MRK veroordeel boendoegeregtigheid in Diepsloot

Argieffoto (Foto: Guillem Sartorio, AFP)

Die Menseregtekommissie (MRK) is besorg oor die voortgesette spanning in Diepsloot, Gauteng.

“Die gewelddadige moord op Elvis Nyathi op Woensdag 6 April is ʼn tragiese en gewelddadige voorval van boendoegeregtigheid. Dit moet deur alle wetsgehoorsame burgers veroordeel word,” sê Gushwell Brooks, woordvoerder van die MRK.

Maroela Media het vroeër berig ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur na die onbevestigde aantal verdagtes wat betrokke was by die moord op die 44-jarige Elvis Nyathi, ʼn Zimbabwiër wat vroeër die week deur vigilantes vermoor is. “Die polisie het Woensdagaand die gebied gepatrolleer toe hulle op die toneel afgekom het waar die verdagtes die oorledene aangeval en aan die brand gesteek het,” het kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die MRK is baie besorg oor ongelyke polisiëring en gemeenskapsveiligheid in verskeie gemeenskappe reg oor Suid-Afrika. Dit wil voorkom of gemeenskappe, wat ʼn groter las het van werkloosheid en armoede, proporsioneel minder polisiehulpbronne beskikbaar het. Dit lei tot hoër vlakke van misdaad. Hierdie omstandighede regverdig egter hoegenaamd nie onder enige omstandighede individuele of groep-boendoegeregtigheid nie.”

Die kommissie benadruk sy versoek aan gemeenskapsleiers, politici en staatsamptenare om nie gewone lede van die gemeenskap aan te moedig om die reg in eie hande te neem nie. Dit is onwettig en uiters gevaarlik indien gewone lede van die gemeenskap mense se huise betree en hulle sonder behoorlike prosesse van misdaad beskuldig en dan gewelddadige, en gereeld dodelike, aksie neem.

“Die kommissie doen ʼn beroep op die SAPD en alle ander staatsinstansies om die nodige hulpbronne te verskaf aan die betrokke gemeenskappe om seker te maak hulle voel veilig en sodat hulle hul basiese menseregte ten volle kan geniet. Die kommissie versoek ook ʼn volledige ondersoek na die moord op mnr. Nyathi, en dat diegene wat verantwoordelik is, aangekla en vervolg sal word.”

Die kommissie is ook besorg dat kwesbare groepe, veral uitlanders, geteiken word en sondebokke gemaak word vir die voorkoms van maatskaplike probleme in gemeenskappe. “Verskeie individue as gemeenskapsleiers, en groepe, het onlangs olie op die vuur van xenofobie gegooi deur die skuld vir maatskaplike probleme soos misdaad, armoede en werkloosheid voor die deur van immigrante in Suid-Afrika te lê.”

Die kommissie hoop dat vinnige optrede om die misdadigheid in Diepsloot te hanteer, en versoeke aan alle betrokke persone, beamptes en die gemeenskap van Diepsloot om wetsgehoorsaam te bly en kwessies op te los op ʼn manier wat aanvaarbaar is in ʼn demokrasie, suksesvol sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Snowball ·

Die meerderheid Polisie het soos die ANC geword – hulle is daar vir eie gewin en gemak. Wanneer dit by reg en geregtigheid en wetstoepassing kom sukkel hulle daarmee net soos party van hulle sukkel om te spel as hulle ‘n verklaring moet afneem of ‘n wapenbevoegdheidsertifikaat moet bekom – “it is simply a bridge too far” Kyk na hulle hoofman Cele, dan verstaan jy waarom boendoegeregtigheid al uitweg word vir gemeenskappe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.