Netcare-helikopter het getol, in lug opgebreek  

Kruise is op die ongelukstoneel geplaas. (Foto: Verskaf)

Die Netcare-helikopter wat verlede maand in KwaZulu-Natal neergestort en die lewe van vyf mense geëis het, het onbeheerbaar in die lug begin tol en in stukke gebreek voordat dit die grond getref en in vlamme uitgebars het.

Volgens die Burgerlugvaartowerheid (BLO) se voorlopige verslag oor die ongeluk wat op 21 Januarie plaasgevind het, was die Bell 430-helikopter ʼn uur en 30 minute in die lug en 220 m bokant die grond toe dit begin tol en in stukke gebreek het.

Die helikopter het op ʼn plaas langs die N3 by die Colenso- en Winterton-afrit neergestort en in vlamme uitgebars. Volgens die verslag was daar geen kans om die ongeluk te oorleef nie. Wrakstukke het oor ʼn radius van 500 m in die veld gesaai gelê.

Volgens ʼn boer en verskeie ooggetuies wat op die N3-snelweg gereis het, het die helikopter skielik begin tol en vinnig hoogte verloor. Hulle het ook gesien hoe die helikopter in stukke begin breek voordat dit neergestort het.

Daar was 12 suurstofsilinders in die helikopter en net een van die silinders het ontplof nadat die helikopter in vlamme uitgebars het, lui die verslag. Die BLO het nie in die voorlopige verslag die presiese oorsaak van die ongeluk bekend gemaak nie en kon nie bevestig wanneer sy finale verslag oor die ongeluk bekend sal wees nie.

Bo van links: Mark Stoxreiter en Sinjin Joshua Farrance. Onder van links): Mpho Xaba, dr. Curnick Siyabonga (Sia) Mahlangu en dr. Kgopotso Rudolph Mononyane. (Foto: Facebook)

Die helikopter het in Midrand opgestyg en was na Hillcrest in KwaZulu-Natal onderweg om ʼn uiters siek pasiënt na die Milpark-hospitaal in Johannesburg te vervoer.

Die ongeluk het die lewe geëis van dr. Kgopotso Rudolph Mononyane, ʼn narkotiseur, dr. Curnick Siyabonga (Sia) Mahlangu, ʼn kardiotorakale chirurg, en Mpho Xaba, ʼn spesialiasteaterverpleegster. Hulle was al drie aan die Netcare Milpark-hospitaal verbonde.

Sinjin Joshua Farrance, ʼn gevorderde lewensondersteuningsparamedikus by Netcare 911, en die vlieënier, Mark Stoxreiter, verbonde aan die National Airways Corporation, is ook in die ongeluk dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wielspore ·

Tragies dat mense sterf gedurende die uitvoering van hul pligte veral omdat hulle doel was om iemand anders te gaan help wat self in nood verkeer.
Hierdie mense is helde!

Fritz ·

Ek het gehoor die stert rotor was met die vorige vlug beskadig.

Korrelkop ·

Klink vir my soos een van die laers van die stert se dryfas wat opgepak het. Sal maar moet wag en sien wat BLO uitvind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.