NGV ‘bespotting’ wat ineen sal stort

(Argieffoto: pixabay)

Die parlement se aanvaarding van die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is maar net nog ʼn handeling in ʼn “pantomime” wat die regering skynbaar van voorneme is om tot die einde uit te voer.

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa (BLSA) en oud-Eskom-raadslid, sê hoewel die wetsontwerp duidelik onwerkbaar is en verreikende gevolge vir die land inhou, is sy bekommerd dat Suid-Afrikaners bloot net boedel oorgegee het en hul lot hieroor aanvaar het.

“Daar is geen inwerkingstellingsplan nie omdat inwerkingstelling onmoontlik is, en daar is geen befondsingsplan nie omdat befondsing onmoontlik is,” sê sy.

“Dit is egter asof die regering net voortgaan en hom daarvoor blind hou dat die hele bespotting uiteindelik in duie gaan stort.

“Nog erger is die gebrek aan optrede teen die aanvaarding van die wetsontwerp. Dit dui daarop dat baie mense eenvoudig net ophou omgee het. Almal weet die keiser dra geen klere nie, maar byna niemand beskou dit as merkwaardig nie.”

Die wetsontwerp is verlede week in die parlement goedgekeur, maar verskeie wetgewende prosesse is nog nodig om dit eindelik in werking te stel.

Verskeie politieke partye en organisasies het ook reeds aangedui dat hulle gereed is om alles in die stryd te werp teen die implementering van die stelsel – en dit sluit regstappe in.

Mavuso sê sou Suid-Afrikaners toelaat dat die NGV ingestel word, dit dalk die begin van die einde kan beteken.

“Die wêreld wat die NGV in die vooruitsig stel – waarin byna die hele private gesondheidsorgstelsel verbrokkel en met ʼn regeringskema vervang word – is onmoontlik,” sê sy.

“Vir enigiemand wat ʼn toekoms in die Suid-Afrikaanse gesondheidstelsel oorweeg, hetsy as ʼn werker daarin, ʼn belegger, of inderdaad enigiemand wat bekommerd is oor hul toekomstige toegang tot gesondheidsorg, is dit ʼn knou vir vertroue.”

Busisiwe Mavuso. (Foto: Business Leadership South Africa)

Volgens Mavuso is die antwoord op universele gesondheidsorg nie dat dit alleenlik in die staat se hande geplaas word nie, maar eerder dat die private en openbare sektor bymekaar kom en “albei kante hul sterk punte na die tafel toe bring”.

“Na my mening is die georganiseerde sakesektor ten gunste van universele gesondheidsorg, maar ons het ʼn werkbare plan nodig om dit te verwesenlik,” sê sy.

“Die frustrasie is egter dat werkbaarheid nie deel van die regering se denkwyse is nie.”

Mavuso voer aan dat die regering slegs die NGV probeer deurvoer om ʼn belangrik deel van sy kiesers tevrede te stel. Sodra dit realiteit word, sit Suid-Afrika egter in ʼn groot penarie.

“Die probleem is dat sodra dit as wet vervat is, sal ons ʼn pynlike tydperk betree wat nie die gesondheidstelsel of die regering sal baat nie.

“Die nasionale tesourie sal gedwing word om ʼn manier te probeer vind om dit te finansier, ten spyte van die feit dat daar talle ander eise aan hom gestel word vir befondsing waaraan nie voldoen sal kan word nie.

“Die gesondheidstelsel sal gedwing word om dit te implementeer en die vereiste rade en komitees op die been te bring, ten spyte van die feit dat sy bestaande fasiliteite dringend aandag nodig het en die meeste van hulle nie aan basiese standaarde voldoen nie,” sê sy.

“Dit sal vernietigend wees vir die regering se funksionering, en boonop gaan daar onvermydelik ʼn reeks hofsake wees namate mense en sakeondernemings wat geraak word, stappe doen om hul regte te beskerm.”

Die wetsontwerp moet nou deur die Nasionale Raad van Provinsies en uiteindelik die presidensie gaan om afgeteken te word.

Mavuso hoop dat dit iewers deur hierdie prosesse “ʼn dosis realisme” sal kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

GWS ·

Die NGV is bloot nie werkbaar nie. Die staat moet ten eerste sy staatsgesondheidsorg laat werk en nie eers dít werk nie. Nou wil die staat ons in nog ‘n groter gemors dompel!

KatjieDeKat ·

Dit verstom my ook dat daar nie n grootskaalse publieke oproer is hieroor nie. Besef mense dan nie dat hierdie die verskil tussen lewe en dood vir hul kinders en kleinkinders gaan wees nie?? Waar is die stemme vd mediese fondse???

Republikein in die Wes Kaap ·

Na 30 jaar is ons futloos. Die fight is uit ons. Ons het oorgegee. Nou aanvaar ons ons lot. Soos jy sê, dis lewe en dood. Al wat opposisie partye doen is om te smeek vir stemme om meer kaders na die parlement te stuur.

Di ·

Die “meerderheid” in die land is gelukkig oor hierdie idee DAAROM het ons eintlik geen invloed op die finale besluit nie

domheks ·

Busisiwe Mavuso dit lyk my jy is die enigste mens wat verstand het.
Baie dankie daarvoor! Want die regering is bewusteloos!

JvR ·

Dalk is dit die plan om beter “mediese sorg” van almal te ontneem. Ons weet nie hoe redeneer die kaders se base nie.

skurweberg ·

Hoop net dat daar ‘n perk op die aantal kinders wat ‘n vrou gratis in die lewe mag bring.

Wit Leeu ·

Al die ondoenbare leuens net om ANC stemme te kry. En al die ANC idiote op staat glo dit ! Benoude katte maak benoude spronge…………………….

Marina ·

Kyk, die deurslag ANC ondersteuner is nou nie juis baie intelligent nie! Die blote feit dat die sirkus nog voortgaan om SA te lei, bevestig die lae intelligensie vlakke. “Our people” is seker onder die indruk dat hulle nou almal in privaat hospitale behandel gaan word? As hulle maar net weet dat die skrif reeds aan die muur is: Hierdie gaan maar net die vlg geldkoffer wees soos SAA en Eskom.

etienne ·

Die NGV sal n totale gemors wees, dit sal op die einde van die dag ook rasgedrewe wees, en die belastingbetalers gaan swaar trek, om nie eens te noem van die korrupsie nie. Die middel en laer klas se lewe is in gevaar, kyk maar hoe dit gaan in die staatsbeheerde hospitale. ons moet nou hande vat en bid dat die ANC in 2024 verslaan word, anders is dit die einde van SA.

annie ·

Ons het ‘n oormassa bevolking waarvan uitlanders wat op ons teer. Die regering gee maar net telkens skiet. Nog meer buitelanders gaan ons hospitale vol kom lê want in hulle land is g’n voortuitgang nie. Die DA onder Zille het Zimbabwe se burgers genooi na Kaapland want hulle was glo flukser werkers as ons swart burgers. Hoekom is sy tjorpstil?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.