Minister gaan appelleer teen uitspraak oor Zimbabwiërs

Dr. Aaron Motsoaldi, minister van binnelandse sake. (Foto: Siya Duda/GCIS)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het sy regspan opdrag gegee om aansoek te doen om verlof tot appèl teen ʼn hofuitspraak wat sy besluit om die Zimbabwiese vrystellingspermit (bekend as ʼn ZEP)-program te beëindig, ter syde gestel het.

Die hooggeregshof het Woensdag beslis die regering se vroeëre besluit om ná ʼn sekere datum nie verder die ZEP’s wat aan Zimbabwiërs uitgereik is te hernu nie, ongrondwetlik is.

Motsoaledi is opdrag gegee om die kwessie “ná ʼn billike proses” wat aan die toepaslike wette voldoen te heroorweeg.

Die hofgeding is deur die Helen Suzman-stigting en die konsortium vir vlugtelinge en migrante in Suid-Afrika aanhangig gemaak.

Die hof het beslis dat die permit met ʼn jaar verleng moet word. Dit beteken dat die sowat 180 000 Zimbabwiërs wat in 2009 van die politieke en ekonomiese krisis in hul geboorteland gevlug het en tans wettig in Suid-Afrika is, se permitte vir nog 12 maande geldig bly.

Die hof het bevind dat die minister nie behoorlike prosesse gevolg het om die uitwerking van sy besluit op ZEP-houers en hul kinders wat in Suid-Afrika gebore is, te oorweeg nie. Hy het ook nie die heersende tydsgees in Zimbabwe in ag geneem nie.

Motsoaledi het met die besluit ook geen poging aangewend om insette te vra nie en toe hy dit eindelik gedoen het, was dit te laat en die proses nie meer sinvol nie. Dit het die besluit prosedureel onbillik en irrasioneel gemaak.

Die hof het bevind dat die besluit boonop ʼn “ongeregverdigde” beperking op regte plaas en dat dit dus hersien en tersyde gestel moet word ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Paja).

Ná die uitspraak het Motsoaledi gesê hy sal alles in sy vermoë doen “om te verseker dat immigrasiewetgewing sonder vrees of guns toegepas word”.

Volgens die minister kan die uitspraak nie onbetwis bly nie omdat dit ʼn gevaarlike presedent skep. Hy sê die bevindinge oor die toepaslikheid van Paja is hoogs twyfelagtig, “veral die vereiste vir openbare deelname wanneer ʼn besluit van hierdie aard geneem word, wat slegs ʼn bepaalde groep raak, in hierdie geval Zimbabwiërs”.

Motsoaledi voer aan dat die besluit om nie die permitte ná ʼn sekere datum te hernu nie, verband hou met die regering se beleidsoorwegings.

“Die uitspraak handel oor aangeleenthede wat verband hou met die onskendbare beginsel van skeiding van magte. Die minister meen dit is ʼn rede vir appèl,” lui die verklaring van Motsoaledi se kantoor.

“Die minister glo dat die besluit wat hy geneem het korrek was en dat hy al die belange en regte wat betrokke is, insluitend dié van kinders, in ag geneem het.”

In ʼn afsonderlike maar verwante saak – aanhangig gemaak deur die Zimbabwiese immigrasiefederasie – het die hof ʼn interdik toegestaan ​​wat enige stappe teen ZEP-houers opskort, hangende ʼn hersiening van die minister se besluit. ʼn Datum vir die verhoor moet nog bepaal word.

Moatsaledi sê die doel van die hofgeding is onduidelik, aangesien hy reeds Zimbabwiërs se permitte tot die einde van die jaar verleng het sodat hulle nie uit die land geskop of met deportasie gedreig word nie, en dat hulle vryelik tussen Suid-Afrika en Zimbabwe kan reis.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek stem saam dit is moeilike tye die immigrante moet terugkeer na hulle lande .

Hennie ·

Te veel regte word aan onwettige immigrante gegee. ANC pluk nou net die vrugte van hulle idiotiese beleid.

Sarel ·

Enige iemand verwag dat hy nie sal appeleer nie..
ANC vertragingstaktiek..

Delia ·

Party immigrante het geldige werkspermitte en het al gesinne hier, en bly al jare hier.
Hoe nou gemaak!! Bietjie van n tameletjie

Marina ·

Net 180 000 Zimbabwiers? Iemand rook hul sokkies… Hier is baie, baie meer maar ek vermoed hulle is onwettige immigrante? Tyd om huis toe te gaan. Charity starts at home.

Antonk ·

Hulle het hulle land vernietig.Nou wil hulle alles hier kom vernietig.Jaag hulle terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.