike tyd kan red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie is grotendeels agv plaasmoorde en die swaard van dieOnteieningswet sonder vergoeding wat oor die boere se koppe hang ,waneer ‘n boer vermoor word is al sy werkers sonder inkomste. Die boere wat oppak en oorsee gaan boer se werkers sit sonder inkomste.

Stofdonkie ·

Boere het te doen met beurtkrag wat hulle aktiwiteite lamlê, die swaard oor hul koppe van grondonteiening, hulle kom nou net deur erge droogtes, die dieselprys moor hulle, swak wisselkoers wat maak dat hulle nie goeie pryse vir hulle produkte kan kry nie, ‘n belaglike minimum loon en plaasaanvalle waar hulle geen beskerming deur die staat kry nie. Natuurlik gaan hulle hulle werkers verminder met al die probleme wat teen hulle tel.

Yolandie ·

Vreemd dat hulle nou eers die tendens optel. Feit van die saak is dis vrek duur om vandag te boer, om nie eers te praat van hoe gevaarlik dit is nie. Boere kan nie werkers betaal as hulle nie die werkers kan bekostig nie. Dis mos nou maar die risiko wat jy loop as jy van boere verwag om die stygende krag rekening, petrol/diesel asook die koste van arbeid ook te moet absorbeer. Dis wanneer daar dan gesny word by plekke soos arbeid……want sonder die ander faktore kan hulle nie klaar kom nie.

Daisy ·

Is die stygende minimum loon nie ook ‘n kwessie hier nie? As jou begroting net soveel toelaat vir arbeid, stel jy soveel mense aan as wat jou begroting kan dra.
So ook meganisasie – eerder groter trekkers gebruik wat minder arbeiders benodig

Phillip ·

My kommentaar is ne Hulle betaal duur diesel krag onderbrekings krag stygings hoe leone wat deur die staat voor gestel word wat verwag hulle moet die boere doen . Begin sny by parsoeneel vermindering dis wat die staat mos wil he want die minimumloon raak net te hoog

anko ·

Nou wie se skuld is dit wat al die faktore skep om boerderye moeiliker maak ….

melaney ·

Heeltemal verstaanbaar. Raak ontslae van die boer, dan gaan jy sonder werk sit, en al hoe meer ly honger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.