Selfs Lesufi sug van verligting oor e-tol

(Argieffoto: ANA)

Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het Woensdag saam met die res van die provinsie se inwoners ʼn sug van verligting geslaak ná die aankondiging dat die regering miljarde rand van Sanral se skuld gaan betaal.

Hoewel Enoch Godongwana, minister van finansies, nie in soveel woorde gesê het dat dié stap die einde van die gewraakte e-tolstelsel gaan beteken nie, is Lesufi daarvan oortuig dat dit die saak oor die e‑tolstelsel eindelik tot ʼn einde sal bring.

“Ons glo hierdie is ʼn belangrike oorwinning aangesien dit groot verligting vir die mense van Gauteng bring wat die las moes dra om e-tol te betaal vir paaie wat ʼn nasionale doel dien,” sê hy.

Die Gautengse provinsiale regering sal nou 30% van Sanral se skuld oorneem, terwyl die nasionale regering die oorblywende 70% sal betaal.

Sanral se skuld beloop in die geheel sowat R47 miljard.

Volgens Lesufi gaan die provinsiale regering met die nasionale tesourie in verbinding tree om te verseker dat daar genoeg inkomstestrome is om sy deel van die skuld, wat R14 miljard beloop, te vereffen.

Daar sal ook verdere samesprekings met Sanral wees om te kyk of die e-tolstelsel se infrastruktuur vir ʼn ander doel gebruik kan word. Die premier hoop om dié infrastruktuur eindelik te gebruik om misdaad in die provinsie te bekamp.

Aankondiging wyd verwelkom

Intussen het talle instansies, politieke partye en selfs die minister van vervoer, Fikile Mbalula, die minister van finansies se aankondiging oor Sanral se skuld verwelkom.

“Dit het uitgerekte konsultasies tussen die nasionale tesourie, die departement van vervoer en die provinsiale regering gevat om te bepaal wat die toekoms van e-tol gaan wees. Daarom verwelkom ons die ooreenkoms wat aangegaan is,” sê Mbalula.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op sy beurt gesê dat hy verheug is dat sy pogings om sowat ʼn dekade gelede dié stelsel te skrap, eindelik vrugte gewerp het.

AfriForum het destyds R100 000 geskenk aan ʼn hofsaak om e-tol as onwettig te laat verklaar wat tot ʼn aanvanklike interdik teen die implementering van hierdie stelsel gelei het. Die Konstitusionele Hof het egter kort hierna die interdik opgehef, tog het motoriste in stille protes hierteen geweier om die stelsel se gelde te betaal.

Die drukgroep Outa, wat hom al jare lank beywer om die stelsel te laat skrap, meen dat die verwagte skrapping van die stelsel te danke is aan die honderde duisende mense wat as ʼn verenigde front daarteen betoog het.

“Uiteindelik het die mense gewen in hul vreedsame en gekoördineerde ongehoorsaamheidsveldtog om nie geld aan die irrasionele stelsel te betaal nie,” sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

“Die e-tolsage is een wat sewe ministers van vervoer, ʼn reeks van ministers van finansies en drie presidente nie kon oplos nie. Dit het egter ʼn strawwe les vir die regering geleer oor die belangrikheid van openbare deelname en die behoefte om die publiek se insette ernstig op te neem.

Regsaksie oor e-tol

Die drukgroep Outa het Woensdag, voor die lewering van die begrotingsrede, opnuut teen die e-tolsteslsel betoog. (Foto: Outa)

Outa verteenwoordig tans motoriste in meer as 2 000 sake waar Sanral mense gedagvaar het. Byna 100 van hierdie sake word in die hooggeregshof aangehoor, terwyl die oorblywende sake in landdroshowe aangehoor word.

In totaal word ʼn bedrag van meer as R265 miljoen in uitstaande e-tolgeld betwis.

Volgens Duvenage het Outa se prokureurs in elk van hierdie gevalle kennis van voorneme om te verdedig ingedien, wat Sanral gekeer het om verstekvonnisse teen hierdie motoriste te kry.

