Ndlovu-jeugkoor terug op ‘America’s Got Talent’-verhoog

Lede van die Ndlovu-jeugkoor (Foto: Facebook)

Die Ndlovu-jeugkoor gaan eersdaags terugkeer na die America’s Got Talent (AGT) verhoog waar hul in 2019 internasionale bekendheid verwerf het.

Dié gewilde Suid-Afrikaanse sanggroep het aangekondig dat hulle Maandagaand wéér hul talent op AGT ten toon sal stel as deel van dié program se derde “all-stars”- reeks waar 60 wenners, finaliste en aanhangersgunstelinge met mekaar meeding vir prysgeld van $500 000 (sowat R8,5 miljoen).

Volgens die groep sal hul eerste optrede Maandagaand in die VSA uitgesaai word en kort daarna vir die res van die wêreld beskikbaar wees.

Dié koor het in 2019 harte wêreldwyd geroer tydens die 14de reeks van AGT, waar hulle tot die toptien deurgedring het.

Hoewel hulle nie as wenners uit die stryd getree het nie, het die groep steeds ʼn kontrak by AGT-beoordelaar Simon Cowell losgeslaan en sedertdien die wêreld vol gereis, drie albums bekendgestel en die verhoog met bekendes soos P!nk en Karin Zoid gedeel.

Maroela Media het vroeër berig dat dié groep uit die Moutse-nedersetting in Limpopo kom en afgerig word deur Ralf Schmitt. Al die koorlede kom uit armoedige omstandighede en baie van hul ouers is oorlede, wat veroorsaak dat hulle self na hul sibbe moet omsien.

Hul optredes en verwerkings van bekende liedjies soos Michael Jackson se “Man in the Mirror” en Ed Sheeran se “Shape of You” het ook miljoene kykbeurte op YouTube en Facebook gehad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

LIEZL ·

Maar julle is van Suid Afrika, hoe werk dit? Dit is America’s got talent

George ·

Maar, dis dan n westerse land?? Nee wat, julle 15min is op, niks so hartseer soos die wat bly klou aan iets van die verlede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.