Moenie te vinnig bly raak oor e-tol

Argieffoto. (Foto: Outa)

Die VF Plus waarsku dat e-tol nog nie finaal geskrap word, voordat die minister van vervoer dit nie amptelik aankondig nie.

Die vreugdevure het hoog gebrand nadat Enoch Gondongwana, minister van finansies, Woensdag aangekondig het dat die regering die meeste van Sanral se e-tolskuld gaan oorneem. Selfs Panyaza Lesufi, nuwe Gautengse premier, het die aankondiging verwelkom en gesê die stap gaan reuseverligting bring aan motoriste in Gauteng.

Die VF Plus is egter minder entoesiasties.

“Al wat sover gebeur het, is dat die minister van finansies met sy mediumtermynbegrotingsraamwerk die gifbeker van die e-tolstelsel en die Gautengse snelweg-opgraderingskoste vanaf Sanral na die nasionale en Gautengse belastingbetalers geskuif het.

“Dit is steeds ʼn ope vraag hoe die skuld gefinansier gaan word en die VF Plus monitor die situasie,” het adv. Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus, gesê.

“Die gehate e-tolstelsel is dus nog nie amptelik dood nie en daarom moet die druk teen die ANC volgehou word om dit finaal tot ʼn einde te bring. Ook om diegene wat die monster geskep het, tot verantwoording te roep.”

Die VF Plus het daarom opnuut ʼn veldtog teen e-tol en die ANC wat dit geskep het, van stapel gestuur.

“Die eerste doelwit is om te sorg dat die ANC-regering in Gauteng sy belofte gestand doen om die stelsel af te skaf. Die vorige premier van Gauteng, David Makhura, én die huidige premier, Panyaza Lesufi, het telkens beloof om die stelsel af te skaf deur ʼn ooreenkoms met die nasionale ANC-regering aan te gaan.

“Tot dusver was hul pogings vrugteloos en net leë woorde,” sê Alberts.

Enoch Godongwana, minister van finansies, tydens Woensdag se begrotingsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Indien dit nie afgeskaf word nie of selfs gedeeltelik behou word, sal die VF Plus poog om as deel van ʼn nuwe Gautengse koalisieregering ná die 2024-verkiesing ʼn hofaansoek teen die nasionale regering te bring om die stelsel af te skaf.

“Die hofaansoek behoort slegs nodig te wees indien die ANC steeds op nasionale vlak sou regeer.”

Die tweede doelwit is om te sorg dat diegene verantwoordelik vir die skep van die e-tolstelsel aanspreeklik gehou word.

Alberts sê sou e-tol wel nou afgeskaf word, moet die waarheid rakende die ontstaan en wettigheid al dan nie van die stelsel finaal vasgestel word, deur die skep van ʼn kommissie van ondersoek.

Laastens wil die VF Plus ondersoek of daar genoegsame regsgronde bestaan vir alle persone wat e-tol betaal het om dit in ʼn groepsgeding terug te vorder.

Die VF Plus het ʼn paar jaar gelede deur middel van parlementêre vrae vasgestel dat die meetinstrumente van die e-tolstelsel nooit deur die standaardowerhede gesertifiseer was nie.

“Dit het daarom vir ʼn geruime tyd tegnies onwettig gefunksioneer. Enige geld wat in dié tyd ingevorder is, behoort terugbetaalbaar te wees.

“Indien die hele proses vir die skep van die e-tolstelsel onwettig blyk te wees, behoort al die geld wat betaal is sedert die stelsel aangeskakel is, ook terugbetaalbaar te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Faraway ·

Eintlik logies dat dit op n manier van ons belasting verhaal gaan word . . . Nie so naief om te glo dit word net “geskrap” nie

Manie ·

Dit sal in die een of ander brandstof verhoging ingewerk word.

Nettie ·

So in plaas van gebruikers van die pad, betaal belastingbetalers nou elke persoon se rekening wat hulle geweier het om te betaal.

Vir die wat wel betaal het, kom dit nou op dubbele betalings neer. Hoe onregverdig!
Vir die wat geweier het, wel, julle betaal op die ou end maar nog steeds. Minstens kom bietjie van julle belastinggeld nou terug na julle toe.

Op die ou end bly die skuldiges oor die hele projek maar nog steeds onaangeraak.

Keelvol ·

Hoekom moet ek betaal maar die taxi’s hoef nie. Wanneer word die taxi’s bietjie belas? Is dit regverdig dat Hulle nie E-tols of belasting hoef te betaal nie, maar ek moet?

Chris dupreez ·

Geen instandhouding meer op die huidige e tol paaie, en dan word daar weer gemoan oor die potholes, maar moan sal ons moan.

Keelvol ·

Betaal Jy dan maar alleen die e-tols terwyl die taxi’s nie hoef te betaal nie.

Keelvol ·

Begin deur om die taxi’s te laat belasting betaal. As hulle e-tols betaal het so ek nog oorweeg het om te betaal. Jy kan nie alles verniet vir party gee en ander moet die heeltyd daarvoor betaal nie.

Jacobus ·

So werk dit in die reenboog nasie, die minority betaal vir die gebruik van die majority.

Nico ·

Die regering stel meer belang aan die E-tol stelsel as die paaie wat vol gate is as gevolg van die swaar voertuie, die motoris moet self betaal vir die skade aan sy/haar voertuig, die eeste voertuie word voorsien met sierwiele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.