“Ons gaan voort met hierdie hofsake totdat dit amptelik van die hofrolle verwyder word,” sê hy.

“Dit is egter nou nodig dat die minister van vervoer die pad vorentoe moet bekend maak om die situasie vir gebruikers van Gautengse tolpaaie te wettig.”

Wat Outa betref hoef diegene wat nie hul e-tolgelde betaal het nie, nie verder enige uitstaande bedrae te vereffen nie.

“Ongelukkig vir diegene wat e-tol betaal het, glo ons dat hulle nie hierdie betalings kan terugeis nie, aangesien die stelsel wettig is. Indien die e-tolstelsel wel teruggetrek word, sal die gelde nie terugwerkend wees nie.”

Duvenage het ter afsluiting gesê dat die besluit om die e-tolstelsel te implementeer eindelik een van Sanral se grootste foute was.

“Die skrif was destyds aan die muur dat die publiek nie die stelsel sal ondersteun nie, tog het Sanral en die regering besluit om oorlog teen sy burgers te voer hieroor. Op die ou end was dit ʼn baie duur oorlog wat die regering verloor het,” sê hy.

“Soos met al die regering se foute, moet die belastingbetalers egter steeds die koste daarvan dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Martie Smartie ·

Nerens sien ek dat die etolstelsel geskrap is of gaan word nie. Ek sien dat Sanral se skuld betaal gaan word deur die regering wat in die eerste plek dit aangegaan het en Sanral geskep het.

Pietertjie ·

Om Etol te skrap is soos om een die kaders se melkkoeie te slag.

Lillian ·

Die regering gaan iewers iets anders vind om te belas sodat ons moet opdok vir hul onnosele besluite

Lood ·

Wat hier berig word is dat die belastingbetaler betaal vir die regering se fout – e-tol. Daar is nie iets soos regering geld nie. Dis geld wat die 5% wat belasting betaal, betaal het.

Francois ·

Waaroor juig almal. Dit is nie afgeskaf nie en glo dit sal nou nog steeds gebruik word. Die dag as hulle se dis finaal geskrap dan sal ek dit glo

Ruby ·

Die regering kan net 1 van 3 dinge doen…

1. Neem beheer oor ‘n suksesvolle stelsel soos bv Eskom en SAL…en koffie dit op.

2. Begin iets van die grond af en maak ‘n volslae mislukking daarvan.

3. Plunder en bedrog is aan die orde van die dag.

Shêm, die ligte kan maar net nie aangaan vir hulle.

My siening ·

Lesufi jy is nie n hero nie maar n zero ek het in elk geval nie betaal nie wapnt ek betaal nie vir dom ANC besluite nie en jy is een van die kaders!

Piet parys ·

So maw mense wat nie daai paaie gebruik nie betaal nou vir daai area se mense se heel paaie sonder slag gate .

Disdit ·

Hier het die regering my geleer om nie hul wette in die toekoms na te kom nie, alhoewel ek nie gereeld e-tol snelwee gery het nie het ek wel betaal en gaan ek my geld verloor!

Pieter9 ·

Onthou net dit: Lesufi, ongeag wat nou gaan gebeur, het slegs een agenda en sit 8s om Wit en veral Afrikaans uit alle strukture te kry en te hou – maar hulle te laat betaal vir alles. Alle ander dinge is vir hom kantaantekeninge…hy werk ook 100% saam met die EFF om sy agenda in plek te kry.

Pietertjie ·

Dis nie die regering wat dit betaal nie, dis die belastingbetalers. Maak asseblief die opskrif reg.

Maritza ·

Ja nee, Lesufi moet nog sy sakke vol maak vir ou laas. Ek is een van vele wat nie die Sanral nonsens betaal nie maar tog kom dit uit my belasting geld. Hulle sal doen wat hulle kan om ons nog meer en meer uit te buit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.