Myndrama kom tot einde

Lede van die mynwerkersvakbond Amcu vergader in die Gold One-myn in Springs. (Foto: Guillem Sartorio/AFP)

Al 562 mynwerkers wat byna drie dae lank ondergronds by die Gold One-myn in Springs na bewering as gyselaar gehou is, het teen Woensdagmiddag met behulp van die polisie na die oppervlak gekom.

Die eerste groep werknemers het vanoggend begin uitkom.

“Al die mynwerkers is uit en ons probeer net kyk of daar nog mense is wat beseer is,” het Ziyaad Hassam, die myn se hoof van regsdienste, teen vanmiddag gesê.

Solidariteit het sedertdien Amcu se optrede ten sterkste veroordeel.

Altesaam 34 van Solidariteit se lede is teen hul wil ondergronds aangehou. Die totale getal werkers wat aangehou is, sluit in 67 vroue, 28 persone bo die ouderdom van 60 jaar en 63 persone wat van chroniese medikasie afhanklik is.

“Dit was onmenslike optrede van Amcu wat ernstige gesondheid- en veiligheidsrisiko’s vir die werkers ingehou het, en dít komende van ʼn vakbond wat verkondig dat hul unie op Bybelse beginsels gegrond is,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

“Dit is juis die rol van vakbonde in Suid-Afrika om hul lede se werksomstandighede te verbeter. Hulle is veronderstel om ʼn veilige omgewing te skep waarin Suid-Afrikaners kan werk, en om enige geskille in die werkplek binne die raamwerk van toepaslike arbeidswetgewing te hanteer.”

Dana Grové, netwerkorganiseerder van mynbou en landbou by Solidariteit, sê Amcu se optrede is strydig met die beginsels wat hulle verkondig en vandeesweek se optrede gaan ernstige gevolge inhou.

Hassam het vroeër gesê ’n paar werkers het ondergronds aan ’n “sittende betoging” deelgeneem. Die meerderheid is egter teen hul wil deur Amcu-geaffilieerde werkers aangehou.

Volgens Solidariteit het die drama ontstaan weens Amcu se soeke na erkenning en organisatoriese regte by die myn. Dit is na aanleiding van die feit dat Gold One ingevolge ʼn sogenaamde geslotegeledere-ooreenkoms slegs NUM as vakbond erken.

“Gevolglik het ʼn groep Amcu-lede na afloop van Sondag se nagskof verhoed dat nagenoeg 562 werknemers die myn verlaat.”

Amcu ontken egter dat enige werknemers aangehou is en sê al die werknemers het uit protes teen Gold One se bestuur geweier om die myn te verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann ·

Soek daai ledegelde vir die “kolekte bordjie”. Gee nie n zir om vir enigiemand anders as hul eie ek en self nie. En kom daarmee weg. Is wat gebeur as die veronderstelde goeie beginsel van vakbonde in SA polities bemagtig word.

Sê maar net ·

Daai arme mense wat teen hul wil aangehou is….dankie Here hulle is nou veilig!

Danie ·

Solidariteit se mense moet n saak van ontvoering,onwettige aanhouding en geestelike aanranding teen Amcu maak.

Jean ·

Soos iemand aangekla was toe daai ou weermaglede van die ministers gyselaar gehou het. Kort antwooord NEE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.