Nee, die kragnetwerk gaan nie omval

Volgens ‘n onafhanklike kragkenner is Suid-Afrika allermins op die rand van ‘n kragnetwerk-ineenstorting. (Foto: Du Preez de Villiers)

Groot paniek en konsternasie het gedreig ná ʼn stemboodskap deur iemand wat hom as ʼn amptenaar van Old Mutual voordoen – en wat waarsku teen ʼn algehele ineenstorting van die kragnetwerk – Dinsdag soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het.

Die onafhanklike energiekenner Chris Yelland benadruk dat die land hoegenaamd nie op die rand van ʼn algehele kragineenstorting is nie. “Fase 4-beurtkrag beteken dat verskaffing en aanbod gebalanseer word. Slegs ʼn enorme stelselontwrigting sal tot ʼn ineenstorting lei en ons is baie ver daarvan.”

Die Afrikaanse stemboodskap, kwansuis deur die voorsitter van Old Mutual, waarsku dat die kragineenstorting binne die volgende vier tot 15 dae kan gebeur, waarna pres. Cyril Ramaphosa ʼn ramptoestand sal afkondig. Dieselverkope sal luidens die boodskap daarna opgeskort word en dieselvoorraad sal vir opwekkers by ouetehuise en hospitale gereserveer word.

Die persoon moedig mense ook aan om te verseker hulle het gas, vleis en braaihout en hy waarsku dat internetbankdienste in hierdie tyd van lyn af sal wees. Hy sê mense moet seker maak hulle het genoeg kos.

“Niemand kan sê wanneer dit gaan gebeur nie. Ons vermoed dit kom definitief. Van die mense wat vir ons werk se familie werk by Eskom en hulle beaam dit 100%. Hulle sê daar is nie eens meer ʼn kans dat dit nie gaan gebeur nie; dit kom definitief.”

Die persoon waarsku ook dat fase 9- of selfs fase 10-beurtkrag in hierdie tyd ingestel kan word. “Ons is dalk sitting ducks hier in die nag, veral as die manne honger is,” lui die boodskap.

Eskom het in reaksie gesê hy is bewus van die boodskap wat “probeer paniek saai” en “voorgee om van die voorsitter van Old Mutual te kom”.

“Ons het die maatskappy in kennis gestel. Daar is geen gronde vir die opname nie,” het ʼn kort verklaring van Eskom gelui.

Suid-Afrikaners is nietemin uiters onrustig, veral nadat Eskom die afgelope week aangekondig het dat hy niks meer geld vir diesel het om sy oopsiklus-gasturbines aan die gang te hou nie. Die kragvoorsiener maak op dié turbines staat om hoër fases van beurtkrag te vermy.

Eskom het sedert 1 April reeds meer as R12 miljard aan diesel bestee en het gesê hy het eenvoudig net nie nog geld daarvoor nie. Diesel sou, onder die huidige omstandighede, eers weer in April volgende jaar (in die nuwe boekjaar) aangekoop kan word.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het Sondagaand met Eskom se bestuur vergader en daarna aangekondig dat die kragvoorsiener met die departement en die nasionale tesourie sal saamwerk om geld vir diesel te vind.

Algehele ineenstorting ‘hoogs onwaarskynlik’

Die stemboodskap lui onder meer dat mense genoeg kos moet bymekaar maak en dat diesel nie te koop sal wees nie. (Argieffoto: Du Preez de Villiers)

Mense dink dikwels hoër vlakke van beurtkrag beteken die land is al hoe nader aan ʼn kragineenstorting, maar Yelland sê die feit dat beurtkrag toegepas word, beteken juis dat die stelsel stabiel gehou word.

“Die probleem ontstaan wanneer aanbod en vraag nie in balans is nie en geen stappe gedoen word om daardie balans te vind nie.”

Yelland sê Eskom kan ook nie daarvan beskuldig word dat hy niks doen om die situasie bestendig te hou nie. Inteendeel. “Daar is nog baie opsies beskikbaar vir Eskom.”

Die onlangse dieselsituasie is wel rede tot kommer omdat dit beurtkrag met twee fases opstoot.

“Dit het ekonomiese gevolge; dit veroorsaak ontwrigting aan die ekonomie – maar op die oomblik veroorsaak dit nie die gevaar van ʼn algehele ineenstorting nie.”

Daar is boonop noodreserwes van diesel beskikbaar en dit sal in die geval van ʼn uiterste noodgeval gebruik word.

Hy sê dit is ook waarskynlik dat Suid-Afrikaners sukkel om Eskom te vertrou wanneer die maatskappy benadruk dat ʼn ineenstorting nie op hande is nie. “Daar is ʼn mate van sinisme en dit is ʼn werklikheid wat Eskom moet hanteer.”

Yelland sê ook hoewel die risiko van ʼn netwerkineenstorting nie onmoontlik is nie, bly dit onwaarskynlik.

Mense het egter rede om angstig te voel oor die vooruitsig van ʼn kragineenstorting – al is die kans daarop geweldig skraal.

“Só ʼn ineenstorting sal vir seker tot groot chaos lei. As jy vir ʼn paar dae nie krag het nie, gaan jy ook nie water hê nie. Selfone en kitsbanke gaan nie werk nie, winkels sal sluit en die internet sal afskakel. Dit maak alles staat op krag en batterye en diesel. Jy sal nie kan brandstof koop nie.

“Waarop dit neerkom is dat die land in donkerte sal wees, sonder water, kos en geld. ʼn Algehele ineenstorting is ʼn skrikwekkende ding om aan te dink. Verbeel jou plundering op ʼn massiewe skaal. Dít is hoekom dit angswekkend is.

