NGV gaan ‘Eskom van gesondheidsorg’ wees

Dr. Joe Phaahla (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Die regering is een stap nader aan sy planne vir universele gesondheidsorg, maar dit blyk die burgerlike samelewing en die private sektor gaan dit nie sommer goedmoeds aanvaar nie en eerder alles in die stryd werp in teenkanting daarvan.

Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is vandeesweek in die parlement goedgekeur. Dit gaan nou na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) vir stemming, waarna openbare sittings in elke provinsie gehou moet word voor dit na pres. Cyril Ramaphosa gestuur word vir bekragtiging.

Die wetsontwerp is die eerste stuk wetgewing in die proses om die NGV in te stel. Dit bevat ingrypende hervormings om die regering se ambisies te verwesenlik vir die skep van ʼn “billike en regverdige gesondheidstelsel” waarvolgens “al die mense van Suid-Afrika toegang het tot dieselfde kliniek of hospitaal (hetsy staat of privaat), nader aan waar hulle woon of werk sonder om te betaal”.

“Die regering sal betaal,” het dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, gesê in reaksie op die parlement se goedkeuring van die NGV-wetsontwerp. Dit is volgens hom een van die mees revolusionêre stukke wetgewing sedert demokrasiewording.

“Die demokratiese regering het sedert 1994 baie gedoen en bereik. Ons het ʼn gefragmenteerde rasbepaalde gesondheidstelsel geërf waaruit ons ʼn nasionale demokratiese en gelyketoegang-gesondheidstelsel moes bou.” Volgens Phaahla het toenemende ongelykheid tot gevolg dat net sowat 16% van die bevolking die private sektor kan gebruik en die res van die staat afhanklik is.

“Dit het gelei tot ʼn situasie waar die openbare gesondheidstelsel onder geweldige druk is terwyl die private gesondheidsorgstelsel sy kliënte oorbedien. Dit lei tot steeds stygende koste vir die lede van mediese skemas terwyl die beleggers groot dividende geniet, insluitend van die JSE.”

Wat behels die NGV?

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kenny Eliason/Unsplash)

“Die NGV is ʼn fonds waaruit die regering gesondheidsorgdienste vir Suid-Afrikaners sal koop by gesondheidsorgverskaffers in die openbare en private sektor,” sê Phaahla. “Dit is ʼn fonds om vir gesondheidsorg te betaal, en almal van ons sal tot hierdie fonds bydra deur belasting en spesiale bydraes in ooreenstemming met dit wat ons kan bekostig.

“Dit sal verseker dat almal geregtig is op gratis gesondheidsorg wanneer hulle dit nodig het, en daar sal geen gelde by die fasiliteit gehef word nie omdat die fonds die koste van sorg sal dek.”

Volgens Phaahla sal die NGV kontrakte met private en openbare gesondheidsfasiliteite, asook private gesondheidspraktisyns, aangaan om dienste te lewer. “Dit sal die koste van die lewering van gesondheidsorg redelik hou, terwyl dit verseker dat gesondheidsorgverskaffers ʼn billike tarief vir hul dienste ontvang. Enigiemand sal enige NGV-gekontrakteerde verskaffer in hul omgewing kan kies vir gereelde gesondheidsbehoeftes op die regering se onkoste.”

Stortvloed kritiek

Argieffoto (Unsplash)

Die NGV-wetsontwerp het ʼn stortvloed van kritiek van die private sektor, burgerregte-organisasies, opposisiepartye en belanghebbende organisasies veroorsaak. Daar is veral kommer oor die beperkings op mediese skemas oor die voordele wat hulle mag voorsien, die finansiering van die NGV, ʼn verlies aan vaardighede en die gehalte van gesondheidsorg indien die NGV in sy huidige vorm deurgevoer word.

Business Leadership South Africa (BLSA), die Health Funders Association (HFA), die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) en Discovery Health, Suid-Afrika se grootste mediese fonds, is van die belanghebbende partye wat die wetsontwerp in sy huidige vorm verwerp het.

Selfs die parlement se regsadviseurs het gesê die NGV-wetsontwerp se vae samestelling laat baie vrae en het gewaarsku teen moontlike grondwetlike slaggate.

Talle partye het reeds aangedui dat hulle die howe sal nader oor die NGV. Van die grootste bekommernisse is dat dit onbekostigbaar en onuitvoerbaar gaan wees, vatbaar vir korrupsie sal wees en gedoem is om te misluk gegewe die stand van die openbare gesondheidsorgstelsel.

Solidariteit, AfriForum en Sakeliga is van die partye wat gesê hulle sal die wetgewing op alle moontlike vlakke beveg – ook in die howe.

