‘Moenie skoolplasings oorhaastig aanvaar’

(Argieffoto: Verskaf)

Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) maan dat ouers wat reeds plasingsaanbiedinge vir skole in Gauteng ontvang het, dit nie oorhaastig moet aanvaar nie.

“As jy dokumentasie by die skool ingegee het wat jou eerste keuse is en jy nie nou al daardie aanbod gekry het nie, moet jy nie sommer oorhaastig plek in ʼn skool wat wel aan jou beskikbaar gestel word, aanvaar nie,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan SOS.

Sy raai ouers aan om eerder per e-pos met die skool van hul keuse in kontak te kom, al is skole tans gesluit vir die skoolvakansie.

Die Gautengse departement van onderwys het Maandag begin om plasingsaanbiedinge aan die ouers van volgende jaar se gr. 1’s en gr. 8’s te stuur. Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het egter Sondag gewaarsku dat kinders moontlik nié in die skool van hul keuse plek gekry het nie as gevolg van die provinsie se skole se beperkte kapasiteit.

Ouers het nou ʼn week om die plasings te aanvaar of af te keur, of die risiko te loop om by die naaste skool geplaas te word wat ʼn aanbod gemaak het.

Skole in die provinsie sê egter die departement se plasingsproses kom eers in November tot ʼn einde en daar is dus genoeg tyd om ʼn plasingsaanbod by ʼn voorkeur skool te ontvang en te aanvaar.

Skole raai ouers aan om eers met die skool van hul keuse te kommunikeer voordat hulle reageer.

Buys sê die tydsberekening van die plasings is wel betreurenswaardig, aangesien dit met die aanvang van die skoolvakansie uitgestuur is. Dit is omdat skole gesluit is en nie vir navrae beskikbaar is nie. Skole het wel intussen aangedui dat hulle navrae hieroor per e-pos sal beantwoord.

“Dit is moedswilligheid om die aanbiedinge uit te stuur presies soos die skoolvakansie begin,” sê sy.

“Nou moet ouers dalk op ʼn aanbod besluit sonder om die nodige verifikasie van die betrokke skool te kry.”

  • Ouers kan die departement se plasingswebtuiste hier besoek vir meer inligting oor die proses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vonny ·

Die Gautengers moet hul kinders In die platteland laat skoolgaan. Selfs noordwes provinsie.
Bv Potchefstroom het ook goeie skole!

domheks ·

Lesufie, jy weet seker die mense word betaal om babas te maak? Dan moet jy mos weet die bevolkings ontploffing gaan veroorsaak dat daar TE MIN skole is. 2+2 = 5????

VaalDonkie ·

Ek sal aanhou om ou karre te ry sodat ek my kind in ‘n privaatskool kan sit. Dis in elk geval net R1000/maand meer. Nie eers ‘n kar paaiement nie. Ek kan nie die kans vat dat sy moet in die boendoes skoolgaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.