MK-party wen saak oor logo, handelsnaam

(Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Die Durbanse hooggeregshof het die ANC se aansoek oor die uMkhonto weSizwe (MK)-party se handelsnaam en logo Maandag met koste van die hand gewys.

Dit is nie die eerste keer dat ʼn hof in die MK-party eerder as die ANC se guns beslis nie.

“Hulle [die ANC] weet ons gaan die verkiesing wen,” het Jabulani Khumalo, stigter van die MK-party, vanoggend ná die uitspraak buite die hof aan verslaggewers gesê.

“Hulle doen hierdie [goed] om ons te stop, maar hulle kan nie. Ons sal altyd wen.”

Die ANC het in die hof aangevoer dat die MK-party se gebruik van die geskiedkundige logo van uMkhonto weSizwe op kopieregskending neerkom.

Die ANC meen uMkhonto weSizwe, wat tydens die struggle en tot en met 1993 die militêre vleuel van die ANC was, is eie aan die party en dat die ANC die een is wat deur die jare die geskiedenis en welwillendheid opgebou het wat tans met die logo verbind word.

Die regerende party glo die MK-party se gebruik van die handelsmerk en logo is onbehoorlik en onvanpas, aangesien dit volgens hom verwarring by kiesers skep.

Die MK-party se regspan het deurgaans volgehou die ANC besit nie die regte op die uMkhonto we Sizwe-naam en -logo nie.

Vanoggend se uitspraak is een van verskeie wat onlangs in die MK-party se guns gaan draai het.

Maroela Media het vroeër berig die kieshof het verlede maand in ʼn sitting van die hooggeregshof in Johannesburg die ANC se aansoek om die MK-party se deelname aan die komende verkiesing te stuit van die hand gewys.

Die hof het ook later beslis dat oudpres. Jacob Zuma, wat nou lid is van die MK-party, verkiesbaar gestel kan word vir vanjaar se nasionale verkiesing.

Dit nadat die Verkiesingskommissie (OVK) aanvanklik beslis het dat Zuma nie as ʼn kandidaat aan vanjaar se verkiesings mag deelneem nie omdat hy ʼn bepaalde misdaadrekord het.

Khumalo het vanoggend aan verslaggewers gesê die party beoog ʼn tweederde meerderheid in die komende nasionale verkiesing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

GWS ·

Mag die Vader ons behoed en bewaar teen nog ‘n groter staatskaping as dit wat ons reeds beleef het!!!

JohanR ·

Die ANC probeer alles om MK stop te sit. Laas wat ek ‘n peiling gesien het was dat die ANC gaan 37% kry. Miskien sal hulle nou bietjie nederig word?

Grassie ·

Ek het ‘n tyd lank in Zoeloeland gewerk en het die Zoeloes se manier van leef leer ken. Hulle verkies net een manier om ‘n geskil op te los en dit is beslis nie ‘n demokratiese proses nie.

Jaco ·

Solank die ANC, die EFF en MK van mekaar verskil, al is dit nou ook oor die kleur wat die parlementsgebou se toilette geverf moet word, juig ek, want die dag wanneer dié 3 partye eers finaal vrede maak, begin onteiening sonder vergoeding. Dít gaan nag wees; veel erger as vlak 6 of 16 of 600 van beurtkrag.

Henker ·

Beoog vir twee derde meerderheid?
Ja en ek beoog om teen volgende week n multi billionaire te wees.

Cassie Carstens ·

Hierdie MK voorspel net probleme vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.