Nat naweek lê voor

(Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Suid-Afrikaners kan ʼn reënerige paar dae verwag, met reën van minstens 20 mm per dag wat vir KwaZulu-Natal voorspel word.

Volgens Quinton Jacobs, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, is daar ʼn 30%-kans vir reën Saterdag in die oostelike dele van die Vrystaat, die sentrale dele van Mpumalanga en die oostelike dele van Gauteng.

Teen Sondag sal die reënbuie na die res van genoemde provinsies versprei, asook na Noordwes, KwaZulu-Natal en die oostelike en suidelike dele van die Oos-Kaap.

“Daar is ʼn 60%-kans vir reën vir hierdie provinsies, uitsluitend KwaZulu-Natal, waar daar ʼn 80%-kans vir reën voorspel word,” sê Jacobs.

Volgens Jacobs sal die reën waarskynlik die hele week in hierdie provinsies voortduur. Die wolke sal ook teen die naweek in die Noord-Kaap en Wes-Kaap saampak.

Reën het reeds die afgelope week oor die noordoostelike dele van die land uitgesak, met swaar donderstorms wat dele van Gauteng, Mpumalanga en Limpopo getref het.

Reënval van onderskeidelik 33 mm en 32 mm is Donderdag by die Estcourt Wagendrift-dam en Newcastle in KwaZulu-Natal aangeteken.

In die Vrystaat is 25 mm in Bethlehem en Bothaville aangemeld, gevolg deur 24 mm in Kroonstad. In Noordwes is 30 mm reën in Potchefstroom en 23 mm in Lichtenburg aangeteken.

In Gauteng is 20 mm reën in Roodepoort en 19 mm in die omgewing van Vereeniging aangeteken. Machadodorp en Belfast in Mpumalanga het elk 12 mm ontvang, terwyl Lephalale en Mokopane in Limpopo reën van onderskeidelik 30 mm en 16 mm aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petrus ·

Ja asseblief HERE, kan ons ook ‘n bietjie reën in die Wes-Kaap kry?

Koen ·

Kry vir Angus. Hy het ‘n oop lyn en as hy bid sal daar sekerlik reën binne dievolgende 8 jaar val. Dis gewaarborg. En ek verneem sy tariewe is redelik. Net so bietjie petrolgeld vir sy helikopter.

Wildemien ·

Wes-Kaap is ‘n winter reenval-streek. Dit is nou somer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.