Transnet-hoës moet hoes vir borgtog

Die vier jongste beskuldigdes Maandag in die hof. (Foto: Verskaf)

Brian Molefe en drie van sy medebeskuldigdes is Maandag borgtog van R50 000 elk in die Palm Ridge-handelshof toegestaan voordat die multimiljoenrandsaak tot Oktober uitgestel is.

Die voormalige hoof van Transnet het saam met Anoj Singh, ’n voormalige finansiële bestuurder by Transnet, Niven Pillay en Litha Nyhonyha, albei direkteurs van Regiments Capital, in die beskuldigdebank ingeskuif kort nadat hulle Maandagoggend in hegtenis geneem is.

Die vier word saam met Siyabonga Gama, voormalige uitvoerende hoof van Transnet, Garry Pita, voormalige finansiële hoof van Transnet, Phetolo Ramosebudi, voormalige tesourier van Transnet, Eric Wood, ’n aandeelhouer in Regiments, Daniel Roy, direkteur en batebestuurder van die maatskappy Trillian, en Kuben Moodley, eienaar van die maatskappy Albatime, aangekla weens die beweerde kaping van Transnet.

Molefe, Singh, Pillay en Nyhonyha word aangekla van die oortreding van die Wet op Bestuur van Openbare Finansies én bedrog, terwyl die res van die beskuldigdes teregstaan op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery.

Die aanklagte spruit uit ’n omstrede lokomotiefkontrak wat in 2012 aan die McKinsey-geleide konsortium toegeken is. Die tender het destyds gelei tot die verkryging van 1 064 lokomotiewe ter waarde van meer as R54 miljard.

Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die onafhanklike ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Regiments Capital is destyds onreëlmatig deur Transnet aan boord geneem en het uiteindelik voordeel getrek uit die onreëlmatige aanstelling.

“Die kontrakwaarde en omvang van die dienste wat benodig was, is later tot meer as R305 miljoen opgestoot. Hierdie ooreenkoms het, onder meer, die verkryging van die China Development Bank-lening en die Klublening ingesluit wat destyds ’n bedrag van $2,5 miljard (destyds R30 miljard) beloop het.”

Die beskuldigdes staan ook tereg op aanklagte wat verband hou met die R93,4 miljoen wat in 2015 aan Trillian Asset Management betaal is.

Lasbriewe vir die inhegtenisneming van Salim Essa en Ashok Narayan, wat tans in die buiteland is, is ook vandag uitgereik.

Die beskuldigdes sal na verwagting almal weer saam op 14 Oktober in die hof verskyn.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het die inhegtenisnemings verwelkom en sê Molefe en Singh het baie om te verklaar oor die miljarde rande wat Suid-Afrika weens staatskaping verloor het.

“Hulle was nie net betrokke by staatskaping by Transnet nie, maar ook later by Eskom, die staat se kreupel kragvoorsiener,” sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

Adv. Andrea Johnson, hoof van die ondersoekdirektoraat, het Maandag se inhegtenisnemings en hofverskyning as ’n belangrike mylpaal in die eenheid se verwikkelde ondersoeke na die plundering van Transnet bestempel.

“Ons sal in samewerking met die Valke verseker dat ons voortgaan om die bewyse te volg en diegene in hegtenis te neem en te vervolg wat na bewering deel was van die plundering van die staatskas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

marius ·

R50 000 haal hulle uit die blink wa se paneelkissie sonder om iets agter te kom . Patetiese regstelsel .

Althes ·

Mooi man, nou net die volgende stap vir suksesvolle vervolging

Nicholaas ·

Ek stem, 1 vir 1 val hul die top dog sal die laaste dag kry maar hul beurt kom ook.

Pietertjie ·

Hulle hoef nie eens self die geld te gaan haal nie, dis die chauffeur se werk.

Marius ·

Ek reken R 50,000 is kleingeld in vergelyking met R93 mil.
Siestog is dit die beste wat die regmens kon doen. Hulle het basies gese wat hulle wil betaal vir borg.

Nie Verbaas ·

Ag nou toe nou. Wys ons wie is al agter tralies. Verskyn in hof, kry borgtog en saak sloer vir jare. Kyk na hoeveel jare is byvoorbeeld Magashule nog vry. En van toesluit vir hom sal dadels kom net soos Zuma, Malema, ander VBS kaders en nog en nog.

Kobus ·

Stel voor die borgstelsel word verander na 10% van die bedrag waarvoor hulle aangekla word. R50,000 is popcorn geld vir hulle

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat ‘n pragtige foto. Ek het skoon trane in my oë.

Wondermaarnet ·

Waar is Molefe nie doenig met sy onderduimsheid nie? Steeds loop hy vry.

domheks ·

Het Brain Molefe al die R10,000,000 pensioengeldjies terug betaal? Shame, siestog almal is dan sooooo onskuldig! Die oge is seker weer vol trane…. Heheheheheee

Watsenaam ·

Pragtig! Kyk net hoe trots staan die manne daar. Geen borgtog moes aan hulle toegestaan gewees het nie.
Hulle moes in die tronk gesit het, totdat hulle saak moet voorkom. Anders koop hulle net ander mense om , om so lank as hulle kan uit die tronk te bly. Ek ken verskeie pensioenarisse wat swaarkry omdat hulle hard verdiende transnet pensioen geld, ook spoorloos verdwyn het.

Johannes ·

Sal maar net die gewone gang gaan. Van een hof na die ander. Sal nooit skuldig bevind word in hul leeftyd nie.

Oosieoos ·

Ai dis darem leker as daai groot wiel draai kry vir jou brian mos transnet pensioenarisse beledig

Strandloper ·

Grapkaste die kader regstelsel. Geen haan sal ooit daarna kraai nie!

Servaas ·

As mens kyk na die astronomiese bedrae betrokke is R50 000 eintlik n druppel in hul emmer.

SjN ·

Hoekom weer uitstel tot Oktober, al die bewyse is mos in hul besit, 0,005% borg betaal bereken teen bedrag betrokke elk, lagwekkend, hou hulle dan sommer in veilige bewaring tot volgende verskyning, gaan net weer buite verder plunder en bedrieg.

LANA is ELANè ·

As hulle een enkele dag in ñ tronksel sal deurbring eet ek my hoed op, dit gaan net weer ñ jarelange uitgestellery van formaat wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.