Mosie van wantroue teen Tshwane-speaker oorweeg

Die raadsvergadering in Tshwane, waartydnes ‘n nuwe burgemeester aangestel moes word. (Foto: Stad Tshwane/Twitter)

ʼn Spesiale raadsvergadering sal Maandag plaasvind met die doel om ʼn mosie van wantroue teen die speaker van die Tshwane-raad, Mncedi Ndzwanana, te oorweeg.

Dít nadat die speaker Woensdag ʼn raadsvergadering waartydens ʼn nuwe burgemeester verkies moes word, verdaag het. Lede van die veelpartykoalisie in Tshwane meen dié aksie was onwettig en hulle het gevolglik ʼn petisie opgestel om te vra dat ʼn spesiale vergadering Maandag gehou word. Die petisie is deur al die raadslede binne die koalisie geteken.

ʼn Spesiale raadsvergadering is reeds vir Dinsdag geskeduleer, met die doel om ʼn derde keer te poog om ʼn nuwe burgemeester vir die Stad aan te stel. Die DA wou egter hê dié vergadering moes reeds Vrydag plaasgevind het en het ʼn regsbrief, asook ʼn petisie in dié verband aan die speaker gestuur.

In ʼn verklaring Vrydag het Ndzwanana ontvangs van hierdie dokumente erken, maar nietemin aangedui dat die raadsvergadering Dinsdag sal plaasvind. “Dit is my hartswens dat ʼn nuwe burgemeester so spoedig moontlik aangestel kan word, sodat die stadsraad normaalweg kan funksioneer,” het hy gesê.

Die Stad is steeds leierloos nadat Randall Williams in Februarie as burgemeester bedank het. Sy opvolger, dr. Murunwa Makwarela, is kort daarna as raadslid afgedank, aangesien hy in 2016 insolvent verklaar is. Indien Maandag se mosie slaag, sal ʼn nuwe speaker eers verkies moet word voordat die verkiesing van die burgemeester kan voortgaan.

Die veelpartykoalisie is oortuig daarvan dat lede van die EFF-ANC-koalisie alles in hul mag doen om die aanstelling van ʼn nuwe burgemeester te vertraag, sodat die ANC-geleide provinsiale regering rede sal hê om in te gryp en beheer van die Tshwane-raad kan oorneem.

“Deur die speaker Maandag uit sy amp te verwyder, sal die ANC en EFF nie hierdie posisie kan gebruik ter vertraging van die proses om ʼn nuwe speaker en burgemeester te verkies nie,” het koalisiepartye Saterdag in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.