Minke maak weer skoonskip in swembad

Minke Janse van Rensburg (Foto: Verskaf)

Die 18-jarige Minke Janse van Rensburg, Suid-Afrika se downsindroom-swemsensasie van George in die Wes-Kaap, het die afgelope week talle harte van trots laat swel toe sy die een medalje ná die ander by die Downsindroom- Europese Kampioenskap in Italië ingeryg het.

Die vreeslose en doelgerigte swemmer wat in Maart by die nasionale departement van sport, kuns en kultuur se SA Sporttoekenningsgeleentheid as Gestremde Sportvrou van die Jaar aangewys is, het al talle rekords laat spat en maak op die plaaslike en internasionale verhoog behoorlik naam.

Minke het vanjaar agt medaljes by die Downsindroom- Europese Kampioenskap – wat van 3 tot 10 September in Padova in Italië plaasgevind het – verower. Sy het Suid-Afrika teen 21 ander lande verteenwoordig en teen 511 deelnemers in die geheel.

Hennie Janse van Rensburg, Minke se pa en mees getroue ondersteuner, sê hulle is ongelooflik opgewonde en trots oor Minke se prestasies.

“Minke hou tans die 50 m- en 100 m-wêreldrekord vir vryslag in ʼn 50 m-swembad en het in albei items ʼn goue medalje verower – en sommer lekker ver gewen,” het dié ingenome pa vertel.

Minke Janse van Rensburg (Foto: Verskaf)

Minke het ook vier silwer medaljes huis toe gebring, asook een brons.

“Ons is ongelooflik trots. Ons is so trots as wat ʼn mens kán wees en ons is regtig dankbaar dat Minke hierdie talent gekry het. Dit is vir my wonderlik dat my kind ʼn talent het waarin sy haarself kon vind en wat goed is vir haar selfbeeld en waardes,” sê Janse van Rensburg.

“Minke is ʼn sportvrou van formaat; een wat altyd haar beste gee. Ons is bly dat sy haar potensiaal op soveel vlakke reeds bewys het, veral omdat downsindroom-atlete bietjie afgeskeep word in Suid-Afrika.”

Volgens Janse van Rensburg oefen Minke daagliks en op Dinsdae en Donderdae is sy gemiddeld drie en ʼn half uur in die water.

“Sy is superfiks en byna onstuitbaar as sy eers in die water is. Spanje se nasionale downsindroom-swemafrigter het selfs aangebied dat Minke tot die Wêreldkampioenskap gratis by hulle kan oefen.

“Maar ons het daarteen besluit. Minke kom terug George toe, ons is baie gelukkig met haar afrigter, Franna Vorster by die Garden Route Swim School. Van ons familielede sê ons moes dit dalk oorweeg het omdat die blootstelling baie vir haar sal beteken, maar sy het reeds eerste gekom, wat beteken dat sy in die regte hande is,” sê Janse van Rensburg.

“Minke het hierdie kampioenskap self aangedurf, sonder haar mees lojale ondersteuners,” sê Janse van Rensburg. “Volgens die mense wat na haar omgesien het, het sy dit baie geniet.

“Dit was die eerste internasionale byeenkoms in 10 jaar waaraan sy deelneem en kyk net hoe trots het sy ons gemaak.”

Die volgende groot byeenkoms wat vir Minke voorlê, is die Wêreldkampioenskap wat op 17 Maart 2024 in Turkye afskop.

“Ons sien baie uit na die Wêreldkampioenskap, ons wag al lank daarvoor. Daar is egter nog ʼn lang pad en baie swemsessies wat voorlê, maar ons weet nou waaraan Minke moet werk om sommer nog baie medaljes huis toe te bring,” sê Janse van Rensburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.