Misdaad ‘buite beheer’ op Christiana

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Google)

Misdaad op Christiana en die omgewing in Noordwes is skynbaar buite beheer met voorvalle van verkragting, gewapende roof en nou moord wat ʼn gereelde verskynsel in die gebied word.

Die stand van sake word boonop vererger deur ʼn tekort aan wetstoepassingsowerhede wat op voetsoolvlak misdaad kan bekamp.

Gerhard Visser (68), ʼn plaaslike sakeman, is Sondag by sy onderneming in Geluksoord doodgeskiet toe vier verdagtes op hom toegeslaan het. Die verdagtes het ook ʼn onbekende bedrag geld gebuit.

Chris Fauré van die Christiana-boerevereniging sê hy is binne ʼn uur ná die noodlottige voorval deur die polisie gekontak om te help om paaie in die gebied te versper in ʼn poging om die verdagtes vas te trek.

“Ons landelike veiligheidstelsel is geaktiveer en boere het paaie toegemaak en observasieposte opgerig,” sê hy.

“Die dorp se buurtwag, wat nie by ʼn amptelike organisasie geaffilieer is nie, het ook mense uitgestuur om paaie toe te maak.”

Gerhard en Lizette Visser (Foto verskaf)

Fauré het kort daarna ʼn oproep van ʼn hommeltuigoperateur van Delareyville gekry wat aangebied het om die gebied uit die lug waar te neem. “Sowat 20 minute later het ons nog twee aanbiedinge vir lugondersteuning gekry.”

Twee helikopters wat gebruik word om wild te vang het vir ʼn uur en ʼn half oor die plek gevlieg waar die verdagtes na bewering weggekruip het, “maar ongelukkig het die verdagtes reeds die gebied verlaat”.

Ten spyte van ʼn reusespanpoging deur die gemeenskap om die vermeende moordenaars vas te trek, is nog niemand in verband met Visser se moord in hegtenis geneem nie.

Volgens Fauré is twee persone van belang deur die polisie ondervra, maar niks het daarvan gekom nie.

Geen keer aan misdadigers

Theo Gerber, die DA se koukusleier in die Lekwa-Teemane- plaaslike munisipaliteit, het intussen sy meegevoel met Visser se geliefdes betuig en sê die jongste voorval kom te midde van ʼn skerp toename in misdaad op Christiana.

Die toename van misdaad in die gebied word toegeskryf aan “onvoldoende sektorpolisiëring en die afwesigheid van veiligheidsmaatreëls vir meer kwesbare kleiner gebiede soos Geluksoord,” sê Gerber.

“Moord, roof, inbrake en verkragting verskeur landelike gemeenskappe en nou, meer as tevore, is dit nodig om gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te hervestig.”

Fauré gee toe dat gebiede soos Christiana en Bloemhof “werklik ʼn misdaadprobleem” het.

Benewens die misdaad op die dorp sukkel die landelike gebiede ook met veediefstal, onwettige jag met honde en stroping van landbouprodukte.

“Ons is bekommerd oor die stand van sake op die dorp, want ons kinders gaan daar skool en ons vroue moet inkopies daar doen. Hulle is nêrens meer veilig nie en dit begin nou al so erg raak dat mense vrees vir hul lewens,” sê Fauré.

‘Gemeenskap sorg vir hulself’

Die plaaslike polisiestasie op die dorp het glo al by verskeie geleenthede na die provinsiale polisiehoofde uitgereik en gevra vir meer kapasiteit – meer mense, meer polisievoertuie – juis omdat hulle onderbeman is.

Daar word egter elke keer gesê dat bykomende hulpbronne nie in die gebied ontplooi kan word nie.

“Ons plaaslike polisie probeer hul harte uit om oral te wees en alles te doen, maar daar is net doodeenvoudig te min van hulle,” sê Fauré.

Polisielede is nou al so desperaat dat hulle aktief probeer om plaaslike inwoners vir die polisiediens te werf, in die hoop dat hulle ná hul amptelike opleiding weer sal terugkeer na Christiana om die gebied te help beveilig.

Besorgde inwoners het intussen onafhanklike buurtwagte begin, waarin ʼn paar van hulle hul buurt help patrolleer.

“Hierdie wagte vorm ʼn kardinale deel van veiligheid. Elkeen kyk na sy eie buurt en laat weet sy buurman as daar verdagte karakters of voertuie rondhang. Dit is dieselfde met landelike beveiliging. Almal help mekaar.”

Die DA het ná Visser se moord onderneem om met die plaaslike en provinsiale polisiehoofde in kontak te kom om meer polisiebeamptes op die dorp te ontplooi “sodat die veiligheid van die gemeenskap verseker kan word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nettie ·

Baie lank terug, het mense na werk ‘n diens aan hul gemeenskap gelewer. Munisipale dienste soos dorpsbeplanning of watervore. Of ‘n veiligheidsdiens soos polisiering. Hulle het hul eie werk of plaas behartig, en dit as’n diens na-ure gedoen of oor naweke.

Toe begin gesentraliseerde regerings, wat die diens NAMENS mense verskaf het, deurdat almal belasting betaal het daarvoor. Want dit was te veel om meer na ure in te pas of oor naweke. So mense was betaal om dit namens almal te doen.

Nou betaal ons belasting, maar moet dit nog steeds self na-ure, snags en oor naweke behartig. Terwyl almal nog besiger lewens as ooit tevore moet probeer behartig. Ons is op breekpunt.

Genoeg om mens woedend en siek te maak!!

Mrs H ·

Ons hoef dan nie te vra hoekom appartheid jare terug in plek was nie.

Shakespeare ·

Met n kriminele misdadige, onbevoegde en korrupte regering loop alles vlot vir die kriminele.

Elene ·

Ons as familie wil graag elkeen wat op welke wyse Sondag en daarna betrokke was om my Pa se moordenaars te probeer vastrek, bedank vir die harde werk wat gedoen is. Ons waardeer dit opreg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.