Molefe, Singh se inhegtenisnemings verwelkom

Brian Molefe (links) en Anoj Singh (Foto’s: ANA)

Solidariteit het vandag die inhegtenisneming van Brian Molefe en Anoj Singh, weens beweerde korrupsie by Transnet, verwelkom. Hierdie inhegtenisnemings volg nadat Solidariteit vroeër vanjaar strafklagte teen Molefe en Singh by die Brooklyn-polisiekantoor aanhangig gemaak het.

Solidariteit sê hoewel hierdie inhegtenisnemings positief is, is geregtigheid alreeds hopeloos te lank uitgestel, en Suid-Afrikaanse burgers verdien onmiddellike optrede vanaf die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander strukture met betrekking tot ander beweerde staatskapers.

“Die absolute onreg van jarelange korrupsie en diefstal kan nie langer voortduur weens ʼn oneindige gesloer van ons strafregtelike stelsel se kant af nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Hierdie sake moet voortgaan. Hierdie stap is ʼn baie goeie tree in die regte rigting, maar daar moet deurlopende druk op ons veiligheidsdienste wees om hulle werk te doen, en enige verdere gesleep van voete sal nie geduld word nie.”

Hermann meen staatskapers het werkers se werk en toekoms asook belastingbetalers se swaarverdiende geld gesteel. “Ons kan nie toelaat dat werkers se werk en geld gesteel word en plunderaars vry rondloop met al die geld nie. Dit is ons plig om namens ons lede te help om staatskapers te vervolg.”

Solidariteit voer aan dat die skade wat korrupsie berokken nie beperk is tot finansiële verlies nie, maar dat dit die staat se vermoë om kritieke dienste te lewer vernietig, en dit kweek wantroue onder burgers teenoor ons regstelsel.

“As daar hoop en enigsins vertroue onder Suid-Afrikaners in die regsproses oorbly, moet daar nagevolge wees vir diegene wat hulself onregmatig verryk ten koste van die land se welvaart en voortbestaan. Suid-Afrika in die algemeen en werkers in die besonder eis verantwoordbaarheid. Ons wil mense in oranje oorpakke sien om as voorbeeld te dien vir enigeen wat dit weer sou oorweeg om werkers en belastingbetalers se geld te plunder,” sluit Hermann af.

Maroela Media het vroeër berig Molefe, Singh en nog twee van hul medebeskuldigdes is Maandag borgtog van R50 000 elk in die Palm Ridge-handelshof toegestaan voordat die multimiljoenrandsaak tot Oktober uitgestel is. Molefe en Singh en saam met Niven Pillay en Litha Nyhonyha, albei direkteurs van Regiments Capital, in die beskuldigdebank ingeskuif.

Die vier word saam met Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Garry Pita, voormalige finansiële hoof van Transnet, Phetolo Ramosebudi, voormalige tesourier van Transnet, Eric Wood, ’n aandeelhouer in Regiments, Daniel Roy, direkteur en batebestuurder van die maatskappy Trillian, en Kuben Moodley, eienaar van die maatskappy Albatime, aangekla weens die beweerde kaping van Transnet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Cherokee ·

Jy hoop dat daar niks van gaan kom nie. Solidariteit het die klag gelê en sal opvolg.

Waarnemer ·

En SA sing “halleluja”…..net tot die hofsaak voorkom dan bevind een vd kader regters hulle almal onskuldig.

Oosieoos ·

Molefe het transnet pensioenarisse se hofsaak probeer teenstaan gesê hulle het geskep in apartheid jare maar kyk wie staan toe eintlik agter die deur. Die groot wiel draai. Gooi die tronk sleutel weg

Samuel ·

Molefe en genote sal nie in my leeftyd die binnekant van ‘n tronk sien nie. Zuma-genote.

Jacobus ·

Stem saam daar gaan in my en my kinders se leeftyd niks van kom nie.

Hannes ·

“All in smoke and mirrors” soos die Engelsman sê, al die skielike aksies word strategies beplan om gesig te koop vir die 2024 verkiessing.

Prikkie ·

Waar daar lewe is, is daar hoop en Solidariteit lewe nog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.