‘My hart is gebreek’; familie rou ná dood van geliefde sakevrou

(Foto: Facebook/Carine Strydom)

Die ongeluk wat die lewe van die voormalige Springbok-rugbyspeler Theuns Stofberg (68) geëis het, het ook ʼn familie van Moorreesburg in rou gedompel.

Die ongeluk – ʼn trompop-botsing tussen drie motors – het Maandagaand op die Koelenhofpad (R304) buite Stellenbosch plaasgevind.

Maroela Media het vroeër berig dat Stofberg ná die ongeluk in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem is. Hy is vroeg Woensdagoggend dood.

Theo Strydom (65), eienaar van die Spar-winkels op Moorreesburg en die Lions Square-winkelsentrum op Somerset-Wes en ook op Stellenbosch, was Maandagaand agter die stuur van die voertuig toe sy vrou, Carine (65), met wie hy 44 jaar lank getroud was, in die ongeluk van hom weggeruk is.

“Ons gaan gereeld vir besigheid Somerset-Wes toe en was op pad terug na ons huis in Moorreesburg.

“Ons het anderkant Beyerskloof gery; daar was ʼn bakkie voor my.

“Die volgende oomblik sien ek ʼn voertuig in die aankomende verkeer wat in ons baan aangejaag kom en die bakkie voor ons gaan tref,” sê Strydom.

“Die bakkie het egter uitgeswaai en ek moes in ʼn splitsekonde ʼn besluit neem.”

Volgens Strydom het hy daarna ook uitgeswenk om ʼn ongeluk te probeer vermy.

Dit was egter reeds te laat.

“Die aankomende voertuig het – ten spyte van sy pogings om uit te swaai – steeds met die bakkie voor ons gebots, waarna dit teruggespring het en ons voertuig getref het. Die passasierskant het groot skade opgedoen, my vrou se kant,” sê Strydom.

‘Jammer, meneer … sy is weg’

“Ek het gedink sy is net bewusteloos, ek het by haar probeer uitkom. Ek wou haar help, maar daar was nie ʼn manier om haar uit die voertuig te kry nie.”

Volgens Strydom het hy daarna gaan hulp soek, maar het hy nooit weer die kans gekry om terug na die ongelukstoneel te gaan nie.

(Foto: Facebook/Theo Strydom)

“Ek het haar nooit weer daarna gesien nie.

“Ek is net later oor haar dood ingelig: ‘Ek is jammer, meneer, ek het alles probeer… sy is weg’.”

“Ons vermoed sy is op slag dood,” sê Strydom.

“Ek is wonderbaarlik eintlik ongedeerd. Ek het hier en daar ʼn pyntjie, ʼn paar stampe en stote, maar my hart is gebreek.”

“Ek wil graag die regte woorde gebruik, ek wil dit vir jou mooi stel…” het ʼn emosionele Strydom aan Maroela Media gesê.

“My vrou was ʼn mens-engel, sy was die mooiste Jesus-kind.

“Sy was die liefdevolste mens, sy het regtig net liefde in haar gehad.

“Sy was ʼn baie gelowige persoon en het altyd gesê sy doen net wat liefdevol, mooi en aanneemlik is. Sy het almal geestelik op haar hande gedra.

“Sy het haar plek in hierdie lewe volgestaan, almal ken haar as ʼn vrou wat vir jou die lig sal wys. Sy was voorwaar ʼn lewende voorbeeld van ʼn Jesus-mens.

“Die hele Moorreesburg sal daarvan getuig,” sê Strydom.

Janine Fourie (39), die Strydoms se dogter, sê Carina was ʼn wonderlike ma en ouma en het altyd geglimlag.

“As jy gaan kyk na die huldeblyke wat vir my ma instroom, sal jy verstaan hoe geliefd sy was.

“Sy was ʼn onderwyser voordat ons die Spar-winkels gehad het. Sy het ʼn massiewe impak op soveel mense en kinders se lewe gehad. My ma het Jesus op haar mou gedra. Sy het Jesus se liefde elke dag uitgebeeld,” sê Fourie.

“My ma het altyd geweet hoe om mense spesiaal te laat voel. Jy kon met haar oor enigiets praat, sy kon net sowel ʼn sielkundige wees.”

Carine word oorleef deur haar man, twee kinders en vier kleinkinders. Haar begrafnis vind Maandag om 11:00 op Moorreesburg plaas.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Bolandse Nooi ·

Ai, mnr. Strydom, my hart is stukkend vir jou. 44 jaar … dis ‘n LEEFTYD!!! Uit (gebrekkige, aanvanklike) media berigte het mens verkeerde afleidings gemaak, aangeneem dat jou vrou bestuur het en die ongeluk veroorsaak het. Daar was ook geen melding van ‘n derde voertuig nie. Daarvoor vra ek namens almal om verskoning. Dit leer mens een groot les – moenie té vinnig op die “bandwagon” spring en saamskree nie. Sterkte aan die uitgebreide gesins-, familie- en vriendekring van albei oorledenes van hierdie ongeluk.

Karoo ·

Inige simpatie, hoe gerustelend om die wereld te verlaat weetend dat jy ‘n merkbare impak op soveel lewens gemaak het. Die dood kom nooit op’ n “goeie tyd” nie. Sterkte aan almal wat lief was vir die Dame.

Hannelie ·

Mnr Strydom baie sterkte aan die gesin en familie. Mens lees altyd van die berigte wat mense se lewens in ‘n oogwink handomkeer kan verander, maar niemand staan in daardie persone se skoene wat met hierdie verskriklike seer loop nie. Dink aan julle en Theuns Stofberg se familie.

Ronel ·

Dis so hartseer! As ek na haar foto kyk kan ek die sagtheid en vrede uit haar sien straal! Sterkte aan haar familie en vriende!

Chris ·

Met die afsterwe van enige geliefde is dit erg traumaties. Dit is nog erger as die persoon een oomblik leef en die volgende oomblik weg is. Siekte/lyding met ‘n persoon wat sterf is dit te wagte. Ek het gewoonlik nie woorde vir mense nie. Die hartseer verdof na ‘n baie lang tyd. Gelukkig bly die mooi lekker herinneringe altyd. Sterkte vir die hele familie. Mag julle berusting vind.

Nettie ·

Watte pragtige getuigskrif. Julle kan so trots wees om so ‘n vrou julle ma, ouma, vrou of vriendin te genoem het. Mag sy in vrede rus, en mag Jesus julle dra deur hierdie swaar dae. Tot die Wedersiens, julle weet waar sy wag op julle!

Lillian ·

Dit is bitter hartseer… Baie sterkte aan hierdie gesin, familie wat só formidabele vrou moet groet.

M ·

Maroela …. geen melding word gemaak van die Bakkie se bestuurder /mense nie . enige nuus van hulle kant ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.