“Eskom het egter rye en rye hefbome wat hy kan gebruik om dit te verhoed. Ek slaap rustig snags.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Fases 5 tot 8 is ons voorland, volgens Ted Blom. Dan is ons op die afgrond. Een trippie en ons is in ‘n vryval.

Johann ·

Mmmmmm? Daars al ‘n hele paar dinge gewaarborg wat nie sal gebeur nie en toe klap die realiteit van die ANC LEGACY van onbevoegde kaders ons soos ‘n slap snoek tussen die oë?

Elma ·

gaan NOG nie inmekaar tuimel nie.
OM se voorsitter is beslis nie een van die 44 Afrikaanssprekendes in ons landjie nie!

Jaco ·

Skrikwekkend. Maar al stort die kragnetwerk nie ineen nie, dink net aan die algehele ramp wat Kaapstad sal tref wanneer ‘n regstellende aksie aangestelde eskom werker, sonder opleiding en ondervinding (dit tel mos nie; dis mos rassistiese westerse konsepte), die verkeerde knoppie by Koeberg kernkragstasie druk…..

Anton ·

Indien dit dan net n storie is om paniek te saai, moet die persoon wat die boodskap geskep het vervolg word.
Dit is dieselfde as om geweld aan te wakker en geweld goed te praat op sosiale media.
Ons sal weldra uitvind of dit die waarheid is of nie.
Hy wat oppad is na nerens sal spoedig by nerens uitkom. Dankie Eskom.

Wielspore ·

Knoop hom, sit hom in die tronk. Sulke mense verdien nie ‘n platform om boodskappe uit te stuur. Hoop hy word opgespoor en vervolg.

Wielspore ·

Dit is ‘n bog storie, ons is self IPP en verskaf krag aan ESKOM se grid. Die storie wat rondloop is propaganda, ons het nie sulke soort mense nodig in SA.

Republikein in die Wes Kaap ·

Eskom se netwerk kort R187 miljard, volgens De Ruyter. Dis die volgende krisis. Wat help dit IPP pomp krag in ‘n netwerk wat gaan knak.

Piet 6 ·

Ek hoop hulle sluit die persoon wat dit versprei het toe en gooi die sleutel weg.
Baie ou mensies het geloop om hulle laaste paar sente te trek. Hoeveel van hulle is nie beroof nie?
Hoevel paniek word nie gesaai nie?

Ek wens net die mense wil besef dat sodra iemand ń grootkop se naam ( soos in die geval Trevor Manual) aan die berig koppel is dit fopnuus. Trevor Manual sal nie iemand kry om ń boodskap op sosiale media namens hom te plaas nie.

Die hoof van enige maatskappy sal ook nie so iets op WhatsApp versprei nie, hy sal ń persverklaring uitreik nadat hy met belange groepe beraadslag het.

Dit is maar enkele punte wat duidelik uitstaan met fopnuus.

annie ·

Ou Siener Van Rensburg het iets soortgelyk in ±1901 vir die verre toekoms voorspel. Mens raai die nuwe siener het die ou siener se voorspellings van toepassing gemaak. Dinge lyk wel erg deurmekaar in SA wat sulke gebeure ‘n moontlikheid maak. Vrees vir die toekoms vreet aan almal. Onthou tog die toiletpapier…

Cherokee ·

annie, wat gaan jy met die toiletpapier maak as daar nie lektrisiteit is om water na jou huis te pomp? Dit sal nie weggespoel kan word nie.

Surizaru ·

Cherokee, dan kan Annie darem haar boude afvee nadat sy in die tuin gehurk het :-)

Cherokee ·

Surizaro, dit kan ernstig wees! Dink aan al die wolkekrabbers waarvan toilette nie gespoel kan word omdat daar nie water is nie! Op ‘n ernstige noot, die drukking agter die water is genoeg om sonder pompe na woonstelblokke se dakke gestoot te word, maaaar… die munisipaliteite sal nie die elektrisiteit hê om die water na woongebiede te stuur.

Nie Verbaas ·

Die kragnetwerk het klaar omgeval en die ekonomie geweldig geknou. ANC se definisie van omgeval is as die laaste vuurhoudjie gebruik is.

Pieterbusa ·

Dankie vir die berig. Mense wat sulke twak kwytraak en dan vir die hele land aanstuur doen meer skade as goed. Ek hoop hy word opgespoor

Harley Davidson ·

Ek was onder die indruk dat die krag netwerk reeds inmekaar getuimel het.

marius ·

Nie onmoontlik nie maar onwaarskynlik . Uit die perd se bek .

Martie Smartie ·

Mnr Yelland, jy is omtrent so oortuigend soos Eskom en die ANC kaders wat dit bestuur (plunder) … Het jy al gehoor vd SAL, Denel ens ens?

Hoekom ·

Ons betaal eskom vir krag, ons betaal vir die diesel wat ons in ons kragopwekkers gooi as daar loadshedding is. Nou gaan hulle ons nog laat betaal vir die diesel wat hulle wil gebruik. Ons betaal die regering heftige belasting, van die meeste ter wereld om na die land en ons gemeenskaplike behoeftes omtesien en wat sien ons daarvan? Leemte!!

Niklaas ·

Hierdie fop nuus verspreider met die somber stem is een van vele wat graag paniek wil saai. Hul motief is duister .Hoop hy word gevang en lelik beboet. Dan staak hierdie snert spoedig , want in hierdie tye hierdie ons nie dit nodig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.