Moordverdagte ‘speel vinnig en los’ met die waarheid

Die beskuldigdes het Maandag in die rondgaande hof in Parys verskyn. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Die staat het Dinsdag in die hof gesê dat die hoofverdagte in die moord op ʼn paartjie van Sasolburg “vinnig en los” met die waarheid speel, veral wanneer dit sy weergawe van gebeure beter pas.

Stanley Lingena en sy medebeskuldigde, Sithembiso Hlongwane, het Dinsdag in die rondgaande hof op Parys verskyn, waar hulle tereg staan vir die moord op Annie Liebenberg (62) en haar lewensmaat Michael Zantow (64) in 2021. Lingena was werksaam vir die paar.

Tydens Lingena se kruisondervraging het die staat aangevoer dat hy al by verskeie geleenthede sy weergawe van gebeure verander het.

“Jy [Lingena] maak voortdurend aanpassings aan jou getuienis en hoewel elke getuie geregtig is om dele van sy of haar getuienis te verduidelik, raak dit ʼn probleem wanneer die weergawes mekaar weerspreek,” het die aanklaer gesê.

Volgens die staat is daar krake in elke weergawe van ʼn gebeurtenis wat Lingena gee. Dit word geïllustreer in die wyse waarop hy die dag onthou toe die polisie hom vasgetrek het vir die betrokke moorde.

Die staat voer aan Lingena se weergawe van wat die betrokke dag gebeur het, het al drie keer verander sedert hy destyds in die landdroshof verskyn het. Nie een van die weergawes stem boonop ooreen met dit wat konst. Chrissie van der Linde, ondersoekbeampte in die saak, verlede jaar in die hof getuig het nie.

“Waarom hou jou getuienis aan [om te] verander? Dit is omdat dit gefabriseer is,” het die aanklaer aan Lingena gesê.

Nog goed klop nie

Stanley Lingena (links) en Sithembiso Hlongwane (regs). (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Lingena het in sy getuienis aangevoer dat Zantow die dag van sy dood (Vrydag 20 Augustus 2021) sy wit Volkswagen Jetta aan Lingena geleen het, sodat hy geredelik oor daardie naweek by Zantow se huis ʼn draai kon maak om dit te beveilig terwyl hulle met vakansie is.

Die staat voer egter aan dit is hoogs onwaarskynlik dat Zantow ʼn “sentimentele item soos sy oorlede ouers se motor” aan Lingena sou leen en boonop Lingena sou vra om sy huis op te pas terwyl sy broer slegs ʼn paar strate van hom af woon. Lingena het boonop nie ʼn rybewys nie.

“Zantow se dogter, Claudia, het verlede jaar getuig dat haar pa nie eens haar broer toegelaat het om die motor te skuif wanneer dit gewas moes word nie,” het die aanklaer gesê.

“Maryke, Liebenberg se dogter, het ook getuig dat sy nie eens die motor kon toetsbestuur toe sy daarin belanggestel het om dit te koop nie.

“Dit is duidelik dat jou stories nie klop nie.”

Die paartjie het volgens Lingena die betrokke Vrydag eers vir hom gesê dat hulle met vakansie gaan en hom gevra om die huis op te pas.

Volgens Lingena het hy in die verlede al na sy werknemer se huis omgesien, daarom het Zantow hom met hierdie verantwoordelikhede vertrou. Die aanklaer het teruggekap dat dit die eerste keer is wat dié feit onder die hof se aandag gebring is, en daarom aangevoer dat dit “ʼn fabrikasie van die waarheid” is.

Die verhoor is Dinsdag kort geknip weens beurtkrag, maar sal Woensdag voortgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johanna ·

Liég Soos n vlieg en jok Soos n bok my Dit Kan hul goed down.

Miskruier ·

Wil mens elke dag met sulke mense saamleef? Ek sal self…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.