Nege vas wat Portugese sakelui glo ontvoer

Van die verdagtes wat in hegtenis geneem is. (Foto: SAPD/Facebook)

Die polisie het nege mense, onder wie ʼn polisiebeampte, in hegtenis geneem wat glo by ʼn sindikaat betrokke is wat Portugese sakelui teen ʼn losprys ontvoer.

Die jongste ontvoering het Maandagaand in Bramley, Johannesburg, plaasgevind.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê ʼn 53-jarige Portugese sakeman is Dinsdag reeds deur die polisie se nasionale teen-ontvoering taakspan bevry. Hy is by ʼn huis in Kempton Park aangehou.

“Die man is intussen met sy familie herenig.”

Die polisie het vier mans en ʼn vrou by die huis aan die Oos-Rand aangekeer. Die ondersoekspan het later van nog ʼn huis in Hillbrow bewus geraak waar twee vroue en ʼn man ook vasgetrek is.

“Een van die verdagtes is ʼn polisiebeampte,” sê Mathe. “Hy is by sy werkplek in hegtenis geneem.”

Die polisie vermoed dat die sindikaat by minstens vyf ontvoerings betrokke was waar Portugese sakelui geteiken is.

“Die sindikaat sou ʼn losprys van die slagoffers se families eis, maar geen losprys is in die jongste ontvoeringsvoorval betaal nie,” sê sy.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê hoewel die polisie teleurgesteld is dat iemand uit sy eie geledere in hegtenis geneem is, is hy nogtans verheug dat die vermeende korrupte elemente uit die polisiediens verwyder word.

“Geen polisielid is bo die reg verhewe nie, ongeag hul rang. Polisiebeamptes wat aan die verkeerde kant van die wet is, word dienooreenkomstig hanteer. Ons sal voortgaan om skelm polisiebeamptes uit ons geledere te verwyder,” het hy gesê.

Die polisie se nasionale teen-ontvoering taakspan het sedert April altesame 70 verdagtes in Gauteng in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by ontvoerings waartydens lospryse geëis is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

“Ons sal voortgaan om skelm polisiebeamptes uit ons geledere te verwyder,” Wel dan praat die Kommissaris seker van die meerderheid in die polisie. Daar is so baie polisielede wat aangestel is, wat kriminele rekords teen hulle het. DIT gebeur omdat die werwings kriteria verander het. In die verlede moes ieder en elke persoon wat in die Staat wil werk, ‘n Sekerheidsklaring moes deurgaan voordat hy aangestel word.

Gerhard ·

Di, dit is baie waar en ek stem heeltemal saam, ek het self in die staat gewerk, many moons ago en dit was so. E het later in die staatsdiens in die HR afd gewerk en was vir geruime tyd in beheer van werwing. Die kriteria was so streng dat daar geen manier was dat ‘n persoon met kriminele rekord enigsins oorweeg sou word nie. Probleem is net, in vandag se tyd is die mense wat die Sekerheidsklarings doen ook so korrup, dat dit sonder twyfel ook is waar die pap op die grond val en hoe dit dan so gebeur dat mense met rekords aangestel word….nie te min, net my opinie

Lila ·

Hoe op aarde het jul die mense in die SAPS? Ek is ook ‘n Staatswerker en Ek word onderwerp aan allerhande ondersoeke en dokumente wat Ek jaarliks Moet indien. Hul wil tot weet wie was my agter Ouma Groot???? Asof Ek die skelm een is?????? Wel, dit is no surprise wie eintlik skelm is… #Eksemaarnet Almal wat ‘agtergeblewe’ is wil ‘n vinger in elke ‘pie’ he. Post 1994 of te not. Wat ‘n groot lagwekkende regering het ons nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.