Een van die wetsontwerp se mees omstrede aspekte is sy bepalings oor mediese skemas, wat wanneer die NGV ten volle ingestel is, slegs toegelaat sal word om “komplementêre” dekking te verskaf vir dienste wat nie deur die fonds gedek word nie.

‘Eskom van gesondheidsorg’

Johan Biermann

Johan Biermann, ʼn onafhanklike beleidsnavorser, meen die beste manier om gesondheidsorg aan almal te verskaf, is om voort te bou op dit wat werk, naamlik die private gesondheidsorgstelsel, en om ontslae te raak van dit wat nie werk nie, naamlik die openbare gesondheidsorgstelsel.

Biermann is die outeur van South Africa’s Health Care Under Threat wat deur die Vryemarkstigting gepubliseer is. Hy wys daarop dat diegene wat vir private sorg betaal, ook deur hul belasting vir al die gesondheidsorg in die openbare gesondheidsorgstelsel betaal.

“Wêreldwyd beteken ‘gratis gesondheidsorg’ ook geen gesondheidsorg nie. Nog erger, ‘gratis’ gesondheidsorg is duur: sommige pasiënte betaal met hul lewe omdat die nodige sorg nie op die goedgekeurde behandelingslys is nie.”

Die meeste lande het volgens Biermann ʼn vorm van nasionale gesondheidsversekering. Ten spyte van die gewildheid daarvan, sukkel alle nasionale gesondheidstelsels eindeloos met stygende koste, begrotingsbeperkings en tekorte aan dokters en verpleegsters.

“Hul uitstaande kenmerk is dat duisende pasiënte maande wag vir roetinesorg en selfs jare vir gespesialiseerde mediese behandelings.”

Om geld van die private na die openbare gesondheidsorgstelsel te herlei, sal nie gehaltegesondheidsorg waarborg vir diegene wat dit nie kan bekostig nie, meen Biermann. Miljarde rande word benodig om die openbare gesondheidsorgstelsel se infrastruktuur te herstel, insluitend die herbou en opknapping van hospitale en klinieke en vir nuwe mediese tegnologie en diagnostiese toerusting.

“Stel jou voor ʼn gesondheidsorgstelsel wat soos Eskom bestuur word. Eskom het geen mededinging nie, maar kan nie die land van betroubare elektrisiteit voorsien nie. Gaan die NGV die ‘Eskom van gesondheidsorg’ word?

“Sal dit beurtgesondheid (health shedding) by die lys van regeringsmislukkings voeg? Die NGV sal private gesondheidsorg verminder, maar bied geen waarborg dat openbare gesondheidsorg sal verbeter nie.”

Biermann meen Suid-Afrika se private gesondheidsorgstelsel, wat sorg lewer gelykstaande aan die beste ter wêreld, is die pad na die verskaffing van gesondheidsorg vir almal.

“Die beste manier om gesondheidsorg te verskaf aan mense wat dit nie kan bekostig nie, is om dit by private dokters te koop. Dit sal die regering onthef van die bou, instandhouding en verskaffing van personeel vir hospitale en klinieke. Hy kan dan sy gesondheidsbegroting gebruik om behoeftiges te finansier deur middel van slimkaarte of bydraes namens hulle tot mediese fondse.

“Die regering moet wette, regulasies en belasting uitskakel wat ekonomiese aktiwiteit, werkskepping en die produksie van goedere en dienste beperk. Slegs dit kan die belofte van gehaltegesondheidsorg vir almal vervul.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

OU SAAR ·

Wonder wanneer gaan die regering nou REGTIG begin omgee vir hulle landsburgers en ophou om almal ñ rat voor die oë te draai net om stemme te werf…

Hannes ·

Ek verstaan nie waarom meeste mense opgewonde is oor die NGV nie. Kans is goed dat mense wat aan ‘n mediese fonds behoort ook gaan “bydra deur belasting en spesiale bydraes in ooreenstemming met dit wat ons kan bekostig.”
Die ANC gaan weer diè 20% wat Suid Afrika finansieel befonds, belas om hulle stem basis te versterk en bevoordeel.
Ons weet wat beloop mediese fonds bydrae, hier kom ‘n onding

anko ·

Gesondheid kan tans nie die hospitale ens onderhou nie, hoe de m gaan hulle die privaat hospitale betaal. Hierdie besigheid was nie eens met dokters, privaat hospitale ens bespreek nie. Dit word net aanvaar dat die belastingbetalers gaan voorsien. Die koei is besig om op te droog. Mediese fondse is ‘n duur affêre, sonder dit kan jy nie ordentlike sorg kry nie. Alles ruk hand-uit. Die land verloor ‘n klomp SARS inkomste agv swak of geen besluite. Dis alles verkiesingfoefies wat uitdop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.